Slaan oor na hoofinhoud

ONE VOICE



NUWE MEISIESGROEP DEEL HULLE EERSTE MUSIEK MET DIE LAND

One Voice, Suid-Afrika se gunsteling nuwe musiek-evas, het pas hulle eerste album vrygestel en musiekliefhebbers is behoorlik opgewonde oor die vooruitsig om meer van hierdie vier talentvolle dames te hoor. Die groep, wat beskryf kan word as vier unieke stemme wat saamgesmelt het om ’n vars en unieke popklank te skep, se eerste enkelsnit is nou beskikbaar en is reeds besig om die radiogolwe oor te neem.

DROOMPLANEET is ’n opgewekte Afrikaanse popsnit uit die pen van Lientjie Sothman. Dit is ’n goedvoel-liedjie oor die gevoel wat jy kry wanneer jy verlief is en die polsende ritme, wat jou uitnooi om saam te dans, sluit perfek by hierdie sorgvrye tema aan. “Wanneer jy verlief is op iemand, vergewe jy maklik al sy foute en wil jy graag saam met hom wegbreek na julle eie planeet,” verduidelik die vier oor die betekenis agter hulle eerste enkelsnit wat hulle stemme pragtig ten toonstel. “Ons hoop dat wanneer gehore hierna luister dit hulle sal terugvat na die tyd toe hulle vir die eerste keer verlief geraak het en dat dit hulle vir ’n oomblik weer so sal laat voel.”

ONE VOICE, die groep se debuut-album waarop DROOMPLANEET ook verskyn, bestaan uit nege lekkerluister-liedjies wat spog met moderne klankverwerkings (in Afrikaans en Engels), asook lirieke en temas waarby die publiek beslis sal aanklank vind. Ses van die snitte is splinternuwe oorspronklike werke wat beloof om aan elke musieksmaak te voldoen. “Ons het die titel van die album dieselfde gemaak as die groep se naam, omdat ons onsself en ons musiek so aan die mark wil bekendstel,” vertel hulle. “Elkeen van ons kan ten minste een instrument speel en die liedjies wat gekies is vir die eindproduk, was die waarmee ons self ook kon identifiseer.” Indrukwekkende weergawes van die bestaande treffers, Sucker, Ugly Heart en Secret Love Song, vorm ook deel van die album se speellys.

Die meisies beskou hulle eerste album as die hoogtepunt van One Voice se loopbaan sover en meen dat hulle mekaar se grootste inspirasie is. “Alhoewel ons mekaar nog nie lank ken nie, het ons dadelik gekliek en kom ons baie goed oor die weg. Saam wil ons vir onsself ’n plekkie in die musiekbedryf vestig en ons droom, om musiek te maak vir ’n lewe, bewaarheid. Voor elke optrede bid ons saam, want sonder die Here sou ons nie hierdie wonderlike geleentheid om ons droom uit te leef gehad het nie,” sê die groep.

Volgens One Voice lê al die liedjies op die nuwe album hulle na aan die hart, maar glo hulle dat DROOMPLANEET en Wake Up die potensiaal het om groot treffers te wees as gevolg van hierdie snitte se unieke aanslag.

One Voice, wat bestaan uit Kalinka Kilian, Carla Strauss, Karma Coetzer en Janke Bester, het in 2018 ontstaan nadat die meisies besluit het om hulle musiektalent te kombineer om iets ongewoon met die plaaslike mark te deel. Die groep is passievol oor musiek en straal ’n besonderse energie uit wanneer hulle op die verhoog is. “Ons naam verteenwoordig die feit dat al vier van ons iets uniek in ons stemme het, maar wanneer ons saam sing kom alles mooi bymekaar om een stem weer te gee. En ons almal het een doel met ons musiek – om wêreldwyd bekendheid te verwerf en nog baie suksesvolle albums en radiotreffers uit te bring,” deel die meisies.

Sedert hulle saam begin musiek maak het, het die viermanskap al by verskeie skole, feeste, restaurante en funksies opgetree, waaronder Hoërskool Eldoraigne, LemonJack-teater, Centurion-teater, Oppi Stoep, NG Kerk Rooihuiskraal, Platteland en meer. Wanneer jy hulle vra watter musikante die grootste invloed op hulle eie styl gehad het, verklap hulle dat Little Mix, GRL, Fifth Harmony en Shine 4 hulle grootste musikale inspirasie is. Spoegwolf, Karen Zoid en Early B word ook gelys as plaaslike kunstenaars saam met wie hulle graag eendag sou wou werk as hulle die geleentheid kry.

DIE MEISIES AGTER DIE WYSIES

Kalinka Kilian het haar passie vir musiek reeds as klein dogtertjie ontdek toe haar ouers vir haar ’n klein pienk Barbie-speaker en -mikrofoon gekoop het. Sy was skaars tien toe sy met formele sanglesse begin het en sedertdien het sy ook al verskeie instrumente leer speel en haar eie liedjies geskryf. Dié negentienjarige Musiektegnologie-student geniet dit om in haar vrye tyd te oefen en haarself as musikant te verbeter. Met haar vlymskerp sin vir humor en positiewe uitkyk op die lewe, maak sy ook seker dat haar mede-groeplede lekker lag wanneer dinge stresvol raak. Kalinka luister na ’n wye verskeidenheid genres en verklap dat sy graag ’n arbeidsterapeut sou wou word as musiek nie haar passie was nie.

Carla Strauss, wat haarself beskryf as die probleemoplosser in die groep, sing al vandat sy in graad twee is en daar is niks op hierdie aarde wat sy eerder sou wou doen nie. Volgens dié sielvolle agtienjarige, is sy beslis gebore om in die vermaakbedryf te werk en is dit haar boetie – wat ook ’n musikant is – se passie en liefde vir wat hy doen wat haar verlief gemaak het op musiek. Keaton Henson word uitgesonder as die kunstenaar wat die grootste invloed op haar eie styl gehad het en sy glo dat musiek die krag het om die wêreld te verander.

Janke Bester kon sing nog voordat sy kon praat en het op die ouderdom van tien met sanglesse begin. Volgens die negentienjarige Pretorianer, het sy ’n baie op-die-man-af-persoonlikheid en hou sy daarvan om die leisels vas te vat en dinge gedoen te kry. As sy nie mal was oor musiek maak nie, sou sy ’n beroep in ontwerp wou volg of ’n paramedikus wou word, omdat sy graag mense in nood wil help en ook ’n baie kreatiewe kant het. Alhoewel sy baie van Pop, Rock- en Folk-musiek hou, is Julia Michaels en Noah Kahan haar grootste inspirasie.

Karma Coetzer beskryf haarself as ’n skaam introvert wie se passie vir musiek op die verhoog lewe kry. Sy is verantwoordelik vir die sopraanstem en -harmonieë in die groep. In graad tien, het sy haar eerste liedjie geskryf en dit op digitale platforms begin vrystel, waarna verskeie ander gevolg het. Die geleentheid om, as deel van ’n groep handuitgesoekte sangers, in Amerika te kon optree is een van hierdie diereliefhebber se grootste loopbaanhoogtepunte sover en sy droom daarvan om ’n positiewe rolmodel vir haar volgelinge te wees. Hierdie talentvolle musikant studeer tans Arbeidsterapie, omdat sy graag die geleentheid sou wou hê om mense te kan help. Karma vind baie aanklank by kunstenaars soos Jo Black en Lauren Daigle se geestelike styl.

Om mense se harte te raak met hulle musiek is dié talentvolle musiekgroep se hoofdoel en hulle is tans hard besig met voorbereidings vir opkomende vertonings en om nuwe liedjies te skryf vir hulle volgende album. Die musiekbedryf het hulle geleer om nie toe te laat dat struikelblokke in die pad van sukses staan nie en hulle is opgewonde en positief oor die toekoms.

Met DROOMPLANEET word One Voice se talent in hoofletters aan luisteraars en radiostasies bekend gestel en bewys hulle ook dat dit moontlik is om iets uitsonderlik te skep in ’n musiekstyl wat soms geneig is om gewoon te wees.

ONE VOICE en DROOMPLANEET is nou op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier: https://music.apple.com/za/album/one-voice/1469311205

SNITTE OP DIE ALBUM


Wake Up
Ryk Man
Ugly Heart
Sucker
Droomplaneet
Liefdesrooi
Sonder Jou
You Don’t Own Me
Secret Love Song

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/onevoice4/
Instagram: @_one_voice_
Webblad: www.onevoice.co.za

BESPREKINGS:
E-pos: sanet@onevoice.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za

NASIEINSPIRASIE
sleepvoet dromer #vatvlam

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde