Slaan oor na hoofinhoud

©Rut Art




©Rut Art - Riëtte Delport

Riëtte is 'n spesiale vrou en kunstenaar wat deur haar brandende passie ander inspireer om, in liefde, hulself en die lewe te vier! Ons het met haar gesels oor wat kuns vir haar beteken en hoe sy haarself begin uitleef het onder die naam Rut Art. 


1. Baie Welkom by NasieInspirasie Riëtte, vertel ons bietjie meer van jouself? 
Hi, ag baie dankie vir die geleentheid. Ek bly op een van Suid-Afrika se mooiste kus dorpies, Mosselbaai, saam met my gesin. Ek het ‘n pragtige dogtertjie van 8 en seuntjie van 2 en ‘n “awesome” man wat my motiveer en ondersteun. Omtrent so een jaar na my eersteling se geboorte het my man gesê ek moet sommer begin voltyds skilder en doen wat ek geniet. Ek is mal oor my eie naam, Riëtte, maar vir die kuns wat ek doen het ek besluit op die skuilnaam ©Rut, omdat sy my ge-inspireer het met haar liefde vir God en haar skoonma (familie). Sy was baie liefdevol en dit is vir my ‘n baie spesiale boodskap veral omdat ek al my Ma verloor het op die ouderdom van 2. Ons kan baie leer by Rut oor hoe haar geloof haar daagliks ondersteun het met haar uitdagings. Sy het lojale liefde getoon en dit help my om my eie familiebande as iets baie kosbaar te beskou. 



2. Hoe lank skilder jy al en wat of wie inspireer jou? 
Ek het al begin vandat ek baie jonk was en het ook ‘n kunstige familie. Ek skilder voltyds van so 2009 af. Behalwe vir God en Rut, inspireer alomteenwoordige engele my ook. As ek mismoedig is bemoedig my man my en laat my weer besef hoe bevoorreg ek is om my passie te be-oefen. 



3. Werk jy soms in of op ander mediums om jouself uit te leef? 
Ja, ek probeer gereeld iets nuuts, maar net vir so rukkie, dan is daar weer ‘n nuwe idee. Ek hou daarvan om met klei te werk, ek skilder op hout, ek het onlangs ook op meubels begin skilder, bv. Sitkamerbank, koffietafeltjies, en maak ook kleiner geskenke soos, magnete, “drawstring” sakkies, kaasborde, verversing borde, borsspelde, krale, "pendants",deurstoppe ens. Sjoe, ek het nog so baie idees, ek is sommer opgewonde oor die toekoms. 



4. Ons mik ons blad daarop om sleepvoet-dromers hoop te gee. Watter boodskap sou jy aan lesers wou gee wat hul passie vir droom-uitleef verloor het of dalk voel die bietjie wat hulle het om te gee, is nie genoeg nie? 
My boodskap aan die sogenaamde sleepvoet-dromers is om verseker ‘n mentor of 2 te kry, iemand wat jou kan inspireer en by wie jy kan leer van waarin jy belangstel. Jy hoef nie daardie persoon te ken nie, maar kan sy doen en late volg op verskillende maniere, bv hul outobiografië te lees, of ander toepaslike boeke te lees. Nog te beter, indien jy die persoon persoonlik ken. Moet egter nie net na iemand anders se werk of kuns kyk en hoop om soos hulle te wees nie. Elkeen van ons is uniek en jou eie waarde en passie moet ontwikkel word om selfs beter te kan wees as jou mentor. 



Onthou, ander mense se sukses, wat jy sien, gebeur nie oornag nie. Dit is ‘n sameloop van omstandighede en harde werk wat aanleiding gee daartoe, en glo my, dit gebeur nie sonder mislukking of teleurstelling nie. Elke teleurstelling of mislukking is daardie trappies na sukses. Ons kan nie daarsonder nie. ‘n Mens leer elke dag uit jou doen en late en word so elke nuwe dag ‘n beter jy. So as jy bang is, kry iemand om saam met jou die pad te stap, al is dit net in die gees. Doen dit waaroor jy passievol is, en moet nooit tou opgooi nie. My God gegewe 

passie is om genesing te doen met my werk, dit is wat my dryfveer en motivering is. Hou aan met dit waaroor jy passievol is. Dit neem soms lank, maar moenie tou opgooi nie - Hou aan totdat jy jou doelwitte bereik het. Daar sal jy weet – dis hier waar ek ‘n verskil gaan maak. 

Vir my is kuns ‘n werklike geneesmiddel vir die siel. 

Ons het almal verskillende talente en dis ons verantwoordelikheid om dit te ontgin en te ontwikkel en onsself daarin uit te leef. Moet nooit voel dit wat jy het om te gee nie goed genoeg is nie. Elkeen van ons se bydrae in die wêreld kan vir soveel ander mense ‘n verskil maak. 

5. Hoe kan lesers meer oor jou uitvind, jou kontak of net jou doen en late volg?
Oe ja, ek is op ‘n Facebook bladsy ©Rut Art, waar ek meestal van my beskikbare, oorspronklike skilderye bekendstel. Dan het ek ook ’n RutCreations Facebook bladsy wat al die ander kreatiewe geskenkies en skeppings bemark. 
Kontak my gerus op my bladsye se inboks met enige navrae. My Instagram “handle” is riette_rutart vir alledaagse, meer persoonlike, fototjies. 
My website www.rutcreations.co is ook waar meeste van my beskikbare “canvas prints”, van oorspronklike werke wat reeds verkoop is, gelys word, sodat kliente gemakliker aanlyn kan bestel. Vir die "anti-social media gurus", e-pos my sommer direk by rutdelport@gmail.com Ek glo egter die beste manier om ©Rut Art se werk te kan sien en ervaar is om die gallery, Yellow Door, te kom besoek op die hoek van Field en Bland straat in Mosselbaai waar 'n hele verskeidenheid produkte beskikbaar is asook 'n gesellige koffiewinkel met 'n unieke atmosfeer waar jy rustig kan kuier.

6. Is daar 'n spesifieke kunswerk wat jy geskilder het met 'n goeie storie daaragter? 
Ja , daar was ‘n hele paar, maar so jaar terug was daar ‘n vroutjie en haar vriendinne op my Facebook blad wat my versoek het om ‘n skildery te maak wat profeties is. Dit was oor ‘n babadogtertjie wat nog nie gebôre was nie. Haar vriendin (die swanger mamma) het op daardie stadium al soveel hartseer met haar swangerskap beleef. Die babadogtertjie is op 32 weke gebôre met ’n chromosoom afwyking. 
Ek het gevoel om vir Milan op ‘n tas vol moontlikhede te skilder met harte om haar wat vir haar bid, maar haar hartjie het toe gaan staan en sy is oorlede. Die skildery het darem nog lank na die tyd en hopenlik vir die toekoms baie betekenis vir die familie. Hulle het genoem dat dit hul ‘n oomblik in haar lewe in die hemel laat sien.


7. Watter nuwe dinge beplan ©Rut Art vir die nabye toekoms en hoe kan lesers betrokke raak? 
Ek werk op die oomblik aan ’n baie opwindende boek-projek, genoem “Volledige Vrou” in samewerking met skrywer/digter, Riska Du Plessis (iskra) in my omgewing. Ons beplan om ’n unieke joernaal, spesiaal net vir vrouens, binnekort bekend te stel wat opbouende boodskappe, deur woord en kuns, gewone, gebroke vrouens motiveer om voluit te lewe. Ons wil graag op ‘n stadium die publiek uitnooi om betrokke te raak in hierdie projek. Die beste gaan wees om ©Rut Art se Facebook bladsy te volg om op hoogte te bly van hierdie “awesome” projek!



8. Inspirerende "Quote" wat jy tans geniet of wat jou inspireer? 
Die "quote" wat my daagliks inspireer, en ek dink dit beskryf mooi waar ek is en wat ek voel, wat ook ‘n boodskap vir so baie mense is: 
"You have to take a chance, step out and believe" ... Joyce Meyer



9. As jy nie skilder nie, watter ander dinge is jy passievol oor? 
My kinders en my man. Ek is baie lief vir lees. Om met klei te werk is ook ’n baie lekker afleiding. Ek het onlangs begin tjello klasse neem en geniet dit verskriklik baie.















'n klein vonk kan 'n groot woud laat brand
#nasieinspirasie

















Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde