Musiek en woorde het my veilige plek geword waar ek kon asem skep, hoor en voel hoe ander hulself uitleef en ook formuleer hoe ek voel en hoe ek myself wil uitleef.
Skryf en sing het heelwat natuurlik gekom. My pa het gedig toe hy jonger was en my boetie (wie ek die Skim noem) het die skryfbol aan die rol gesit, hy het my geinspireer. As sy kleinste, nuuskierigste sussie het ek altyd 'n punt gemaak om sy kamer in ons huis op Hartbeespoort te besoek (as hy nie daar was nie) om liefdesbriewe tussen hom en sy nooi van destyds te lees. Ek was so 11 of 12 jaar oud gewees (...Sorry Skim. It happened).
My broer en sy meisie het vir mekaar heen en weer geskryf en gedig in hulle soeke na hulself, mekaar, en betekenis... ek het daardeur geleer dat ek nog eintlik baie het om te leer en dat mens allerhande gedagtes op verskillende, kreatiewe maniere kan uitbeeld (...dat alles nie so swart en wit is nie). Maar na ek heelwat skuldig begin voel het, het ek maar die briewe lees gelos en net sy plate gesit en luister wat hy by die biblioteek uitgeneem het.
Ek het kinderstories en liedjies van daardie ouderdom af begin skryf en so nou en dan ook vir my boetie gegee om te lees en daarop terugvoer te gee. Hy was meeste van die tyd beïndruk en het dit vir my moed gegee. Op HS was my taalonderwysers baie goed vir my en het hulle op hulle manier my ondersteun en bemoedig. My Afrikaanse onderwyser, Mnr. Bosman, het van my gedigte gelees en altyd met opbouende terugvoer geantwoord. Toe ek 16 was is een van my gedigte gepubliseer deur die 'Poetry Institute of Africa' te danke aan my skoolvriendin, Belinda, wat aan my gekarring het om daarvoor in te skryf. Dit is dalk nie so 'n groot 'wen' gewees daardie tyd nie, maar vir my was dit groot.
Na skool en 'n bietjie rondreis het ek begin werk by 'n maatskappy waar ek eintlik so gefokus was om mense gelukkig te hou, dat ek in die proses myself en my stem verloor het. Ek het 'n paar duur lesse geleer daar en tot die besef gekom dat ons net soveel tyd hier het en dat ek dit nie verder wil mors op dinge wat meestal net fokus om die geldmasjien van hierdie wêreld te voer nie. Dit kan tog nie die somtotaal van ons lewens wees nie?
'n Vertrapping van mense in die gejaag na rand en sent?...
Dit maak nie vir my sin nie.
Tel al die klein oomblikke en minute saam en dit is gelyk aan = een lewe. 'Forever is made up of nows' soos Emily Dickinson dit gestel het. Ek het toe besluit om terug te keer na dit wat ek so goed ken, my veilige plek. Ek het geweet 'n kosbaarheid lê soos 'n oop pad voor my, maar ek het onseker gevoel en nie geweet hoe om by dit uit te kom nie.
Stilstaan, stop en reflekteer het my laat besef dat ek na my ongelukkigheid van 'n ander 'angle' af moet kyk. In plaas daarvan om myself te sien as 'n slagoffer, beroof van geleentheid, in die lig van sonder...moes ek fyner en dieper kyk na dit wat ek wel is en wat ek wel het... en dit is nie noodwendig materiele dinge of posisie nie. Al is dit min, al voel dit krom en skeef en onseker. Daar lê bruikbare stukkies tussen die gemors waar ek vir te lank net 'n hoop rommel raakgesien het...
Ek het baie tyd spandeer aan huil. In my kar. Terwyl ek in Pretoria se verkeer vassit oppad werk toe en terug. Vir weke, eintlik maande. Eendag het hierdie liedjie gespeel op die kar radio:
"Could a spark of Your love light a fire in me
Just a spark warm my cold heart
It's the living that breathe
When I breathe in hope
And breathe in grace
And breathe in God
Then I'll breathe out peace
Breathe out justice
Breathe out love
Oh this little light's gonna shine
With just a spark light a fire
Just a spark
Could a spark of Your love
light the whole church on fire
When we care for our neighbor
More than we care for style..."
Ek het ook in daardie tyd hierdie raakgelees:
"It only takes a spark to set off a forest fire." MSG James 3:6
When we care for our neighbor
More than we care for style..."
- Spark/The City Harmonic
"It only takes a spark to set off a forest fire." MSG James 3:6
Die regte liedjie, die regte woorde het op die regte tyd my inspireer. Hierdie klein, eenvoudige gedagte het NasieInspirasie veroorsaak. 'n Kunstenaar se skepping, iewers aan die anderkant van die wêreld, het my bemoedig en gedra in 'n moeilike tyd. Wat is die verskil tussen my en hom? Hoe weet ek een van my skeppings kan nie ook iemand anders uit 'n donker gat uit lei en hoop gee nie? Ek kan iets wat ek verniet gekry het gebruik om myself uit te leef en iemand anders se hart op te lig - sou dit inspireer, kan daardie persoon weer dit wat hy gratis ontvang het gebruik om iemand anders se lewe kleur te gee...en so versprei dit.
Is ons maar nie op die ou end van die dag hier vir mekaar nie?
My hartseer is verruil met vreugde en my huiltyd met sing en skryf. Later het vriende en vrywilligers saam begin reis en hulself saam met my kreatief begin uitleef op Nasie en op so manier gewoeker om eie stem te vind.
Al is dit krom en skeef en vol foute. Al is dit net stukkies van iets wat eendag gebreek het...het ons saam blog onderhoude/potgooie gepubliseer, film premiers en album bekendstellings bygewoon, 17 koerantuitgawes gepubliseer en uitgegee, ons eie digbundel en album bekendgestel met die hoop om iewers 'n sleepvoet dromer te inspireer.
9 Jaar later en in hierdie waansinnige COVIDstorm, het die tyd vir ons span ook aangebreek om te stop, om stil te wees en om hierdie situasie waarin ons onself vandag bevind van 'n dieper en fyner hoek af te bekyk.
"Hoe lyk ons prioriteite?
Wat is werklik nou belangrik en wat nie?
Waar los ons en waar vat ons?..."
En in die lig hiervan het ons besluit om NasieInspirasie toe te maak vir 'n onbepaalde tyd...
maar graag los ons hierdie eenvoudige boodskap
aan ons getroue ondersteuners en lesers:
"Sleepvoet Dromer,
Jy is die inspirasie in nasieinspirasie
Jy is die verandering en die toekoms
Gebruik net wat jy het, net daar waar jy is,
Dit is genoeg en jy is genoeg."
'n klein vonk kan'n groot woud laat brand
#vatvlam #nasieinspirasie
Redigering: @mary_contrary_mary
Opmerkings
Plaas 'n opmerking