Niemand maak kos soos my ma….
Soos ek staan voor die stoof, soos elke aand, met ‘n meisiekind wat agter my rug spaghetti gaps wat in die vergietis lê, nes ek toe ek klein was, begin ek dink… Ek dink oor hoe jou eetgewoontes, onder baie andere, verander van bly in die huis ,na jongeling student, na jonk getroud, na kids in die huis, en dan seker ook weer koekies en tee soos baie oumense.
Ons het ‘n tradisie… maandagaande is spaghetti aand. Dit was so toe ek in my ouerhuis gebly het en ek, die oudste, het die tradisie voortgesit in my huis. My man, wat ook hou van roetine èn spaghetti, raak krapperig as ek die menu vir ‘n maandag verander. My laatlam boetie, wat nounet verloof is,
het nie hierdie spesiale gevoel oor die tradisie nie. Hy is al moeg geëet aan spaghetti, soos my pa dit maak (jammer pa, ek geniet dit steeds!) en droom van groener weivelde. Boetie, wat nog in die huis bly, dink dalk hulle gaan elke aand ‘n gourmet-spesiale-iets anders maak as pasgetroudes, maar wanneer mens nog nesskrop het jy nie altyd geldjies vir sulke luuksheid nie.
Ek het die tradisie eerstens oorgeneem in my pasgetroude huisie omdat dit vir my laat terugverlang het huistoe. My eerste poging was nie so lekker so my ma s'n of heeltemal gaar nie, maar ek het darem verbeter oor die jare. Met kindertjies se fiemies en veranderende voorkeure is ek dankbaar dat my kinders nog, op die oomblik my spaghetti geniet en vra daarvoor. Ek voel ek maak dit terwyl hulle dit eet, ten minste eet hulle ièts, want party ouderdomme oorleef hulle mos op marmite broodjies en tee… En dan hoef ek nie elke dag so hard te dink oor wat om vanaand te maak vir ete nie…
Ek onthou hoe my ma, ook soms moeg vir spaghetti, toe ons klein was probeer het om ander heerlike disse te maak en ons soms, oor ons fiemies, maar brood geeet het vir aandete. Sy het probeer om maandagaand soufflé aand te maak, dan het sy lekker kaas soufflé gemaak met slaai. Dit klink nou vir my lekker, en ek weet nou hoe baie moeite dit was, maar destyds het ek gekla vir spaghetti!
Kosmaak is maar net een van die dinge wat mense bc (before kids) nie altyd (kàn) verstaan nie. My boetatjie het my ook herinner aan ‘n videotjie wat baie
gepas is … (Michael mccintyre – people without kids have no idea) Lekker gelag. Noudat hulle troue beplan en dink aan die toekoms het hulle op die videotjie afgekom, 'n seisoen waardeur ek nou al gegaan het.
Hopelik hou my gesin nog lank van spaghetti en laat my kos hulle later kies om by die huis te kom eet, want niks is lekkerder as ‘n bord van ma se kos nie.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking