Chameleophobia – of daar so iets bestaan of
nie, dis die naam wat ek nou net besluit het, sal die naam wees van die fobie
waaraan ek ly/gely het. Die vrees vir verkleurmannetjies.
Almal wat my ken, weet dat wanneer ek buite
naby plantegroei is, my oë voortdurend die plante fynkam opsoek na
verkleurmannetjies. Dit was maar nog altyd ‘n gewoonte. Selfs in lande waar
daar nie verkleurmannetjies voorkom nie, soek my oë na hulle – ek sien takkies
waar ek weet hulle gevind sou word as hulle daar sou wees. Wanneer ons in
Suid-Afrika ry, soek my oë hulle op die pad. In die verlede het ek al honderde een-een
die pad sien oorsteek in woonbuurte – en wanneer ek gestap het, natuurlik plat
verdordes wat voorheen doodgery is. Wat vir ander mense soos blare lyk, is
dikwels verkleurmannetjies, maar omdat mense nie op hulle ingestel is nie,
registreer dit ook nie op hulle radar nie.
Ek het prentjies in my kop soos in ‘n
gallery van sekere okasies waar ek hulle gesien het. Byvoorbeeld: ‘n klein
donker enetjie om die eenkant van die geel senter van ‘n groterige pers
margrietjie met sy gekrulde stertjie op die geel; die groen agterkant van ‘n
ander een, met nog swaaiende stert, in die bek van ‘n wit bosluisvoël op die
park oorkant die straat; hoog op ‘n telefoondraad op pad na ‘n ander boom; of dikwels
ene hakel-hakel,met een voet vorentoegelig, op ‘n tog êrens heen op watter
oppervlakte ookal; ‘n paarklein, grys, pasgebore goedjies op die laventelbos
versprei by my vriendin se huis;twee verkleurmannetjies wat liefde maak op ‘n hibiscustak
voor my ma-hulle se huis. Dis nou ‘n ding om te aanskou. Praat van langdradig.
Dis asof die mannetjie tussen bewegings vergeet waarmee hy besig is en eers
bietjie rondkyk (oë in verskillende rigtings). Baie snaaks! Ek’s seker ek’s een
van die min gewone mense wat dit al gesien het.
Nog ‘n prentjie wat ek in my kop het, is
Oupa Brand wat voor die huis net by die trappies af, op ‘n regop stoel in die
son sit, met sy swart hoed op sy kop en sy kierie. Op sy hoed se rand loop ‘n grasgroen
verkleurmannetjie. Of dit net in my kop is en of dit regtig gebeur het, weet ek
nie, want ek weet nie hoe die verkleurmannetjie op sy hoed sou beland het nie.
Maar die prentjie is onuitwisbaar in my kop.
Iets wat ek soms gedoen het, was om op ‘n
warm dag die tuin nat te spuit met ‘n fyn sproei bo in die bome langs juis om
vir hulle water te gee. Partykeer het ek hulle gesien drink. Hulle lek die
water met net die vet voorpunt van hulle tonge van die blare af. Eenkeer het ek
gesien hoe posisioneer een hom kop onderstebo op ‘n tak, heeltemal vertikaal,
sodat die water met sy lyf af loop tot by sy bek en dan drink hy die druppels
soos dit daar vorm.
Die fobie het nogal ‘n groot invloed op my
lewe gehad. Ek loop nie graag in ‘n tuin naby struike en goed verby nie en ek
hou glad nie daarvan om onder bome deur te loop nie. Ek het as kind gesien hoe
val ‘n verkleurmannetjie uit die wilgerboom kaplaks op die grasperk voor my
kamervenster met die wind se gewaai – reg voor die mooi lover’s bankie wat my
ma daar gesit het. Twee voorvalle het ook tot die gevolg gehad dat ek nie juis
hou van geplukte blomme nie. Eenkeer was ons op pad na my vriendin Marcelle se
verlowingspartytjie in die Kaap – ek in ‘n mooi helder pienk rok met sulke
swart rantjies. Ek het vir Marcelle ‘n massiewe bos bright pienk beaugainvillea
gepluk wat ek in my hande op my skoot gehou het sodat dit darem nie platdruk
voor ons daar kom nie. Toe ons by die garage in Bellville stop om petrol in te
gooi, klim daar ‘n bruinerige jong teenager bo by die bos uit – lekker bruin om
in te pas by die pienk en bruin blomme en die takkies. Ek natuurlik in ‘n
toestand. En toe erger in ‘n toestand toe die petroljoggie hom wil doodmaak.
Dit het Stan gekos ‘n lang spanner vat om hom êrens op ‘n tak te gaan sit.
(Hy’s ook nie vreeslik mal daaroor om hulle op hom te laat loop nie.) Die ander
keer was toe my ma met baie liefde vir my ‘n mooi groot bos michaelmis daisies
gegee het – ek het al vir Sebastian gehad. Toe ek in my eie kombuis staan om
hulle in die water te kry, vat ek amper aan een wat op een van die takke sit –
en dit nogal nadat ek hulle so ligweg deurgekyk het voor ek hulle in die kar
gesit het. Ek was total uitgefreak – ek kan onthou hoe’t ek so op die plek gestaan en trippel met my hande op
my mond soos mens maar doen as jy wil gil en nie kan nie. En toe’t ek my ma in
trane gebel met ‘n full-on panic attack. Chris het die foon geantwoord en
gehoor daar’s moeilikheid . Hy‘t my mooi rustig gekalmeer en toemoes ek al my
moed bymekaar skraap en die tak buitentoe vat – ook die res van die bos kon ek
nie in die huis hou nie.
Ek werk ook nie graag in ‘n tuin waar ek
binne-in die tuin moet staan nie. Ek het wel ‘n lekker retaining wall gehad van
sementpotte waarin ek heerlik kruie en goed gekweek het, waar ek niks agter my
gehad het nie en waar ek eers elke bos en tak kon deurkyk voordat ek gevat het
daaraan. Die eerste keer toe ek regtig wou begin werk in daai einste bakke, toe
kom daar ‘n groot groen verkleurmannetjie direk op my ooghoogte na my toe
aangestap. Ek moes dit vir daai dag eers los.
Ek dink nou net aan nog iets. In die
verlede wanneer ek ‘n nagmerrie gehad het, was daar altyd ‘n verkleurmannetjie
êrens in die droom. Ek moet sê, ek het baie lank laas een in ‘n nagmerrie
gesien. Mind you, noudat ek daaroor skryf, het ek gisteraand gedroom van ‘n bos
by Andries-hulle se stoep oortrek van pasgeboretjies. Glad nie bedreigend
gevoel nie.
Ek weet dis ‘n irrasionele vrees, want ek
voel glad nie dieselfde oor geitjies en koggelmanders en slange en paddas en
goed waarvoor ander mense gril nie. ‘n Geitjie het al met die oopmaak van ‘n
deur op my skouer geval en dit was ‘n geval van o, daar val nou ‘n geitjie op
my skouer, o daar’s hy nou van my skouer af… Niks buitengewoons nie.
Ek weet nie presies wanneer ek bewus geword
het van die vrees nie, maar verkleurmannetjies was van altyd af deel van my
lewe. Om te sê ek was omring met hulle, is nie regtig verkeerd nie. Ek het in
Kuilsrivier grootgeword, waar my ma vir baie jare die VLV se beker gekry het
vir die ‘Mooiste Kleintuin’ of so iets en tussen ons en ons naaste bure , die
Ransons, was daar ‘n oop erf waar my pa-hulle bietjie groente geplant het by
tye. Die erf is nooit heeltemal toegeplant nie, so daar was maar onkruid en
grond op die res van die plot – ramnas en gras en goed – perfek vir
verkleurmannetjies om hulle kleintjies op groot te maak terwyl hulle nog klein
en grys is, daarna kon hulle oorloop na die lekker geil groen van my ma se
tuin, waar hulle lekker hulle groen lywe kon wegsteek.
Van my eerste herinneringe in verband met
verkleurmannetjies spruit uit daai ‘leë’ erf langs ons – ons het dit altyd die
leë erf genoem net omdat daar nie ‘n huis op was nie… Sien, wanneer my pa ‘n
slag die erf skoongemaak het, dan is al die droë gras en bossies en waste droë takke
en goed daar ookal in my ma se tuin was van snoeiwerk en skoonmaak, op ‘n groot
hoop op die leë erf gegooi en aan die brand gesteek. Soms was daai hoop
manhoogte. En dis waar die horror begin:
Uit daai brandende hoop het ek dan verkleurmannetjies sien hardloop.
Trapsuutjies? Nee, hulle lig hulself op sodat hulle langer bene het en dan
hardloop daai groot groen verkleurmannemet sulke reguit groen sterte relatief
vinnig weg van die vuur. Dis ‘n aaklige ding om aan te dink noudat ek ‘n
grootmens is, want dit moes pure vrees gewees het wat hulle so vinnig laat
hardloop het. Obviously het my ma-hulle dié wat hulle voor die tyd gesien het,
afgehaal en in die tuin gelos, maar verkleurmannetjies is mos goeie
wegkruipers.
‘n Ander herinnering gekoppel aan die leë
erf is dat ons soms vir ons huise gegrawe het waarin ons kon speel. Klink
gevaarliker as wat dit was. Ons het sulke vlak slote gegrawe waarin ons kon
rondkruip en dan het ons ‘dakke’ opgesit van die takke wat my ma uit die tuin
gegooi het. Natuurlik met die odd verkleurmannetjie nog op die tak. Ek onthou
iemand het my eenkeer gejaag met een wat ons daar op ‘n tak gekry het – dis my
eerste herinnering van die feit dat ek weghardloop het, so ek was dan toe al
grillerig vir hulle.
Op die park oorkant ons huis het ‘n paar
van ons eenkeer onder die populierboom by die swaaie gestaan. Ek het gevoel
iets knobbelrig word saggies agter teen my kaal bo-arm gevryf. Toe ek omkyk om
te sien wat dit is, was dit die gekromde ruggraat van ‘n verkleurmannetjie wat
ek gevoel het, wat ‘n maat op sy gekromde vinger gehad het wat hy toe so teen
my arm gevryf het. Ek is seker dit sou enige mens laat ril het, maar vir my was
dit vreesaanjaend. Ek kan nie eers onthou wat my reaksie was nie, ek ken net
die gevoel wat dit nou nog in my ontlok. Daai maat moes toe ook al geweet het
hoe ek voel oor verkleurmannetjies om dit aan my te doen en nie aan iemand anders in die groep nie. Natuurlik
verbeel ek my nou hy het my huis toe gejaag met die verkleurmannetjie, maar
dalk het ek net huis toe gehardloop om veiligheid te gaan soek.
Ag en my ma en die tuin. My ma was gedurig
in die tuin.Soggens dou voor dag is sy uit buitentoe met haar lang blou
kamerjas en pantoffels. Meestal net om bietjie rond te kyk of gou te gaan kyk
of haar nuwe saadjies al opkom of om ‘n paar slakke te gaan vang en dan raak sy
carried away en voor sy haar kom kry, is sy punt in die wind aan die onkruid
uittrek en doenig. Dan kom sy binnetoe – los die nat pantoffels by die agterdeur
– en hoéveel keer met ‘n verkleurmannetjie wat êrens aan die opklim is op die
blou kamerjas. GRIL! Net om myself in die rede te val: Noudat ek dink aan daai
pantoffels van my ma, sy’t ook menige van haar goeie skoene so opgemors in die
tuin. Ek onthou byvoorbeeld sy’t so ‘n paar mooi rooi suede ooptoon kerkskoene
gehad met ‘n goue randjie op die hakkie. Kom van die kerk af en wil net gou
bietjie rondkyk in die tuin – ‘n uur later is die skoene nat en vol nat sand
saamgekoek om die hakke. Soos ek sê, sy’t net altyd carried away geraak in die
tuin.(Nog steeds…)
Of sy kom ontsteld in om te sê sy’t nou die
heining gesnoei en per ongeluk ‘n verkleurmannetjie in die middeldeur geknip of
‘n stert afgeknip of so iets. Kyk, as sy so aan die werk gegaan het, het min
goed haar gestuit. As die heining moes af, moes hy AF. Voor etenstyd, of voor
sy die wasgoed afhaal, of voor sy wat ookal moes doen, want my ma weet van hoe
om soos ‘n slaaf te werk.
Later van tyd het ‘n nuwe boyfriend gedink
dis snaaks om hand te skud met my met ‘n jong verkleurmannetjie in sy hand…
(daai size wat ek ‘teenagers’ noem.) Dit was voor hy my regtig geken het en
daarna het hy my altyd beskerm teen situasies waar iemand anders my moontlik
kon skrikmaak met ‘n verkleurmannetjie. ‘n Ander vriend het een in sy mond op
sy tong gesit…Ander het my vertel dat dieselfde ou ‘n verleurmannetjie aan sy
oor laat vasbyt het sodat dié daar bly hang het soos ‘n oorbel. Alles goed wat
prentjies in my kop gebly het.
Goed wat mense my vertel het, het ook nie
gehelp nie. Soos my een vriendin wie se ma die kombuis uitgevee het en die deur
weggestoot het en so ‘n hyg gehoor het, sy’t weer probeer en weer die gehyg
gehoor en toe sy kyk wat aangaan, was dit ‘n verkleurmannetjie wat sy so teen
die deurdrumpel vasgedruk het. En die feit dat my liefste broer op ‘n keer vyf
van hulle op sy gordyn gelos het en toe gaan slaap het. Die volgende oggend was
almal skoonveld. Hulle moes hulle pad buitentoe gevind het, want hulle lyke is
nooit gevind nie, maar net die gedagte dat daar vyf van hulle êrens binne was waar
dit veilig behoort te wees… Hierdie laaste brokkie is later jare deur my ma aan
my oorgedra – ek dink nie ek het destyds daarvan geweet nie anders sou ek seker
‘n verdere knou gehad het! Die blote gedagte daaraan gee my nog steeds koue
rillings.
In 1982 het ek vir 7 maande by ‘n seunskool
in Athlone onderwys gegee. Natuurlik sou ek nooit daar ‘n woord gerep het oor
my fobia nie, want in ‘n seunskool (of enige skool) sou my lewe hel gewees het
as die kinders moes uitvind daarvan. Soos die duiwel dit wil hê, was daar wel
twee insidente.
Eendag het een van die fyneriger seuns in
die standard 7 klas ‘n bohaai opgeskop daar agter in die klas en ‘n sesde
sintuig het net vir my gewaarsku dat ek moet oppas. Toe ek vra waaroor die
lawaai gaan, sê die outjie iemand het gedurende pouse ‘n verkleurmannetjie in
sy potloodblik gesit en dit toe in sy koffer gesit. In absolute paniek en met
groot inspanning het ek net kalm opgemerk dat dit regtig nasty is dat iemand so
iets aan so ‘n prehistoriese diertjie kan doen en toe vir een van die ander seuns
gevra om die verkleurmannetjie asseblief buite in ‘n boom te gaan sit. Ek het
die periode deurgesien – hoe weet ek nie – en daarna personeelkamer toe gevlug
waar ek ‘n meltdown gehad het. Papnat gesweet, in trane. Dit het groot wilskrag
gevat om beheer te kry oor myself en genoegsaam te compose om weer terug te
gaan klas toe.
Op ‘n ander keer het ‘n seun voor my by die
klas ingestap met ‘n grasgroen verkleurmannetjie op sy afro. Ek het net daar
omgedraai en in die personeelkamer gaan vra dat iemand die klas vir my waarneem
– gelukkig het een van die onderwysers my uit die situasie gered.
En dan natuurlik het ek self twee seuns
gehad. Ek het vir altwee van hulle eers van my fobievertel toe hulle
onderskeidelik op 19 uit die huis is.
Joshua was nie juis lus om hulle op te tel
nie, maar Sebastian het van hulle gehou. Ek het altyd net kalmpies gesê mens
bring nooit ‘n verkleurmannetjie binnetoe nie, want hulle hou glad nie daarvan om
binne te wees nie. Wanneer hy buite was met hulle, het ek seker gemaak ek is
binne. So oor die algemeen was daar nie vreeslike angstige tye met my eie seuns
wat verkleurmannetjies betref nie.
Maar die katte was ‘n ander saak. Sutika,
ons eerste kat,was ‘n bietjie kwaai. Sy’t verkleurmannetjies (en ander prooi)
gevang en binnetoe gebring om te kom wys – lewendig of meestal half geëet. Toe
die kinders klein was en dit was my taak om ‘n verkleurmanntjie uit die huis te
kry, het ek myself gestaal, ‘n lang lang stok gaan haal en die
verkleurmannetjie eenkant laat opklim. Voordat hy dan tot by my (of halfpad na
my) kon kom, het ek hom buite gehad en op ‘n boom losgelaat. Alles baie
kalmpies sodat my seuns nie snuf in die neus kon kry dat hulle ma ‘n Achille’s
heel het nie.
Twinkels was ‘n softie en het nooit maar
nooit iets moedswillig doodgemaak nie. Sy’t een hele dag en toe weer die
volgende dag met ‘n klaasneusmuis om die huis en om die garage gespeel. Die
arme ding was natuurlik vreesbevange, maar sy’t net lekker gespeel en hy’t op
die ou end ontsnap. So ook met ‘n fisantkuiken wat in die tuin beland het. Sy’t
net met hom gespeel en nie seergemaak nie. Verkleurmannetjies was vir haar ‘n
eindelose plesier. Sy’t hulle ‘skrikgemaak’ deur ‘n bossie te stamp en wanneer
hulle hulle dan woeps agter ‘n takkie inswaai, het sy hulle raakgesien. Dan het
sy hulle soms met een poot, soms met beide voorpote terwyl sy op haar
agtervoete staan, hulle van die takkie afgeskep en dan dra sy hulle versigtig
in haar bek binnetoe. Dan lê sy trots en kyk hoe die arme ding oor haar een
poot probeer wegloop. Nee, dan help sy hom weer terug met die ander poot.
Saggies. Alles mooi saggies. Totdat ek vir Sebastian kan vra om hom te red en
buite te gaan sit. Sien, teen daai tyd het Sebastian geweet hulle hoort buite
en hy wou ook nie hê hulle moet iets oorkom nie. Sonder dat hy dit ooit geweet
het, was Sebastian sulke tye altyd my held, want hy was altyd gewillig om ‘n
verkleurmannetjie te kom red.
Twinkels het eenkeer agter ‘n
verkleurmannetjie aan in ‘n roosmarynbos ingeklim – totdat sy in die fyn
takkies was en toe val sy uit die bos (sonder haar prooi) – dit het ons lekker
laat lag. Ek sal eintlik nog eendag ‘n stuk moet skrywe oor haar – sy’t ons baie
keer so laat lag. Ons spot altyd en sê sy was ‘n blonde…
Toe ek 40 word, het ek besluit dis tyd om
te probeer om van my fobie ontslae te raak, toe gaan sien ek ‘n sielkundige.
Hy’t my laat lees en skryf oor hulle en my ook gevra om hulle teken. Ek het met
die lesery baie goed uitgevind wat ek voorheen nie geweet het nie. Ek het altyd
geweet ‘n verkleurmannetjie lê byvoorbeeld nie eiers soos ‘n akkedis maar, maar
gee lewend geboorte aan die kleintjies wat binne-in haar uitbroei (viviparous);
hulle voorpote en agterpote se ‘tone’ is
verskillend gekoppel – die voorpote is twee buite, drie binne, die agterpote is
drie buite en twee binne; ‘n pikdonker,
amper swart verkleurmannetjie is nie noodwendig net kwaad nie – dit kan ook ‘n
swanger ene wees. Die sielkundige het
baie gehelp in die sin dat ek besef het daar is baie mense wat nie sal hou
daarvan as ‘n verkleurmannetjie op hulle loop nie, of wat sal skrik as hulle
amper aan een raak of op een trap – hulle slaan net nie in sweet uit en kry
hartkloppings daarvan nie. En na die
behandeling kon ek hom eenkeer bel en sê ek het aan een se stert geraak. En met
die skrywery het hy my ook laat sien dat ek my pa en verkleurmannetjies verbind
op ‘n baie nice manier. Ek en my pa het soms Sondagoggende na kerk bietjie
verkleurmannetjies in die tuin geloop en soek. Ek kon hulle nog altyd voor
enigiemand anders ‘spot’. So het ons een oggend 109 getel. Verstommend as mens
dink daar was so baie van hulle.
Maar nie meer nie. Ek is pas terug van
Suid-Afrika af. Ek gaan jaarliks huis toe – so dikwels as wat moontlik is
aangesien my wortels baie diep lê daar in die Kaap. Die afgelope 3 keer wat ek
daar was, was dit vir my baie duidelik dat daar baie baie minder
verkleurmannetjies in die Kaap is as voorheen. Eers het ek gedink dis omdat ek
so kort daar is dat ek hulle nie sien nie, maar dit is nie die geval nie.
Hierdie keer het ek ‘n punt gemaak daarvan om hulle te soek. In Kuilsrivier, in
Somerset-Wes en in Worcester – in en om al die tuine en plase waar ek by my
pelle en familie gaan kuier het. En ek het nie een enkele ene gesien nie. Ek
was eintlik ontsteld, want hulle is deel van my geskiedenis en skielik is hulle
weg. Ek weet dit klink vreemd dat dit my ontstig dat die bron van my fobie
verdwyn het, maar ek was nog altyd heel trots daarop dat ons hulle daar om ons
het. Dis iets wat nie orals gekry word nie – dit was ons s’n. Ek wou hulle nog
nooit seermaak of wegmaak nie. Solank ek geweet het waar hulle is, was dit ok. Ek
sal seker vir altyd so na bossies en bome kyk, altyd met die hoop om een van
hulle daar te sien.
(Anet is 'n Suid-Afrikaner en woon in Darlington, Engeland.
Dankie dat jy hierdie met ons gedeel het Anet, jou briewe is altyd welkom!)
Opmerkings
Plaas 'n opmerking