Slaan oor na hoofinhoud

Wat Weeg Jy - Yolandi Claassens

photo: rawpixel
Wat weeg jy.… die tema kielie my gedagtes, terwyl ek vir my ‘n koppie tee maak om die kreatiewe denke bietjie aan te wakker. Wat weeg jy...

Dit is ‘n tema wat heelwat dieper delfwerk vereis as wat dit op die oog af lyk. Ek dink onwillekeurig aan die woord 'weeg', en dadelik kom die prentjie van my badkamerskaal wat so ver weg geb
êre is dat ek dikwels vergeet presies wààr hy sy tuiste vind, by my op. Ooo die vrees wat daardie gehate skaal te weeg kan bring! Oor die Kersseisoen was daar so baie gebraai en gepeusel…om van die Kersete nie eers te praat nie! Dit was behoorlik ‘n ‘oorvreet’ sessie, en toe wag die koekstruif ook nog! Teen die 1ste Januarie kon ek nie net voel hoe my denims geleidelik al hoe stywer begin span nie; die gehyg na asem wanneer ek van my kar na my woonstel moes stap, was ook duidelik hoorbaar! Ek het die skaal nader gehurk en wraggies…. Dit was nie ‘n mooi prentjie nie! Alles wat ek oor die feesseisoen by my mond ingedruk het, het verseker om elke hoek en kurwe van my liggaam gaan vassteek en sommer behoorlik nes geskop! Daardie skok het so swaar geweeg, die skaal is sommer reguit diep, ver onder die kas in weg gebêre!

Nouja, hier sit ek onwillekeurig en dink aan iets wat eintlik nogsteeds baie swaar op my gemoed weeg - my klere pas amper nie meer nie! Gemoed weeg… hmmmm… Ai hoe kwaad is ek nie vir myself nie; ek kon immers beter selfbeheersing aan die dag gelê het! Maar nee, nie ekke nie! Daardie ekstra skeppie koekstruif – dit was net te aanloklik! Die gemoed is sommer weer van voor af swaar terwyl ek daaraan dink! Hoekom weeg die skuld gevoelens dan weer so swaar vandag? Hoekom pla dit my nou weer ewe skielik so? Weeg…

En dan tref dit my soos ‘n emmer yskoue water, wat my opnuut amper weer onmiddelik vyf milimeters laat krimp van skok! Die vraag is nie wat èk weeg nie, maar eerder hoeveel my lièfde weeg – my liefde vir myself, my liefde vir ander mense en my liefde vir God…

Onmiddellik verskyn die prentjie van ‘n weegskaal voor my - daardie outydse skale met die twee koper bakkies wat weerskante hang, sodat jy die gewigte van dit wat jy afgemeet het kan balanseer. Hoekom juis ‘n skaal wat balanseer? Dink Yolandi, dink!

Ek glimlag vir myself terwyl ek oor my eie lewe begin nadink – ek hou van vergelykings maak. Ek identifiseer met sekere situasies en trek dit dan na myself toe; vra myself hoe èk met hierdie onderwerp kan 'relate', hoe dit betrekking tot my eie lewe het. Wanneer ek dan daardie konneksie gemaak het, sal ek dikwels terug sit en myself afvra, wat het ek nou hieruit geleer? Want dis hoe ek groei; hoe my brein funksioneer!

Skielik vind ek myself besig met introspeksie – tot die prentjie van die weeg skaal weer voor my verskyn. In die een bakkie het ek die liefde wat ek vir myself ge-eien het, met selfvertroue geplaas. Die bakkie het nie juis baie beweeg nie, maar hy het darem wel! Ek het daarna my liefde vir ander mense gevat en in die ander bakkie geplaas. Skielik het hy gesak! Die gewig wat my liefde vir ander gedra het, was swaar! Vir ‘n oomblik het ek verstar na die skaal gestaan en kyk. Ek kon dit nie verstaan nie! Daar was duidelik geen balans nie. Die een bakkie het neus in die lig regop gestaan terwyl die ander bakkie al die gewig gedra het! Met ‘n frons op die gesig, het ek my hande uitgesteek na die derde bakkie wat nog op die tafel staan – my liefde vir God. Met beide skaal bakkies reeds gevul, het ek gewonder hoe ek nou gaan maak – my liefde vir God moes immers ook nog ingeweeg word…

Ek moes besluit hoe ek my liefde vir God in die twee onderskeie skaal bakkies gaan opdeel – ek was natuurlik deeglik bewus van die feit dat die bakkie met my liefde vir myself baie ligter weeg as my liefde vir ander mense. En balans is immers belangrik, so hoe sou ek hierdie een aandurf? ‘n Bietjie meer in die bakkie met die liefde vir myself plaas omrede hy reeds so lig in gewig was en dus so effense hupstootjie benodig het? Of in gelyke helfdes, ongeag die skaal bakkies se huidige gewig situasie, en dan kyk waar ons op eindig? Dink dink dink…

Deel dit gelyk op, was die antwoord aan myself. Nouja, mooi geskat tot die beste van my vermoë, het ek dit uiters sorgvuldig mooi in die helfde opgedeel…

Ewe skielik het die skaal intens begin beweeg – daar was skielik nie meer ‘n wanbalans nie! Die skaal bakkies het beweeg tot direk langs mekaar en daar tot stilstand gekom – heeltemal gebalanseerd…Die feit dat ek dieselfde hoeveelheid eweredig verdeel het in bakkies wat duidelik ongebalanseerd was, was nou ‘n ope vraag.

‘n Frons sal dus ook nie nou onvanpas wees nie; ek het hom immers self gehad! Maar die harde realiteit is; jou liefde vir God bepaal die balans in jou lewe. Wanneer jy God werklik intens lief het, strewe jy ook om soos Hy te wees - om Sy Woord te ken en te gehoorsaam. Dus sal jou liefde vir Hom ook die ander areas in jou lewe, waar jy dalk nog nie heeltemal so swaar weeg nie, aanvul en opvul – want wat is ‘n verhouding met God dan anders as liefde? Liefde groei en liefde vermeerder; liefde raak dieper en wyer en voor jy jou oë uitvee besef jy – dìt is wat liefde werklik weeg....




Geskryf deur: Yolandi Claassens ©


'n klein vonk kan 'n groot woud laat brand #nasieinspirasie
FACEBOOK
INSTAGRAM
TWITTER

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde