Slaan oor na hoofinhoud

Woorde in die Nag



photo: Annie Spratt


Vir iemand wat nie juis lees nie, hou ek vreemd genoeg baie van woorde. So lê ek gisteraand vir ure wakker en heeltyd dink ek aan woorde. Om mee te begin het ek gedink as ek vir myself 'n slaapliedjie sing (in my kop, want my man lê en snork diep hier langs my...), raak ek dalk aan die slaap.

Ek begin met Lamtietie-Damtietie. Kan nie die Lamtietie-Damtietie deel onthou nie, so vir eers kan ek net onthou vanaf 'luister hoe fluister die wind deur die boompetjies' en vir seker 'n goeie halfuur draai die liedjie deur my kop en probeer ek allerhande woorde insit en deuntjies maak om die hele ding te sing. Raak baie vies vir myself, eerstens omdat ek nie kan slaap nie en tweedens, omdat my ma dit destyds vir my gesing het en ek dit baie dikwels vir my tweetjies gesing het, maar ek is nou al oor die sestig en die seuns reeds altwee lummels van oor die dertig.

Toe ek besef die eerste stuk van Lamtietie-Damtietie is vir eers geblok, slaan ek oor na Slaap Pikaninie. En dadelik dink ek hoe arme Boris Johnson nou die dag in die media oor die kole getrek is omdat hy gewaag het om die woord 'pikaninie' in 'n koerantartikel te gebruik. Toe vervies ek my eers vir die "Politically Correct" twak wat die mensdom hier in Engeland so aan die neus lei.

Maar ek woed voort. Slaan oor na Schlafe mein Prinzchen schlaf ein wat ons in die laerskool in die koor gesing het. Dié gaan goed vir so die eerste 4 reëls en verder is dit toe net mm mm mm mm mm mm mmmmmmm... Die wysie is nog daar, maar die woorde is totaal weg. Ek wou nog begin met Tula tula tu tula baba tula sana, maar dieselfde ding – die deuntjie is nog daar, maar die woorde lankal nie meer nie.

Toe begin ek wonder oor slaapliedjies in die algemeen. Ek wonder of jong ma's nog vir hulle kinders slaapliedjies sing. Ek wonder wat sing hulle deesdae? Met die wêreld wat nou so vol geraas is, kan ek half nie dink dat die jongklomp nog die ou liedjies onthou nie.

En so in die donker nag, met my toe oë, kyk ek af na die baba in my arms en sing vir Lamtietie-Damtietie sonder 'n probleem van begin tot einde. En ek dink hoe vol deernis die woorde is en hoe vol deernis mens voel as jy na daai ogies kyk wat stadig toeval soos die slaap oorvat.

Met Lamtietie-Damtietie weer OK en my kop nou wawyd wakker, begin ek dink aan spesifieke woorde.

Die eerste woord wat my besig hou is 'vark'. Die woord klink soos 'n vark. Sê die woord en dink aan hoe 'n vark lyk en klink en jy sien hom daar staan - van pienk snoet tot krul stert. Padvark – goeie uitskelwoord. Vlakvark - stert in die lug.

En 'gaap'. Ons Afrikaners gaap so met oorgawe. Die woord beskryf die hele aksie: Die gaap begin met die 'g' en dan rek jou mond so wyd as moontlik oop, tot jou oë toeknyp en jou ore oopslaan en jou hand vanself op beweeg sodat jou medemens nie al jou stopsels hoef te sien nie. Net om die woord te sê, is genoeg om 'n gaap te insinueer. (Ek het so pas gegaap...) Dankie tog ons hoef nie te 'Yawn' nie. Die woord 'Yawn' beskryf die hele verskil tussen ons Afrikaners en die Engelse. 'Yawn' klink so na 'n erg onderdrukte gaap. 'n 'Yawn' bereik nooit die oë nie. Jou mond bly in 'n 'ô'. Uptight. 


'n 'Yawn' klink na 'n "Politically Correct" Gaap.

'Malbaaroor'. Ek weet my ma het die een of ander kraakbeen in die kos 'n malbaaroor genoem. Ek het dit vanoggend probeer Google, maar dit lewer niks op nie. Ek wonder of my ma die woord opgemaak het en waar sou sy daaraan gekom het...?

En so het dit aangegaan vir ure totdat ek uiteindelik êrens na twee uiteindelik ingedommel het.


Geskryf deur Annettte Garside
(Annette is 'n Suid-Afrikaner woonagtig in Darlington, Engeland).
(Luister gerus na Lamtietie Damtietie soos gesing deur Marthie Nel Hauptfleisch: https://youtu.be/4Ke671iURhw) #womanonfire

'n klein vonk kan 'n groot woud laat brand #nasieinspirasie

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '...

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met ...

Droom Soos 'n Kind

Vir die Nasie-tema: SOOS 'N KIND, het ek nogal baie te sê! Ek het, 'after all', 4 kinders. Jip 4. Bid asb vir my. Haha...dis wat 'n oomie nou die dag in 'Pick 'n Pay' se parkering vir my ges ê  het toe my jongste nie in sy kar-stoeltjie wou klim nie en sy ander boeties oral om die kar bedrywig is. Sussie rustig op haar foontjie, rol net haar oë vir haar boeties. Hy het geglimlag en gesê "Ek bid vir jou". Ek het gegiggel en gesê: "Dankie. Dis wat my aan die gang hou, almal wat vir my bid." Grappies op 'n stokkie.  SOOS 'N KIND  laat my dadelik dink aan Heidi: kaalvoet, sorgeloos en huppelend gelukkig! Ek het myself altyd vereenselwig met haar en wou soos sy wees. Ek onthou my Juffrou se boodskap in my handtekening boekie van Graad 7 "Bly altyd so vriendelik en lewenslustig"....... En dan besluit jy plegtig: maar natuurlik sal ek, ek belowe Juffrou!  Dis mos maklik om net te wees wie jy is. Maar dan gebeur die lewe...