Slaan oor na hoofinhoud

Hart en See : Laurika Rauch & Elvis Blue se vertoning



“Hart & See” : Die vertoning
ALMAL HET ‘N STORIE
geskryf deur iskra

My generasie het almal grootgeword, nie net met Laurika Rauch se musiek nie, maar IN dit....deel van ons soos grond deel uitmaak van die aarde. Ek onthou ook toe ek ‘n tiener was, het ons op ‘n keer, net ek en my sussie, saam met ons tannie Naomi van Hartbeespoort af George toe gery met haar Laurika Rauch “tape” wat ons die hele langpad, tussen ons gesprekke en gekuier deur, vermaak het. Haar musiek was altyd daar toe ek klein was, in die agtergrond, soos daardie ou vriend wat rotsvas bly staan tussen die lewe deur, het dit deel uitgemaak. Ek het die liefde daarvoor eintlik eers werklik ontdek en dit in my hart kom sit op daardie langpad George toe... Dit laat mens eintlik besef watter groot impak liedjies en liedjieskrywers op ons as mense kan hê
asook die opwindende verantwoordelikheid in die hande van ons kunstenaars.
Sommige kunstenaars se musiek laat my dink aan kougom...dit proe net vir ‘n rukkie lekker en dan verloor dit smaak, maar min is die kunstenaars wat langslewendheid en diep spore agter los.
Hoe gelukkig was ek toe ‘n vriendin my nooi om saam met haar en familie die “Hart & See” vertoning met Laurika Rauch en Elvis Blue te gaan kyk by die Atterbury Teater, verlede Sondag, die 12de Julie.
My eerste gedagte was, “WOW”...wat ‘n kombinasie. Laurika eintlik ‘n legende en Elvis Blue ‘n vars, karaktervolle, kreatiewe gees.

Die vertoning gaan begin, daar toegevou in die hitte van Atterbury Teater se verhoog, waar so baie kunstenaars hulle harte en stories al kom deel het. Sommige met ‘n mond vol wond, ander met ‘n ligter hart. Ons almal het ‘n storie.

Die vertoning was ‘n goeie variasie van hierdie krag-kombinasie se saamsing en het ook geleentheid gegee vir elkeen om sy eie hart in ‘n lied te deel. Ek het so bewus geword van die feit dat Laurika Rauch ‘n kunstenaar is, wat net is...
Daar is soveel opregtheid en vreugde wat sy deur haar musiek kom gee en dit dra verseker by tot haar tydloosheid. Waarheid staan mos. En bly staan.
Dieselfde kan gesê word van Elvis Blue. Hierdie is nie kunstenaars wat musiek maak omdat ander mense hulle betaal om dit te doen nie, maar omdat dit deel uitmaak van wie hulle is en die liefde vir dit so natuurlik daaruit vloei soos asemhaal. Mens moet nie in sulke mense se pad staan nie...nee, daardie lig moet jy los sodat hy kan skyn.
Terwyl Elvis Blue, op sy kitaar en oë toe, sy binneste laat uitvloei, was daar so diep gewaarwording van die kreatiwiteit wat hier voor my uitspeel. Dit kan eintlik nie in woorde vasgevang word nie, maar ek kan probeer... Daar is ‘n gesegde: “an artist’s uses a canvass, a musician uses silence”...
Stilte is dit wat hy kom kleur het. In Volheid.

Twee kunstenaars met baie diepte. Een al diep gewortel en ge-ets in ons suid-afrikaanse harte en die ander een sterk oppad! Ek kon nie help om te dink aan die twee profete, Elijah en Elisa, in hul verhouding van mentorskap en die mantel wat Elijah vir Elisa agtergelaat het as simbool van die werk waarmee hy kon voortgaan.  Dis net toe dat Laurika die “Davidsring” aan die gehoor verduidelik...

(Meer hieroor: Die Louis Davidsring - vernoem na die komediant - is sedert 1948 agtereenvolgens gedra deur Heintje Davids, Wim Kan en Herman van Veen. Die een wat die ring dra mag self bepaal na wie die ring gaan, maar as ‘n reël gaan dit na 'n jong talent. Die prys geld as één van die belangrikste onderskeidings op die gebied van die kleinkunste.)

”As ek so ring gehad het, het ek dit vir Elvis Blue gegee.” ...Het Laurika gesê. Dit, het ek gedink, was besonders spesiaal...

Wat doen ek nou met al hierdie egtheid, opgewondenheid en kreatiwiteit waarmee hulle my en ander kom bedien het?

Dis ‘n vonk wat al my eie laaglopende passies weer kom vlam gee het. Ek wat self liedjies skryf en sing (..en my huismense bietjie uitput omdat ek soms by die eerste strofe vashak wyl ek skryf aan ‘n ding. Dan sê my man...”tweede vers asseblief!, tweede vers....” haha!)

So nou kan ek weer verder brand. Geinspireer.

Wat is jou vonk?...
Wat is jou storie?...
Moenie opgee nie.
Ons almal het ‘n storie.
Ons almal inspireer.

TERLOOPS!...as jy onseker is oor hoe passie LYK, koop die “Hart en See” DVD en hou die klavierspeler dop!

NasieInspirasie: a tiny spark can set a great forest on fire.

Groot Dank aan Heleen & Francois van Wyk. Heleen omdat jy verjaar het (hier moet ek ook jou Ma bedank...)En Francois vir die lekker aand uit!


Opmerkings