Slaan oor na hoofinhoud

Bottomless Coffee Band


Foto: Riehan Bakkes
Bottomless Coffee Band toer wyd en suid na die bekendstelling van hulle nuwe album, Anthelia. NasieInspirasie het by hierdie folk-fundi's stilgehou om uit te vind wat hulle inspireer.

1. Vertel ons lesers asseblief meer van julself en jul nuwe album?

Ek (Esté) is gebore in die Oos-Kaap en het hoofsaaklik groot geword in Graaff-Reinet na 'n paar verhuisings saam met my ouers. Ek was vir die laaste paar jaar van hoërskool in die koshuis in Oranje Meisieskool in Bloemfontein. Ek het nog altyd gesing en diep binne myself geweet dat ek in die uitvoerende kunste sou opeindig. Daarom het ek teen 'n liefde vir wetenskap en wiskunde besluit om my passie en droom in drama en teater na te jaag. Ek was bevoorreg om dit op Stellenbosch te kon studeer.

Lourens daarenteen het grootgeword in Durbanville en was op skool in Hoërskool Stellenberg waar hy natuurlik vir 'n rekord aantal jare die hoof drommer was in die bekende MTBS kompetisie. Van 'n jong ouderdom het hy sy vaardighede in dromme geslyp deur in "rock" en "metal bands" te speel. Om in sy Pa se voetspore te volg het hy regte by Stellenbosch gaan studeer. Later het hy oorgeskakel na beleggings bestuur en het uiteindelik sy honeurs by UCT in finansiële analise gedoen. Oor die jare van studeer het hy, deur betrokke te wees by vele universiteits aktiwiteite, sy liefde vir kitaar ontdek en sy vaardighede in musiek aanhou uitbou.

In my (Esté) 2de jaar en in Lourens se 4de jaar het ons vir totaal verskillende redes besluit om in die Stellenbosch Universiteitskoor te sing. Die koor het in daardie jaar China toe getoer vir die wêreld koor spele. Ek het dit beskou as deel van my opleiding (Drama en Klassieke sang) en Lourens wou net graag saam met sy vriende China toe gaan. Nie een van ons het verwag dat ons, ons ander helfte in ’n koor sal ontmoet nie. Dit was liefde met eerste oog opslag. ’n Week nadat ons begin uitgaan het, het ons die band begin.

Oor die nuwe album, Anthelia:

In 2014 het ons ons eerste album, Room With a View, vrygestel. Die sukses van dit het ons onkant gevang en ons het baie begin toer en uiteindelik as voltydse musikante oorsee ook getoer.

In 2017 het ons geweet dat dit hoogtyd is vir nuwe musiek en ’n vars album. Ons was baie gelukkig dat ons paaie gekruis het met die baie bekende vervaardiger, Theo Crous. Hy het ingestem om die pad saam met ons te stap. Ons was vir 8 maande aan en af in studio om al die musiek klaar op te neem.

Daar is vir die eerste keer ook ’n paar Afrikaanse verrassing op die album. Ons het aanvanklik net in Engels geskryf en gesing, maar ons het nog altyd die behoefte gehad om in Afrikaans ook te werk.

Ons het probeer om albei van ons se sterk punte op die album te komplimenteer; Lourens se rock agtergrond, fantastiese kitaar spel en interessante perkusie asook my klassieke stem opleiding. Ons altwee is liedjie skrywers so dit sorg vir goeie diversiteit op die album. Die woord Anthelia beteken die gawe om engele op aarde te kan sien en ons het dit geïnterpreteer as die gawe om die mooi in alles en almal om ons te kan sien.

2. Julle is tans op toer, watter inspirerende terugvoer het jul sover ontvang i.v.m jul optredes en musiek?


'n Groot kompliment is as mense na 'n optrede baie opgewonde vir ons kom vertel hoe geïnspireerd hulle is en dat hulle weer dít wat hulle as hulle passie beskou wil gaan afstof en geniet. Dit is natuurlik ook altyd baie inspirerend om te hoor dat mense regtig jou musiek en skryfstyl geniet en dat hulle uitsien na nuwe musiek uit jou pen. Die grootste kompliment wat ons sover op die toer gekry het, is dat ons 'n internasionale standaard van "show" en klank het en dat ons met gemak Suid-Afrika op groot skaal oorsee kan verteenwoordig.
Om eerlik te wees, kom geen kompliment egter by die gevoel wat 'n mens kry as mense opreg die vertoning geniet het nie. Dit is tog hoekom 'n mens doen wat 'n mens doen; om mense se lewens beter en mooier te maak deur jou musiek. Om te kan inspireer; dit is die grootste kompliment.


3. Vir mense wat julle musiek nog nooit gehoor of julle optredes beleef het nie, hoe sou julle, jul styl beskryf?

Ons is albei multi-instrumentaliste en ons altwee sing. Tussen ons speel ons tussen 10 en 12 instrumente op die verhoog. Buiten die feit dat ons altwee liedjieskrywers is, sorg die verskillende instrumente ook vir baie diversiteit in die musiek wat ons speel.

Ons vertel graag die stories agter die musiek en ons glo dat min dinge op ’n verhoog so kragtig is soos ’n passievolle, energieke optrede. Dit sorg vir ’n teatrale gevoel aan ons optredes.

Ons musiek is folk-pop met elemente van rock en blues en ’n tikkie klassiek. Ons glo in goedvoel musiek met 'n sterk boodskap!


4. Is musiek-maak iets wat julle nog altyd saam oor gedroom het?

Vir so lank as wat elkeen van ons afsonderlik kan onthou, wou ons musikante wees. Ongelukkig in ons kultuur en omstandighede was dit nie noodwendig altyd 'n rigting wat as 'n beroep beskou is nie en het dit nooit realisties gevoel om dit na te jaag nie.

Die "band" het toevallig begin uit 'n "regte plek, regte tyd" tipe scenario waar ons as studente in die wynlande was en by funksies en privaat geleenthede kon begin optree. Só kon ons volgelinge bou en het ons 'n platform gehad om te toets hoe ons eie musiek afgaan by gehore. Dit het natuurlik gegroei en gegroei en voor ons ons oë kon uitvee was die moontlikheid daar om dit as 'n volwaardige loopbaan te beoefen.

Ons het dus nooit kon droom wat vir ons voorlê in die musiek industrie nie, maar ons het beslis gehoop dat dit 'n realiteit sou kon word om dit saam as 'n beroep te beoefen. Dit is definitief 'n droom wat vir ons as individue en as 'n paartjie waar geword het.


5. Ons fokus ons nuus daarop om mense te inspireer om te doen wat hulle geniet om te doen en hul passie, talente en drome uit te leef - "don't die with your music still inside you.".... Watter raad het julle vir 'n Sleepvoet-Dromer met baie talent, maar min waagmoed?


Dit is belangrik om te verstaan dat jy as musikant met 'n klomp mense uit verskillende sektore te make gaan hê en dat dit belangrik is dat baie mense met jou moet kan assosieer.


Dit is belangrik dat jy as kunstenaar jou oortuigings moet uitleef, maar professionaliteit gaan jou baie ver bring. Om te verstaan dat jy jouself as 'n produk en jou musiek as 'n besigheid moet bestuur kan baie deure vir 'n mens oopmaak. Dit help nie jy het die waagmoed om jou passie uit te leef, maar dit word nie goed bestuur nie. Om jou entrepreneurs vaardighede uit te bou sal jou dus beslis minder blootgestel en meer in beheer van jou droom en passie laat.

Die belangrikste is die balans tussen uniekheid en iets wat mense wíl hoor en sien. En dan, bowenal, moet jy werklik geniet wat jy doen. Glo dat jy iets spesiaal en uniek het om te lewer en bied dit so aan dat mense nie anders kan as om op jou en jou handelsmerk verlief te raak nie!

6. Ons tema vir Junie/Julie is "YOU ARE NOT WHAT YOU DO." (Ons is human beings nie human doings nie...) Stem julle hiermee saam en watter gedagtes het julle om te deel oor hierdie tema?

Absoluut. Soveel soos wat prestasie gedrewendheid al mense kon motiveer, soveel het dit ook al baie mense ontneem van dit wie en wat hulle werklik is en moet wees. Die kultuur in ons land is baie ingestel op wat jy doen, maar mense met wysheid en baie lewens ondervinding sal baie vinnig eerder met jou gesels oor integriteit en wysheid, want as jy dít het kan jy 'n lewens veranderende lewe leef, maak nie saak wat jy doen nie. Solank jy eg bly aan wie jy is, is wat jy doen net 'n uitvloeisel van jouself.

7. Watter suid afrikaanse musiek/kunstenaars inspireer julle?

Johnny Clegg; vir sy ongelooflike musiek, sterk karakter en fokus op versoening
Karen Zoid; vir haar diverse loopbaan en massiewe bydra tot die 

Suid-Afrikaanse musiek industrie se kwaliteit en standaard.
Koos Kombuis; vir sy liedjieskryf vermoëns
David Kramer; vir sy unieke en vars aanslag op storie vertelling en musiek
Jeremy Loops; vir sy massiewe internasionale loopbaan sonder dat hy ooit kommersieël was.


8. Hoe kan mense julle kontak of jul doen en late volg? 

Ons is baie streng daaroor dat 'n mens nie opgeskeep moet wees in sosiale media nie, maar ons glo ook daarin as 'n baie genotvolle en gerieflike manier om in kontak te bly met die mense wat belangstel in ons musiek. Vir daardie rede is ons baie aktief op sosiale media en mense kan ons gerus op die volgende platforms volg:
Facebook: https://www.facebook.com/Bottomlesscoffeeband/
Instagram: https://www.instagram.com/bottomlesscoffeeband/
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCkYRrfS-mQyKWBGIGwr_-eA

Ons het ook 'n nuusbrief waarvoor mense kan opteken. Ons stuur dit maandeliks uit met datums en nuus. Teken gerus hier op: www.bottomlesscoffeeband.com


9. Gunsteing quote/poem/gedagte op die oomblik?



"Forever Young" - BOB DYLAN
May God bless and keep you always
May your wishes all come true
May you always do for others
And let others do for you
May you build a ladder to the stars
And climb on every rung
May you stay forever young
Forever young, forever young
May you stay forever young.

May you grow up to be righteous
May you grow up to be true
May you always know the truth
And see the light surrounding you
May you always be courageous
Stand upright and be strong
May you stay forever young
Forever young, forever young
May you stay forever young.

May your hands always be busy
May your feet always be swift
May you have a strong foundation
When the winds of changes shift
May your heart always be joyful
And may your song always be sung
May you stay forever young
Forever young, forever young
May you stay forever young.


Foto: Riehan Bakkes

Hier is 'n inspirerende video deur Bottomless Coffee Band, REQUIEM - Viva La Vida (Coldplay) en Pie Jesu (Andrew Lloyd Webber) MASHUP. Volg die skakel: 

'n klein vonk kan 'n groot woud laat brand #nasieinspirasie

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde