Slaan oor na hoofinhoud

Chris Venter



 Almal het 'n storie. Chris Venter is 'n kunstenaar van Kaapstad, meestal bekend vir kinderboek illustrasies, maar hy droom en werk ook oor die grense, in nuwe hoofstukke van kuns en inspirasie. 



1. Vertel ons lesers meer van jouself?

Ek is ‘n Kaapse kunstenaar en illustreerder van kinderboeke. Wanneer ek nie illustreer aan boeke vir uitgewers nie, is ek besig om my eie kuns te maak vir uitstallings en verkope. Die uitstalling-deel is nog nuut. Dis nou eers my tweede jaar in daardie deel van die industrie. Die kinderboeke illustreer ek al vir 9 jaar en dis daar waar ek my passies begin uitleef het en my suksesse gevind het. Dis ‘n kleurvolle lewe en ‘n mengsel van moeilik en maklik.

2. Hoe het jy jou passie vir illustrasie ontdek en wat was van die grootste struikelblokke of hindernisse wat jy moes deurgaan om uiteindelik te kan doen wat jy vandag doen?

Die passie was altyd daar, maar ek het nie geweet daarvan nie. Dit het ‘n spesiale lektor en mentor soos wêreldklas illustreerder, Piet Grobler, geneem om my oë oop te maak tot die wêreld van kinderboeke. Ek het eers nooit besef mens kon dit as ‘n beroep doen nie, maar dis net omdat ek nooit vantevore blootgestel was aan iemand wat dit vir ‘n lewe gedoen het nie. Dit was asof alles in my lewe net sin begin maak het en in plek begin val het. 


Ek besef toe ek moet ‘n kinderboek illustreerder wees. Dit is al wat sou sin maak in my lewe. Ek is geseën, nie net met kunsvaardighede nie, maar ook met die vermoë om menslike karakter te verstaan. Ek het nog altyd geweet hoe om ‘n storie te vertel met meer as een prentjie. Al daardie tipe “super powers” van my wat nooit ‘n plek gehad het of sin gehad het nie, het nou eweskielik in hierdie kinderboek narratief begin inpas. 

Dis regtig ‘n ongelooflike gevoel wanneer mens uiteindelik besef waarom jy op aarde gesit is. Dis die ding wat waarde en doel tot my lewe gebring het. Noudat ek geweet het wat ek wou doen, moes ek eers besluit watter paaie ek moes loop om ‘n suksevolle illustreerder te word. Dit is waar die struikelblokke my begin tref het. Mens sukkel maar met min werk en finansies deur die begin stadiums.

Ek moes eers kliënte oor-wen en ‘n sterk kliënte basis opbou. Dit het jare geneem, maar op die ou end het ek goeie verhoudings met mense opgebou en ook geleer wie ek eerder nie meer moet werk nie. Die struikelblokke help mens om nederigheid aan te leer en in sekere areas het daardie nederigheid my vêr gebring. As mens eers op daardie plek kom waar jy die struikelblokke kan begin sien as postiewe uitdagings wat jou beter maak...dis daar waar ek geleer het hoe om ‘n balans te vind tussen drome en realiteit. 
Drome dryf mens, maar ‘n realistiese uitkyk waarsku mens vir gevaar. 
Die kombinasie is sterk, want mens hou aan vorentoe beweeg terwyl jy negatiewe dinge koes.

3. Beskryf jou kreatiewe proses... is jy baie georganiseerd? Sal jy dinge laat staan en begin werk as inspirasie jou ‘tackle’?

Vir iemand wat van buite af inkyk is ek glad nie georganiseerd nie, en dikwels sal ek daarmee saamstem. Maar ek is definitief georganiseerd in my chaos waar dit saak maak. Ek voel tuis in ‘n bietjie wanorde so nou en dan, maar op ander kere verkies ek orde. Ek hou daarvan om in orde te lewe, maar om uiting te gee aan die wanorde van my verbeelding. Ek sal beslis dinge laat staan om uiting te gee aan skielike inspirasie, maar ek het ook dissipline en goeie maniere ontwikkel deur die jare en weet dis nie noodwendig altyd ‘n goeie tyd om net alles te los in die naam van inspirasie nie. Ek kan byvoorbeeld nie iemand se troue verlaat om huis toe te ry en te gaan verf nie. Daar moet perke wees. 

4. Wie/Wat inspireer jou?

Rooi Jakkalse; Tiere; Slim kinderboeke soos enige Jon Klassen boek; Kinderboek kunstenaars op Instagram; Natuur; Die menslike liggaam; diere; fabels; legendes; mitologie; My kat Bennie. My meisie se oë wanneer sy glimlag. Die vorm van tulpe; Adventure Time (animasie); Die smaak van ‘n lekker pizza met feta en salami op; Roomys.

5. Watter boek of projek staan vir jou uit waaraan jy gewerk het, waarvoor jy ‘n sagte plek het en wat is die storie daaragter?

Daar is ‘n paar boeke wat vir my iets beteken het. My eerste prenteboek was Karla Krullebol, geskryf deur Theresa van Baalen. Ek het my eerste van vyf ATKV woordveertjies vir hom ontvang. Dit is een van daardie boek projekte waarvan ek nou nog baie hoor by ouers en kinders. Met hom is my selfvertroue geplant in hierdie industrie. Dit was ‘n baie groot uitdaging vir ‘n begin illustreerder en ek het omtrent grys hare gekry met hom, maar die leerproses was ongelooflik.

Nog ‘n boek wat iets vir my beteken het is een wat ek verlede jaar geillustreer het. Daar is nie ‘n krokodil in hierdie boek nie, geskryf deur Jaco Jacobs. Ek het hierdie boek tydens ‘n moeilik tyd in my lewe illustreer. Ek het myself totaal en al uitgeleef in die storie en myself gedruk om te kyk hoeveel kreatiewe 'detail' ek kan sit in ‘n boek. Ek wou myself druk in ‘n kort tyd om te sien waar my limiete is met ‘n prente boek. Op die ou end was ek baie tevrede met die boek. Dit is die een boek waarin ek die minste sal verander indien ek dit moes oordoen.

6. Ons tema vir hierdie tyd is familie en die belangrikheid van gesonde verhoudings in die huis. Watter rol het dit tot jou as suksesvolle kunstenaar gespeel? 

Ek kom uit ‘n snaakse gesinslewe uit. My biologiese moeder is vroeg in my lewe oorlede en ek het al twee aangetroude gesinne gehad deur die jare. Ek dink dit het die soeke tot identiteit en stabiliteit laat wegspring in my gedagtes. Mens kan selfs sê dat dit die rede is hoekom ek so ‘n variasie van style beoefen vandag. Ek bevind myself elke dag besig met ‘n ander medium en ander styl. Dis vir my ‘n soeke na identiteit. Wie is ek? Waar pas ek in? Watter medium of lynwerk is my regte stem? Alhoewel dit miskien so begin het as iets wat selfs as negatiefs gesien kan word, is dit eenvoudig net wie ek is vandag. Op die anderkant van die spektrum het ek ook ‘n baie gesonde verhouding met my gesinslede gehad. Ek was goed groot gemaak deur my Pa en ma’s en tannies en Oumas en Oupa. Daar was oorgenoeg liefde en sorg. Miskien het dit weer gesorg dat ek nie te donker raak in my kuns nie. Daar is nie ‘n onderliggende pyn wat ek wil uitkry nie. Ek is tevrede met lewe. Daar is vir my ook ‘n derde deel tot familie. Dis die droom van my eie opgeboude gesin in die toekoms. Dit het my dryfkrag geword, hierdie droom. Dis asof alles wat ek nou doen, gedoen word om daardie droom te bewaarheid. Dit gee my volwasse lewe en verhouding ‘n gesonde rigting en vooruitsig.

7. Wat sou jy sê vir ‘n sleepvoet-dromer, wat alles het om te begin, maar min waagmoed...

Dis eenvoudig, as jy nie iets probeer met dit wat jy het nie gaan daar net eenvoudig nie enige iets van kom nie. Dalk het jy ‘n gawe en ‘n droom om daardie gawe uit te leef. Alles gaan oor keuses. As jy kies om nie daardie droom te volg in enige manier nie, dan is die keuse op jou en niemand anders nie. Jy sal dus daardie gevolge moet dra. Dis ‘n baie bitter pil om te sluk. Veral die dag wanneer jy uiteindelik besef hoe kort lewe kan wees. Ek voel dat die beste ding wat jy kan doen vir jouself is om selfs net in kleiner fragmente te begin. Om elke dag ietsie kleins te doen. Al is dit ‘n 5 minuut sketsie elke dag. Om te begin is die moeilikste deel. Bou ‘n portfolio op en begin klein. Die selfvertroue sal self kom. En voor jy besef wat gebeur het sit jy met nuwe ondervinding en kliënte wat jy andersins nie sou gehad het nie. Niemand in enige industrie het tyd of geduld vir verskonings en luiheid nie. Harde werk kweek respek. Dis ‘n goeie gewoonte om aan te leer. In opsomming, as jy voel dat die kanse wat jy graag wil vat te groot is, breek dit op in kleiner situasies wat makliker sal wees vir jou om te hanteer. Maak dit lekker vir jouself. Vind jou eie ritme. Volg ander mense se voorbeelde maar besef ook jy is ‘n individu en het die reg om jou eie tempo te kies met enigiets. Maar as jy jouself nie druk om beter te wees nie, gaan jy eenvoudig nie groei sien nie.

8. Enige opwindende projekte waarmee jy tans besig is?


Ek kan nog nie veel praat oor die 'details' van my nuwe projekte nie, maar daar is ‘n paar lekker projekte aan die broei. Ek werk tans aan ‘n bordspeletjie wat baie opwindend is vir my omdat ek gaande is oor bordspeletjies. Dan werk ek aan ‘n paar kinderboeke, soos ‘n kinderbybel, ‘n prenteboek vir ‘n dame in Chicago, opvoedkundige illustrasies vir die britse mark, en ook my eie boek wat ek tans skryf en illustreer. Ek is deel van ‘n klein kunstenaarsgroepie met die naam Studio Clowder. Ons is ‘n groep kunstenaars met illustratiewe kuns style wat besluit het om nou en dan saam uit te stal en mekaar te ondersteun in die kunswêreld. Op die oomblik is ons besig om onsself uit te daag met ‘n weeklikse tekening uitdaging. Elke week het ‘n ander tema. Mense is welkom om te gaan loer na ons werk op Facebook en op Instagram. Soek net Studio Clowder. Julle is ook welkom om die weeklikse teken temas saam met ons aan te pak.

9. Wie is jou top 5 gunsteling, Suid Afrikaanse kunstenaars (musiek) wat jy geniet om na te luister?

Ek moet eerlik wees. My kennis van huidige Suid Afrikaanse musiek kunstenaars is nie meer so groot nie. Ek luister nie radio nie en kyk ook nie regtig televisie nie, so ek sukkel maar om by te bly. Ek kan omtrent so 4 name noem. Ek was eenkeer by ‘n troue waar Die Bottomless Coffee Band gespeel het. Ek het hulle baie geniet. Die talent van Loki Rothman is iets buitewêrelds waarna ek opkyk. Enige sanger wat die afrikaanse taal en klanke soos Chris Chameleon kan vleg is 'great'. Ek het onlangs saam met vriende gaan kyk na Joshua na die Reën
. Ek dink hulle is tans my gunstelling Suid Afrikaanse groep. Sy woorde is kuns.

10. Hoe kan lesers jou kontak of daaglikse werk volg? 
Ek het twee Instagram bladsye.
@chris.in.the.clouds wys van my kinderboek illustrasies
@chris_venter_art is meestal alternatiewe kuns buite my kinderboek werk.
Mense kan my ook volg op Facebook onder Chris Venter Illustration.

deur Riska du Plessis















Chris Venter

'n klein vonk kan 'n groot woud laat brand #nasieinspirasie

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde