Van vanoggend vroeg af, maal my gedagtes rondom die onderwerp, geloof…. Wàt is geloof dan werklik?
Hebreers 11:1 sê, ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak’…
Dit laat my egter verder dink - oor my eie lewe, wanneer ek myself die vraag vra, ‘hòè is MY geloof?’ Ek sit en bestudeer my eie lewe in retrospek en besef onmiddelik dat my geloof eintlik maar baie soos diè van ‘n kind is… En dis dan wat ek myself afvra of dit nie maar eintlik is hoe dit veronderstel is om te wees nie? 'Just hear me out…'
‘n Kind glo so maklik dit wat jy vir hom of haar vertel as die waarheid. ‘n Kind glo aan kersvader, die tandmuis, feë verhale en en en. Maar dis alles die fiksionele sy van glo. Vat jy dit egter so bietjie verder, besef jy gou; ‘n kind GLO. Hy glò dat sy pa die sterkste is en dat sy ma enige eina en hartseer kan genees met ‘n soen. Hy glò sy pa kan enigeiets regmaak wat stukkend is en sy ma kan die lekkerste ‘nannas’ in die hele wye wêreld maak. ‘n Kind glo onvoorwaardelik, net soos wat hul onvoorwaardelik lief het. Jy gaan hom nie anders vertel nie, want hy wéét sy ouers kan. Hy GLO dit en hy twyfel hoegenaamd nie daarin nie…
En ja, ek weet dis omrede kinders in ‘n beskermde omgewing groot raak waar hul ouers hul sover moontlik weerhou van al die negatiewe dinge van die lewe; ten minste tot hul op ‘n ouderdom is waar hul dit sal verstaan en beter kan verwerk. Maar tog... Somtyds wonder ek of dit nie is hoe geloof eintlik veronderstel is om te wees nie - om soos ‘n kind te glo. Daardie kinderlike onskuld in hul oë en dade…
God is ons hemelse Pappa en òns is Sy kinders. Hoekom glo ons dan nie, net soos in ons kinderdae, dat ons God, ons hemelse Pappa; àlles kan doen en enige seer en eina kan wegvat nie? Hoekom glo ons nie dat Hy ons, nes enige ouer, sal beskerm teen die negatiewe kant van die wêreld tot en met ons oud genoeg is om dit te verstaan en te kan verwerk nie? Hoekom weet ons nie dat wanneer ons dan blootgestel word aan iets, dit is omdat God wèèt ons is sterk en oud genoeg om dit te kan hanteer nie?
Dis baie praat oor iets wat ons almal eintlik reeds weet. Maar hier is wat in my kop rond dwaal…
Ek voel nou al vir ‘n geruime tyd lank baie sterk hieroor en deel dit graag met julle. Baie mense dink ek is naïef; dat ek kies om nie die harde feite van die lewe raak te sien nie. Dalk is dit so. Maar èk sien dit in ‘n ander lig. Ek sien dit in die lig van Geloof. Waarvan praat sy, wonder jy?
Wel, die saak staan so. Ja, sekere omstandighede in my lewe, in jou lewe, in almal van ons se lewens; is nie noodwendig ideaal nie. Daar is dinge wat mens bekommerd en angstig maak as jy na die harde feite daarvan kyk. En tog, tog in my hart, bly ek rustig… ek vra myself af, hoekom? Is ek net naïef? Of kies ek werklik net om nie raak te sien wat my dalk kan ontstel nie? Maar dan sê God vir my, ‘Onthou, Ek is in beheer van alle aspekte van jou lewe. Hoekom werk jy jouself op oor iets waaraan jy inelkgeval geen beheer oor het nie? Hoekom maak jy jouself siels-ongelukkig met iets en bring jy nie die beste in jouself na vore nie? Bring jy jou kant, en los dit dan verder in My bekwame hande; EK sal voorsien. Vertrou net op My.’
En dit bring weer die gedagte by my op van vertroue… Wat is vertroue dan werklik? As geloof die vaste versekering is dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur? Vertroue is om dit te GLO. En te wéét dat dit sal gebeur. Markus 11:24 – Alles wat jy in die gebed vra, GLO dat jy dit sal ontvang, en jy SAL dit kry.
So nou sit ek met die vraag… As ek vir iets bid; vir God iets vra, dan moet ek met my hele hart glo en vertrou dat God dit sal voorsien (mits dit Sy wil is natuurlik). Nou hoekom bid ons aanhoudend vir dieselfde ding oor en oor? Waar is my vertroue en geloof dan? Wil God nie juis hê dat, wanneer ons iets by Sy voete neersit, ons dit juis dan daar sal los en Hom sal vertrou daarmee dat Hy ons gebede sal verhoor en dat ons Hom die nodige tyd sal gee om dit te doen?
Dit laat my so dink aan die staaltjie van die dogtertjie wie se pop se arm afgebreek het. Sy het na haar pa toe gehardloop, wat in sy studeerkamer gesit het met die koerant voor hom. En sy sê, ‘Pappa, sal jy asb my pop se arm regmaak? Hy het per ongeluk afgebreek’. Haar pa het opgekyk en gesê, ‘ja my kind, ek sal dit met liefde doen. Sit hom vir my hier op die tafel neer, dan sal ek dit nou-nou vir jou doen.’ Sy het so gemaak en uitgegaan. Na vyf minute was sy terug en vra hom, ‘Pappa, het jy al my poppie se arm reggemaak?’ Waarop hy antwoord, ‘Nee my skat, nog nie. Maar Pappa sal dit nou-nou doen, ek is net gou besig.’ Na nog vyf minute herhaal die storie homself en so gebeur dit nog een of twee keer. Met diè gryp die dogtertjie die pop van die tafel af en sê kwaad vir haar pa,‘Maar Pappa!! Hoekom maak jy nie my pop se arm reg nie! Ek het jou dan so mooi gevra!’ Hy kyk haar stip in die oë en sê sag, ‘Maar my skat, jy gee my nie tyd om hom reg te maak nie. Jy is elke vyf minute hier om te kom vra. As jy my net kans gee om klaar te maak met dit waarmee ek besig is, sal ek gouer aandag aan jou pop kan gee…’
Is ons nie ook dikwels so met God nie? Ons vra Hom om iets reg te maak, maar steeds kom vra ons nog elke dag weer en weer dieselfde ding oor en oor. Waar pas Markus 11:24 dan in ons lewens? Is ons nie veronderstel om dit wat ons vra, voor God te lê en dan verder te vertrou nie? As ons die heeltyd dieselfde ding vra, is dit nie ‘n teken dat daar so bietjie van ‘n twyfeling in ons is nie?
Hoekom GLO ons nie dat God dit wat ons vra, vir ons sal gee, of selfs beter as dit wat ons vra, sal gee nie? As ons GLO, sal ons mos nie twyfel nie? Hoekom vra ons dan aanhoudend vir dieselfde goed oor en oor as ons nie onsekerheid het dat dit wel sal gebeur nie? Ek praat natuurlik met myself ook nou. Dis tyd dat ons dit wat ons vir God gee, by Sy voete los, en Hom die tyd gee om dit reg te maak. Sonder om Hom die heeltyd te herinner aan iets waarvan Hy beslis nie vergeet het nie… Dis tyd dat ons in volle geloof sal begin glo en vertrou…
Hierdie gedagte het my tot die eenvoudige besef laat kom; ek moet ophou om elke dag vir dieselfde goed oor en oor te bid. Bid eenmaal, en vertrou dan verder met volle geloof dat die Here sal voorsien. Daar is soveel dinge waarvoor ons moet en kan bid… Hoekom nie eerder elke dag ‘n nuwe behoefte lysie maak en vir nuwe dinge of persone bid nie? Iemand anders het dalk ook 'n gebedjie nodig, maar dan hak ons vas by goed wat jy reeds neergelê het by ons Pappa se voete en jy kyk die ander nood mis?
En dis waar ek die twee bymekaar wil bring… Dis hier waar èk die geloof van ‘n kind wil hê… waar ek altyd sal glo dat my Pappa SAL voorsien. Dat ek onvoorwaardelik sal glo en dat ek nie sal twyfel nie. EN dat ek dit op my lewe sal toepas; vandag, môre en elke dag van my bestaan. Dat ek geen vorm van twyfel sal toon nie, want twyfel is die satan se vashou plek. En ek, ek sal die satan nie sy sin gee deur te twyfel nie. Ek sal glo in die beloftes wat ons hemelse Pappa in Sy Woord gemaak het. En ek sal geloof hê daarin, geloof soos ‘n kind. Want ek is mos ‘n kind – Gòd se kind!
Kopiereg: Yolandi Claassens
Hierdie gedagte het my tot die eenvoudige besef laat kom; ek moet ophou om elke dag vir dieselfde goed oor en oor te bid. Bid eenmaal, en vertrou dan verder met volle geloof dat die Here sal voorsien. Daar is soveel dinge waarvoor ons moet en kan bid… Hoekom nie eerder elke dag ‘n nuwe behoefte lysie maak en vir nuwe dinge of persone bid nie? Iemand anders het dalk ook 'n gebedjie nodig, maar dan hak ons vas by goed wat jy reeds neergelê het by ons Pappa se voete en jy kyk die ander nood mis?
En dis waar ek die twee bymekaar wil bring… Dis hier waar èk die geloof van ‘n kind wil hê… waar ek altyd sal glo dat my Pappa SAL voorsien. Dat ek onvoorwaardelik sal glo en dat ek nie sal twyfel nie. EN dat ek dit op my lewe sal toepas; vandag, môre en elke dag van my bestaan. Dat ek geen vorm van twyfel sal toon nie, want twyfel is die satan se vashou plek. En ek, ek sal die satan nie sy sin gee deur te twyfel nie. Ek sal glo in die beloftes wat ons hemelse Pappa in Sy Woord gemaak het. En ek sal geloof hê daarin, geloof soos ‘n kind. Want ek is mos ‘n kind – Gòd se kind!
Kopiereg: Yolandi Claassens
Opmerkings
Plaas 'n opmerking