Slaan oor na hoofinhoud

Kaleidoskoop

KALEIDOSKOOP ALBUM LAUNCH: GUNSTELING SEISOEN


Vandag wil ek net so bietjie "gush" soos ʼn objektiewe joernalis nie eintlik mag nie, want hierdie mense kry dit reg om my weer trots te maak op Suid-Afrikaanse kuns. Kaleidoskoop het verlede naweek hul splinternuwe album, Gunsteling Seisoen, by die Atterbury Teater in Pretoria bekendgestel, en die werk wat in die laaste vyf jaar ingesit is, kan duidelik gesien word.

Jouba Jordaan en Anique Jordaan (al deel hulle ’n van, is hulle nie familie of getroud nie) sing sedert 2009 saam, en wanneer hierdie twee hul monde oopmaak, praat twee talentvolle stemme saam as een. Hierdie sal ook die groep se eerste album wees sedert Vars Uitgekerf in 2012 vrygestel is. Anique het tydens die opvoering genoem dat daar baie tyd en beplanning in die produksie van elke liedjie ingaan, omdat hulle rekeningskap sal moet gee vir elke woord wat uit hul monde kom. Geloof speel ’n belangrike rol in die skep van Kaleidoskoop se musiek, en dit is duidelik sigbaar in die algehele manier waarop hulle ’n vertoning aanbied.

“Ek dink dit is die natuurskoon wat ons baie inspireer, en dis natuurlik iets wat die Here gemaak het, so indirek is dit ook Hy wat ons inspireer,” het Jouba tydens ’n onderhoud na die vertoning gesê.

Hulle het met dié album weer teruggekeer na die akoestiese klank waarmee Kaleidoskoop bekend geraak het. Anique het genoem dat hul heelwat geleer het in die vyf jaar tussen die vorige album en hierdie een, terwyl dit ook beteken het dat hul baie meer insette kon lewer tydens die produksieproses. “Die klank (van hierdie album) is ook baie meer volwasse, en ek dink dis presies wat ons wou hê,” het sy gesê.

Die primêre tema’s van Gunsteling Seisoen word beskryf as vergifnis en versoening, terwyl die meer hartseer seisoene van die lewe dié keer ook aangeraak word. Anique het gesê dat die boodskap wat hul graag deur dié album aan hul luisteraars wil kommunikeer, is om na die goeie dinge in die lewe te bly kyk, al is jou omstandighede nie noodwendig gunstig nie. “Dit is ’n stappie nader aan die genesing van ons land,” het Jouba gesê.

Jason Ferreira, een van Kaleidoskoop se musikante, het genoem dat hierdie album meer lewendige instrumente gebruik as voorheen. Hy beskryf die band as net ’n klomp vriende wat saam musiek maak. Daarby is dit duidelik dat die twee Jordaans musiek maak saam met mense wat ware kenners is van hul instrumente. Verskeie kitare, ʼn ukulele, mandolien, glockenspiel, trekklavier, stryk-kwartet, klavier, baskitare, perkussie en ʼn banjo word inkorporeer om die Kaleidoskoop se unieke klank ʼn baie vars element te gee.

Gunsteling Seisoen het ’n egtheid wat kom vanuit ’n plek waar die skep van musiek as ’n leefstyl beskou word, en die manier waarop dit aangebied word, wys dit. Daar word niks weggesteek nie, en die algehele indruk is "effortless".

Tans is die album net op die band se nuwe webtuiste beskikbaar, by www.kaleidomusiek.co.za. Dit sal egter binnekort op iTunes te koop wees.

Kyk die enkelsnit van die album, Wegbreek, se musiekvideo hier: https://www.youtube.com/watch?v=U-h1DmU8zNM

geskryf deur Johané van den Berg



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde