Slaan oor na hoofinhoud

Wintervriend - 'n Kortverhaal




Wintervriend
#nasieinspirasie
Johané van den Berg

“Nee, genade, die koue is stadig maar seker besig om my onder te kry hier op die berg,” bibber die jong donkerkop klappertand deur lippe wat al ligblou uitslaan in die ysige skerp luggie. Haar groen oë glinster ontevrede.
“Nonsens, Juanita!” Haar buurvrou lag en skud haar dik ledemate heen en weer deur die enorme parka-baadjie, en die houtvloer van die dek onder hulle sidder effens onder haar gewig. “Jy bly nou in Lesotho. Die regte koue het nou eers begin, jy moet nie nou al kerm nie.”
Juanita loer nukkerig en wantrouig na die vries-vaal wêreld van onder haar wolmus.

“Toe ek die pos hier bo aanvaar het, het ek geweet dit gaan nie ʼn grap wees in die winter nie, maar ek het waaragtig nie besef dit gaan so erg wees nie. Waar is daai danige winterson waarvan julle my vertel het?” Haar stem, gewoonlik vol lewenslus, word deur die bloedrooi serp en die wind gesmoor.
“Koue hierdie tyd van die jaar beteken sneeu, sneeu beteken toeriste en toeriste beteken besigheid. Jy sal nog leer, so min soos wat dit soms lekker is, jy het die winter nodig.”

Bea blaas haar asem uit met die houding van iemand wat ou vyande en groot vriende is met die koue seisoen, ʼn geamuseerde uitdrukking wat speel om haar wye mond.
“Jy sal ook later daaraan gewoond raak. Gee dit kans, jy het skaars ʼn halwe jaar gelede hier bo kom intrek. En die restaurant doen weer goed nou dat jy hier is, almal wat hier stop lewer net kommentaar op die lekker kos wat jy kan maak.” Bea kyk na die dun beentjies wat soos stokkies onder die dik klere van haar buurvrou uithang en skud haar kop moedeloos.

“Ek verstaan net nie hoe jy so maer kan bly nie.”
Van die restaurant se dek wat uitkyk op die vallei in die verte, loer Juanita na die dowwe grys wolke wat tussen die berge deur wieg. Hulle hang laag oor die Sani Pas, soos 'n vaal, uitgewaste tafeldoek wat eens op ʼn tyd wit was. Die enigste rede vir haar slanke figuur is dat sy gewoonlik haar eetlus verloor wanneer sy emosioneel is. Na haar egskeiding 'n jaar gelede het sy dit nooit regtig terug gekry nie, maar gelukkig het haar kook-en-bak talente nie saam in die slag gebly nie. Nadat die papierwerk uiteindelik afgehandel is en sy en Braam amptelik geskei is, kon sy dit eenvoudig nie meer alleen in die huis hanteer nie en het sy die plek verkoop. Tien jaar se huwelik is by die drein af met Braam se niks-werd verskoning van “dit gaan vir my nêrens heen nie”.
Sy het aanvanklik alles ingesit om dit weer te maak werk. Sy het nog altyd gedink hulle het ʼn baie bevredigende samesyn, en sy was bereid om berge te verskuif om dit te red,maar die lusteloosheid wat in Braam se oë ingetrek het, het haar klaargemaak. Hy het haar aangekyk asof sy die lewensbloed uit hom tap.
Op die ou einde het sy die papiere geteken sodat sy in hemelsnaam net van daardie kyk weg kon kom.
“Ek was darem bitter bly gewees toe ek jou gekry het om die arme ou Petronella se plek in te neem,” onderbreek Bea se glimlaggende stem haar veraf gedagtestroom. “As ons nie blitsvinnig iemand gekry het om die mense te voer wat hier bo kom toer nie, sou ek self die kos moes maak vir Sani Mountain Lodge se gaste. En die Liewe Vader weet dit sou nooit deug nie!” Haar vrye, sorgelose lag weerklink weer, en Juanita verwonder haar van voor af aan die vreemde lewensstyl wat sy half per-ongeluk hier ontdek het.
Sonder die stres en streef van die stad, die geraas en ligte en die nagmerries wat haar tot laat wakker hou, asook die ongeskiktheid waarvoor Johannesburg so bekend is.
Sonder Braam. Haar glimlag word bitter as sy aan hom dink.
“Weet jy, Bea, dis moeilik om te glo dat my lewe oor die tydperk van ʼn jaar so radikaal kon verander het. Die helfte van die mense wat ek tans my vriende noem het ek ʼn paar maande gelede nie eers geken nie. Tog weet julle alreeds meer van wie ek is as wat die mense tuis ooit regtig het.”
Die geniepsige winter het hulle forseer om saam te staan om warm te bly en te oorleef hier bo die Pas. Dit is nie grappies is om die gevaarlike bergpas alleen uit te ry nie, dus vertrek mens net eenmaal ʼn maand na Underberg onder in die vallei om jou kruideniersware te gaan aanskaf. Noodsaak veroorsaak dus dat hulle maar so oor en weer leen wanneer een van hulle iets kort.
Juanita moes geleer het om sommer vinnig haar trots te sluk en haar stadsmaniere agter te los. Die mense hier bo op die berg is warm en vol lewenslus, sonder fieterjasies en aangeplaktheid. Gewone boeremense wat vir mekaar omgee en jou sommer uit die staanspoor laat welkom voel.
Bea glimlag tergend vir haar. “Mens kan nogal baie van iemand leer wanneer dit te koud is om enigiets anders te doen as om koffie te drink. En jy het dit maklik gemaak, jy wou net praat!” Juanita bekyk weer die vallei onder die gekreukelde grys tafeldoek. Die wind lyk soos ʼn spook wat deur die wolke dartel, eers in en dan weer uit, sonder dat mens sy paadjie kan volg. Die harde werk het haar gedwing om van haar eie pyn te vergeet. Sy het weer ʼn doel gedien, een wat vir baie mense saak gemaak het. Die herberg sou moes toemaak as hulle nie ʼn goeie kok kon kry nie. Haar baie jare se ervaring in die stad se top restaurante het haar ook gehelp om vinnig aan te pas. Sy word hier natuurlik heelwat minder betaal, maar dit kan haar op die oomblik nie minder pla nie. Sonder dat sy dit besef het, het die kosmaak en kuiers haar terapie geword.
Aan die begin was sy gefrustreerd met die winter, want dit dwing jou om die hele tyd rondom mense te wees, anders verkluim jy in jou eie eensaamheid. Maar dit het die gesond-word proses aangepor, en sy kon al die vuil wasgoed van die egskeiding uitpak by Bea sonder om bang te wees dat sy haar sou veroordeel.
Die wind sny oor haar wang en sy ril weer. Maar dié keer is dit sonder die afguns wat sy gewoonlik voel in die koue.
“Ek was eers bang dat ek gaan opdroog hierso. Ek het nie geweet wat om te verwag nadat ek so kop-eerste in die ding ingespring het nie. Maar die winter het my vriendelik behandel, sonder dat ek dit regtig besef het. Hoe sê die Engelse? ‘Tough love’.” Sy glimlag meewarig. “Ek het dit seker nodig gehad, al wou ek dit nie erken nie.”
Bea gooi ʼn gewigtige arm om die klein skouertjie en hou haar liggies vas.
“Ja-nee, die ou ysbeer het daardie manier. Vir ons wat hier grootgeword het is dit niks nuut nie, maar jy sal nog baie dinge hier leer wat mens nie op ʼn ander plek kan kry nie.”
ʼn Vier-by-vier kom moeisaam die berg uitgeklim en Bea fluit uitgelate. “Hiert, hier’s vars bloed! Nuwe toeriste! Kom, ek kan jou nou al sê hulle gaan honger wees. Ek is buitendien lus vir nog koffie en daardie boos-lekker beskuit van jou!”

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

THE ROAR

Dis lanklaas wat 'n fliek my so opgewonde gehad het dat ek my man wil afvlieg om die uitsending in George te gaan kyk. Die fliek waarvan ek praat is THE ROAR, 'n Frans Cronjé film, wat ek onlangs in Pretoria met die vertoning daar gaan kyk het vir resensie doeleindes. Die film stem so wonderlik ooreen met Nasie se leuse en hartklop...
Die hele fliek gaan daaroor om uit te vind wat jou lewensdoel is, dit raak te sien en om dit te bereik. Spreker, Gustav Gous was ook daar gewees. Hy praat gereeld oor lewensdoel en sy insprake was vir my baie spesiaal gewees. Hy het gesê mense dink hulle het net een doel, maar ons het eintlik ten minste 9 doele wat God vir ons elkeen uniek gemaak/gegee het. Dit was vir my 'n baie lekker ervaring en veral om te sien hoe opgewonde Frans Cronjé is oor hierdie film!
The Roar vorm deel van 3 verskillende films onder die Purpose Campaign. 6 Below wys reeds by lokette, The Roar en Victor is die ander twee en word die 2de Maart en die 13de April bekend…

Hennie Meyer Ceramics

Hennie Meyer is 'n keramiek kunstenaar van Kaapstad. Sy klei-kunswerke wek kalmte, nuuskierigheid en bewondering. 


1.Wanneer het jy jou passie om met klei/keramiek as medium te werk ontdek?
Ek is die jaar na matriek as Rotariër uitruilstudent na Australië. Dit was in 1984. Die skool in Australië het geweier om op daardie stadium ’n “wit” Suid Afrikaner in die skool in te neem. Die enigste tersiëre instansie wat bereid was om my te onderrig was die plaaslike technikon en ook net die kunsdepartement! So ek was baie gelukkig om heeltemal toevallig vir ’n jaar lank ’n diploma in keramiek te kon doen. Die medium het my perfek gepas. Ek het teruggekom en kunsonderwys op Stellenbosch studeer. Op Stellenbosch was ’n wonderlike dosent in keramiek, David Steele, wat my liefde vir klei verder aangemoedig en ontwikkel het.

2. Wat inspireer meeste van jou werk?

Die klei self is die sterkste inspirasie. Klei is ’n wonderlike medium. Wanneer ek met die klei werk is ek baie bewus van die proses. Hie…

#withlove - #metdieliefde

Guest at your Table is a collaborative project by artists from the Garden Route, South Africa. Inspired to bring change and spark others to do the same. 

It started as a busking project to collect funds for the homeless, but we decided to take it a little further...

Download this song for FREE!!! If you wanted to purchase it; rather pay it forward with a random act of kindness; be it to a charity or a person in need!!!
#R10challenge
Download HERE

Artists: Janine Fourie Musisean Hakkiesdraad Hartman Chadd Poggenpoel Carel & Riska Du Plessis

Recorded & Produced by: Jo Ellis Music www.joellismusic.com

a tiny spark can set a great forest on fire
#withlove #metdieliefde #nasieinspirasie #nationinspiration