Slaan oor na hoofinhoud

Land Liefde Op Dowe Ore?


Vroëer in Junie het Bouwer Bosch en Lucinda Neethling (Die Melktert Kommissie) hulle treffende saamwerk EP/album, "Waar Die See Die Kus Omhels", bekendgestel. Dit het gevolg met ‘n landswye toer en ek en my man was bevoorreg om namens NasieInspirasie hulle optrede die 29ste Junie by die pragtige wynplaas, Jakkalsvlei, net buite Mosselbaai, by te woon. 


Met aankoms het Bouwer ons vriendelik by die deur gegroet en vertel hoe organies en natuurlik hierdie inspirerende saamwerk projek onstaan het, net nadat hy en Lucinda die nuwe Straatligkinders liedjie, Herinner ft. Lucinda Neethling, se musiekvideo geskiet het.

Ek stap in en wonder op 'n stadium of ons kreatiewes soms te veel karring met inspirasie se golwe? Ons maak soms ons eie, onnodige golwe, in plaas daarvan om gereed (met die klem op gereed) te lê en wag en dit dan net volluit te branderplankry as dit verbykom? Wie weet? Al wat ek weet is dat wanneer ek die musiek ‘Stroom’ (Stream) soos Bouwer en Lucinda laggend daarna verwys het, en ek dit van die verhoog tot doer agter by Jakkalsvlei se kuier-stoep hoor weergalm, weet ek hulle was beslis gereed vir die inspirasie golwe wat getref het… Die musiek is rou, eerlik, oorstromend met tye, diep tog veerlig.

Bouwer het almal gereeld aan die lag met sy snaakse op-en-aanmerkings en hy skop die geleentheid af met die bekende liedjie wat hy en Roan Ash saam geskryf het, “Sy Klink Soos Lente”. Die gehoor sing lekker saam. Daarna begin Bouwer en Lucinda met hulle eerste liedjie, ‘As Ek’. Lucinda se stem het ‘n verrassende suiwerheid wat mens in vervoering neem. Die twee se stemme vul mekaar so goed aan soos wat hulle neem en gee en voortgaan om hulle harte met die Jakkalsvlei gehoor te deel. 


Na so paar liedjies sit ek terug en kyk rondom my. Mense eet, drink wyn en kuier lekker. Klein kindertjies hardloop deur die restaurant asook die bekende Jakkalsvlei hond, Bono. ‘n Gesuis en gedruis van gaste se gesels en lag terwyl die musiek speel… ek wonder of hulle regtig hoor wat hier gebeur en hoe spesiaal dit is? Val dit dalk op dowe ore? 
Ek wonder of daar van hulle is wat dalk op hierdie mooi uitmis terwyl hulle hier is? Ek hoop nie so nie, maar ek weet ook ek is redelik ernstig van aard en effens obsessief as dit by musiek kom… Wanneer ek ‘n goeie liedjie in ‘n winkelsentrum hoor speel terwyl ek inkopies doen, dan staan ek stil of loop lang ente in die gange. Ek luister die liedjie, of die beste deel daarvan, eers klaar voor ek die winkel verlaat. Ek weet, dis dalk effens crazy, maar kan dit nie altyd help nie!



Die gehoor bars dan uit in ‘n groot applous en ek besef daar is beslis aandagtig geluister. ‘n Hele paar goue-getroues wat hierdie duo ondersteun met hart en siel. Ek voel so bly en trots op ons alternatiewe Afrikaanse musiek wat so groei en vertak, iets met ‘n bietjie meer diepte as die gewone musiek wat elke dag op die radio speel. Veral as ek na die lirieke luister, dan weet ek daar is nog soveel meer beskikbaar vir ons kreatiewes om te ontdek en te skep. 



Bouwer en Lucinda deel ook beurt vir beurt die platform; Bouwer met sy liedjies en Lucinda met gewilde ‘Melktert Kommissie’ liedjies. Bouwer was nog altyd lief daarvoor om die weerlose, stukkende kant van die lewe te kommunikeer deur sy musiek. Amper soos om na ‘n moderne Psalm te luister. Die liedjie, GOLIAT, is vir my ‘n hoogtepunt en die atmosfeer, wanneer hy dit vertolk, tasbaar. Ek kan nie sê dat daar iets spesifieks aan hierdie liedjie is nie, miskien was dit net een van daardie: Jy-moes-daar-gewees-het-om-dit-te-verstaan oomblikke. Dit het net ‘n treffende gewig gehad wat my baie geraak het. Die lied, SMEEK is vir my ook besonders, eintlik maar ‘n gebed… OOGKONTAK en PLEIT bly maar net  gunstelinge (alles snitte vanaf hulle nuwe album). 




Lucinda het die hele Jakkalsvlei in samesang toe sy “Proudly South African” sing met Bouwer ondersteunend op die Tamboeryn. Na ‘n klein blapsie of twee lag ons almal lekker saam en die musiek gaan voort (Because Life happens). Die gehoor is min gepla, klap al hoe harder hande, die atmosfeer so lekker en so lig. 

Dankie Lucinda en Bouwer dat julle ons met julle musiek kom bederf het. Dankie aan Jakkalsvlei vir lieflike wyn-proe en bevonkte pizza en ook aan ons fantastiese kelnerin, Wynonia wat haar pen vir my geleen het toe sy sien myne wil nie meer skryf nie. As jy jou seer met ‘n kus wil omhels, doen jouself 'n guns; gaan kyk die vertoning, laai hierdie unieke album af of “stroom” dit dan net na hartelus.

Tot die golwe (en ons) gereed is.

Groete,
iskra 



NASIEINSPIRASIE
sleepvoet dromer #vatvlam


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '...

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met ...

Droom Soos 'n Kind

Vir die Nasie-tema: SOOS 'N KIND, het ek nogal baie te sê! Ek het, 'after all', 4 kinders. Jip 4. Bid asb vir my. Haha...dis wat 'n oomie nou die dag in 'Pick 'n Pay' se parkering vir my ges ê  het toe my jongste nie in sy kar-stoeltjie wou klim nie en sy ander boeties oral om die kar bedrywig is. Sussie rustig op haar foontjie, rol net haar oë vir haar boeties. Hy het geglimlag en gesê "Ek bid vir jou". Ek het gegiggel en gesê: "Dankie. Dis wat my aan die gang hou, almal wat vir my bid." Grappies op 'n stokkie.  SOOS 'N KIND  laat my dadelik dink aan Heidi: kaalvoet, sorgeloos en huppelend gelukkig! Ek het myself altyd vereenselwig met haar en wou soos sy wees. Ek onthou my Juffrou se boodskap in my handtekening boekie van Graad 7 "Bly altyd so vriendelik en lewenslustig"....... En dan besluit jy plegtig: maar natuurlik sal ek, ek belowe Juffrou!  Dis mos maklik om net te wees wie jy is. Maar dan gebeur die lewe...