Slaan oor na hoofinhoud

Jak de Priester - 15 JAAR


Foto: Gert Mulder
Na vyftien suksesvolle jare in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, het Jak de Priester beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie bekroonde Pretorianer, met sy sielvolle stem, betekenisvolle lirieke, ritmiese musiek en vermaaklike verhoogpersoonlikheid, het oor die jare diep in sy ondersteuners se harte kom nesskop. Vandag is dié Sally Williams Nougat-sanger ’n gevestigde naam, met nege studio-albums, ’n kinderalbum- en DVD, ’n boek, ’n digbundel en verskeie verhoogproduksies op sy kerfstok. Hy het ook in 2012 televisieaanbieder by sy indrukwekkende CV gevoeg.



Ter viering van sy vol en suksesvolle loopbaan, het Jak onlangs ’n splinternuwe album, 15 JAAR, uitgereik, vol moet-hoor-snitte, wat luisteraars van begin tot einde sal bekoor. “Ek wou graag my vyftien jaar in die musiekwêreld met ’n album vier. My temalied is ‘15 Jaar Met Klavier En Kitaar’, so hierdie is ’n produk van hoe my vaardighede as liedjieskrywer oor die jare gevorder het,” vertel die sanger. “Die temas op die CD wissel tussen ons land en sy mense, kinders, vriendskap, ervaringe van gaste wat saam op ‘Reis na Gister’ was, liefde en nostalgie.”


Album nommer nege bestaan uit sewentien oorspronklike snitte, uit sy eie pen, wat sorgvuldig uitgesoek is om die sukses van sy loopbaan in ’n neutedop vas te vang. Buiten vir komiese nommertjies en pragtige liefdesliedjies, is daar ook opwindende samewerkings met kunstenaar soos Steve Hofmeyr, Dr Victor, Bianca Pelser, Koos Kombuis en Charl du Plessis (die pianis) ingesluit. Soen die Reën, saam met Steve Hofmeyr, is binne vier-en-twintig-uur na vrystelling deur 107 000 mense geluister op Vimeo en sosialemedia het behoorlik gegons oor die twee sterre se emosionele duet. “Ek is baie trots op die emosie wat ek en Steve geskep het met ons liedjie, maar elke snit op die album het sy spesiale plek. ‘Rigtinglose Mense’ het ek saam met Koos Kombuis geskryf, ‘Boervrou’ is vir my ma, ‘Drakensberge Liefde’ vir my vrou en ‘Mika se Song’ vir my laatlam. Dit is vir my lekker om te sien watter impak my liedjies op die gehoor het tydens my vertonings,” sê hy.


Die nuutste enkelsnit, Reënboog oor Suid-Afrika, beloof om aan selfs die kieskeurigste vereistes te voldoen. Hierdie duet saam met die gewilde partytjiemusiekmaker, Dr Victor, is ’n goedvoeltreffer met ’n baie inspirerende boodskap. “Ek hoop die liedjie word goed ontvang, want die vibe is lekker en die boodskap positief. Dr Victor bring ook ’n lekker edge na die liedjie. Dit gaan oor plekke en ikone in Suid-Afrika... en ook oor die feit dat ons almal hou van eet, dans en speel... daarom moet ons die reënboog terugbring oor ons land... soos dit hoort... want op hierdie stadium is dit elke kleur vir homself”, verklap Jak, wat ook hierdie danssnit self geskryf het. ’n Musiekvideo van die treffer word beplan vir vroeg volgende jaar en hy toer ook tans met sy nuutste produksie,
Jak de Priester - 15 Jaar Met Klavier En Kitaar.


Jak, wat in Parys in die Vrystaat grootgeword het, is al van kleins af doenig met musiek, die verhoog en liedjiesskryf. Sy loopbaan het in 2003 afgeskop, nadat hy die ATKV-Crescendo-kompetisie gewen het. Dit het hom die geleentheid gegee om sy eerste album, getiteld Sally Williams Nougat, op te neem wat ’n groot treffer met dieselfde naam opgelewer het. Hy het ook in daardie jaar ’n Geraas-toekenning ontvang vir Beste Nuweling. Sedert sy debuutalbum, het talle nommer een radiotreffers, toekennings, benoemings en suksesvolle albums gevolg, waaronder Sally Williams Nougat (2003), Strate Van My Hart (2004), Brooklyn ‘Poet’ (2005),Stellenbosch Lovesong (2007), Groen Mamba (2008), 16 Briewe Aan My Baby (2010), Die Liefde Los ’n Spoor(2011), N1 van my Hart (2012), Ek Reis Na Gister (2015) en ’n kinderalbum en –DVD, Myne, Myne, Myne(2014). Hy was ook te sien in verskeie verhoogproduksies soos Underground, Strate Is Nie Stom Nie, Nataniël and Friends, Net ’n Bietjie Liefde Vir Die Langpad, en vele meer.


Die ster is verder ook die skrywer en sanger van verskeie temaliedjies vir kykNET-televisiereekse, waaronder die gewilde sepie, Binnelanders, 10 uit 10 en Reis na Gister, waarvan hy ook die aanbieder is. Die reeks is tans in sy vyfde seisoen en het vir hom in 2015 ’n nominasie as Aanbieder van die Jaar besorg. Jak skryf in 2017 die temalied van die nuwe Afrikaanse fliek, Hoener Met Die Rooi Skoene, en vier van sy liedjies is gebruik as deel van die lokettreffer, Semi-Soet, se klankbaan. Oor die jare, het hy nie net die verhoog met gewilde name in die bedryf gedeel nie, maar ook by van die grootste feeste en konserte opgetree, waaronder Huisgenoot Skouspel,Afrikaans is Groot, Innibos Kunstefees, KKNK, en vele meer. Sy musiek is ook gewild oorsee en Sally Williams Nougat was op die Top 20 van ’n Engelandse radiostasie. Twee van sy liedjies is ook opgeneem in die nuweFAK Sangbundel.


Musiek is egter nie die blondekop se enigste talent nie, want hy blink ook uit as digter en skrywer. Hy stel in 2005 sy eerste digbundel, Heuning in die Mond, vry gevolg deur ’n boek, Brood, in 2010. Een van sy gedigte,Onsekerheid, is ook in 2009 ingesluit in die nuwe Afrikaanse Groot Verseboek. Die sanger het ook tussen 2011 en 2015 die rubriek, Pa se Stem, geskryf vir Baba & Kleuter. 


Jak het nog baie planne vir die toekoms en hou daarvan om sy talent met ander kunstenaars s’n te kombineer.“My lewe en die wêreld waarin ons leef, inspireer my. Ek hou van goeie sangers, met ’n kunstige aanslag, soos Amy Winehouse. Sterre soos Johannes Kerkorrel, Amanda Strydom, Koos Kombuis ensovoorts het almal ’n invloed gehad op my eie musiekstyl. Ek geniet ook samewerkings, het al saam met Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Koos Kombuis en Nataniël gewerk, en sal nog graag kragte wou saamspan met Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Karen Zoid en nog baie ander,” gesels hy.


Die bedryf het vir hom baie geleer oor geduld, mislukking, stres, sukses en geloof, maar hy glo nog altyd dat musiek enigiets kan gesondmaak en hoop dat sy nuutste werk, luisteraars se lewens net so sal verhelder, soos die geel agtergrond van sy nuwe CD se buiteblad. 


Foto: Marius Nell
15 JAAR is ’n moet-hê-album vir elke Jak de Priester-aanhanger. Dit is ’n kombinasie van gevoelvolle hartsmusiek en opgewekte partytjiedeuntjies, waarsonder geen speellys volledig sal wees nie. Sy nuutste album en enkelsnit is nie net ’n duidelike bewys dat dié sangsensasie sy gehoor se belange op die hart dra nie, maar ook ’n juweel vol treffers wat nog vir baie jare oor die radio gehoor sal word.


SOEN DIE REEN VIDEO
KLIEK HIER

LIEDJIES OP DIE ALBUM

Hey Christine

Reënboog oor Suid-Afrika met Dr Victor

Drakensberge Liefde

Rigtinglose Mense

Soen die Reën met Steve Hofmeyr

Alles Vir Liefde

As Is Verbrande Hout

Vriendskap se Water

Rose & Jack met Bianca Pelser

Kleinmond Gedig

Stuur Liefde Aan Ou Toks

Niemand Neem Hul Kwalik

Bo-Blink Boogie Woogie met Charl du Plessis

15 Jaar Met Klavier En Kitaar

Boervrou vir Ma

Mika se Song

Halleluja Kersfees

Ek Sny Dit Af


SOSIALEMEDIASKAKEL

Twitter: @JakDePriester

Instagram: @jakdepriester

Webblad: www.jakdepriester.co.za



Volg #NasieInspirasie
Instagram: @iskra_music
Twitter: @iskra

#NasieInspirasie se hart klop om sleepvoet-dromers te inspireer. Waardeer jou eie uniekheid, gebruik jou talente en natuurlike gawes. “‘n Klein vonk kan ‘n groot woud laat brand.”
#nasieinspirasie

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde