photo: Annie Spratt Vir iemand wat nie juis lees nie, hou ek vreemd genoeg baie van woorde. So lê ek gisteraand vir ure wakker en heeltyd dink ek aan woorde. Om mee te begin het ek gedink as ek vir myself 'n slaapliedjie sing (in my kop, want my man lê en snork diep hier langs my...), raak ek dalk aan die slaap. Ek begin met Lamtietie-Damtietie. Kan nie die Lamtietie-Damtietie deel onthou nie, so vir eers kan ek net onthou vanaf 'luister hoe fluister die wind deur die boompetjies' en vir seker 'n goeie halfuur draai die liedjie deur my kop en probeer ek allerhande woorde insit en deuntjies maak om die hele ding te sing. Raak baie vies vir myself, eerstens omdat ek nie kan slaap nie en tweedens, omdat my ma dit destyds vir my gesing het en ek dit baie dikwels vir my tweetjies gesing het, maar ek is nou al oor die sestig en die seuns reeds altwee lummels van oor die dertig. Toe ek besef die eerste stuk van Lamtietie-Damtietie is vir eers geblok, slaan ek oor...