Slaan oor na hoofinhoud

"Chameleophobia" - deur Anet Garside




Chameleophobia – of daar so iets bestaan of nie, dis die naam wat ek nou net besluit het, sal die naam wees van die fobie waaraan ek ly/gely het. Die vrees vir verkleurmannetjies.
Almal wat my ken, weet dat wanneer ek buite naby plantegroei is, my oë voortdurend die plante fynkam opsoek na verkleurmannetjies. Dit was maar nog altyd ‘n gewoonte. Selfs in lande waar daar nie verkleurmannetjies voorkom nie, soek my oë na hulle – ek sien takkies waar ek weet hulle gevind sou word as hulle daar sou wees. Wanneer ons in Suid-Afrika ry, soek my oë hulle op die pad. In die verlede het ek al honderde een-een die pad sien oorsteek in woonbuurte – en wanneer ek gestap het, natuurlik plat verdordes wat voorheen doodgery is. Wat vir ander mense soos blare lyk, is dikwels verkleurmannetjies, maar omdat mense nie op hulle ingestel is nie, registreer dit ook nie op hulle radar nie.
Ek het prentjies in my kop soos in ‘n gallery van sekere okasies waar ek hulle gesien het. Byvoorbeeld: ‘n klein donker enetjie om die eenkant van die geel senter van ‘n groterige pers margrietjie met sy gekrulde stertjie op die geel; die groen agterkant van ‘n ander een, met nog swaaiende stert, in die bek van ‘n wit bosluisvoël op die park oorkant die straat; hoog op ‘n telefoondraad op pad na ‘n ander boom; of dikwels ene hakel-hakel,met een voet vorentoegelig, op ‘n tog êrens heen op watter oppervlakte ookal; ‘n paarklein, grys, pasgebore goedjies op die laventelbos versprei by my vriendin se huis;twee verkleurmannetjies wat liefde maak op ‘n hibiscustak voor my ma-hulle se huis. Dis nou ‘n ding om te aanskou. Praat van langdradig. Dis asof die mannetjie tussen bewegings vergeet waarmee hy besig is en eers bietjie rondkyk (oë in verskillende rigtings). Baie snaaks! Ek’s seker ek’s een van die min gewone mense wat dit al gesien het.
Nog ‘n prentjie wat ek in my kop het, is Oupa Brand wat voor die huis net by die trappies af, op ‘n regop stoel in die son sit, met sy swart hoed op sy kop en sy kierie. Op sy hoed se rand loop ‘n grasgroen verkleurmannetjie. Of dit net in my kop is en of dit regtig gebeur het, weet ek nie, want ek weet nie hoe die verkleurmannetjie op sy hoed sou beland het nie. Maar die prentjie is onuitwisbaar in my kop.


Iets wat ek soms gedoen het, was om op ‘n warm dag die tuin nat te spuit met ‘n fyn sproei bo in die bome langs juis om vir hulle water te gee. Partykeer het ek hulle gesien drink. Hulle lek die water met net die vet voorpunt van hulle tonge van die blare af. Eenkeer het ek gesien hoe posisioneer een hom kop onderstebo op ‘n tak, heeltemal vertikaal, sodat die water met sy lyf af loop tot by sy bek en dan drink hy die druppels soos dit daar vorm.
Die fobie het nogal ‘n groot invloed op my lewe gehad. Ek loop nie graag in ‘n tuin naby struike en goed verby nie en ek hou glad nie daarvan om onder bome deur te loop nie. Ek het as kind gesien hoe val ‘n verkleurmannetjie uit die wilgerboom kaplaks op die grasperk voor my kamervenster met die wind se gewaai – reg voor die mooi lover’s bankie wat my ma daar gesit het. Twee voorvalle het ook tot die gevolg gehad dat ek nie juis hou van geplukte blomme nie. Eenkeer was ons op pad na my vriendin Marcelle se verlowingspartytjie in die Kaap – ek in ‘n mooi helder pienk rok met sulke swart rantjies. Ek het vir Marcelle ‘n massiewe bos bright pienk beaugainvillea gepluk wat ek in my hande op my skoot gehou het sodat dit darem nie platdruk voor ons daar kom nie. Toe ons by die garage in Bellville stop om petrol in te gooi, klim daar ‘n bruinerige jong teenager bo by die bos uit – lekker bruin om in te pas by die pienk en bruin blomme en die takkies. Ek natuurlik in ‘n toestand. En toe erger in ‘n toestand toe die petroljoggie hom wil doodmaak. Dit het Stan gekos ‘n lang spanner vat om hom êrens op ‘n tak te gaan sit. (Hy’s ook nie vreeslik mal daaroor om hulle op hom te laat loop nie.) Die ander keer was toe my ma met baie liefde vir my ‘n mooi groot bos michaelmis daisies gegee het – ek het al vir Sebastian gehad. Toe ek in my eie kombuis staan om hulle in die water te kry, vat ek amper aan een wat op een van die takke sit – en dit nogal nadat ek hulle so ligweg deurgekyk het voor ek hulle in die kar gesit het. Ek was total uitgefreak – ek kan onthou hoe’t ek so  op die plek gestaan en trippel met my hande op my mond soos mens maar doen as jy wil gil en nie kan nie. En toe’t ek my ma in trane gebel met ‘n full-on panic attack. Chris het die foon geantwoord en gehoor daar’s moeilikheid . Hy‘t my mooi rustig gekalmeer en toemoes ek al my moed bymekaar skraap en die tak buitentoe vat – ook die res van die bos kon ek nie in die huis hou nie.


Ek werk ook nie graag in ‘n tuin waar ek binne-in die tuin moet staan nie. Ek het wel ‘n lekker retaining wall gehad van sementpotte waarin ek heerlik kruie en goed gekweek het, waar ek niks agter my gehad het nie en waar ek eers elke bos en tak kon deurkyk voordat ek gevat het daaraan. Die eerste keer toe ek regtig wou begin werk in daai einste bakke, toe kom daar ‘n groot groen verkleurmannetjie direk op my ooghoogte na my toe aangestap. Ek moes dit vir daai dag eers los.
Ek dink nou net aan nog iets. In die verlede wanneer ek ‘n nagmerrie gehad het, was daar altyd ‘n verkleurmannetjie êrens in die droom. Ek moet sê, ek het baie lank laas een in ‘n nagmerrie gesien. Mind you, noudat ek daaroor skryf, het ek gisteraand gedroom van ‘n bos by Andries-hulle se stoep oortrek van pasgeboretjies. Glad nie bedreigend gevoel nie.
Ek weet dis ‘n irrasionele vrees, want ek voel glad nie dieselfde oor geitjies en koggelmanders en slange en paddas en goed waarvoor ander mense gril nie. ‘n Geitjie het al met die oopmaak van ‘n deur op my skouer geval en dit was ‘n geval van o, daar val nou ‘n geitjie op my skouer, o daar’s hy nou van my skouer af… Niks buitengewoons nie.
Ek weet nie presies wanneer ek bewus geword het van die vrees nie, maar verkleurmannetjies was van altyd af deel van my lewe. Om te sê ek was omring met hulle, is nie regtig verkeerd nie. Ek het in Kuilsrivier grootgeword, waar my ma vir baie jare die VLV se beker gekry het vir die ‘Mooiste Kleintuin’ of so iets en tussen ons en ons naaste bure , die Ransons, was daar ‘n oop erf waar my pa-hulle bietjie groente geplant het by tye. Die erf is nooit heeltemal toegeplant nie, so daar was maar onkruid en grond op die res van die plot – ramnas en gras en goed – perfek vir verkleurmannetjies om hulle kleintjies op groot te maak terwyl hulle nog klein en grys is, daarna kon hulle oorloop na die lekker geil groen van my ma se tuin, waar hulle lekker hulle groen lywe kon wegsteek.
Van my eerste herinneringe in verband met verkleurmannetjies spruit uit daai ‘leë’ erf langs ons – ons het dit altyd die leë erf genoem net omdat daar nie ‘n huis op was nie… Sien, wanneer my pa ‘n slag die erf skoongemaak het, dan is al die droë gras en bossies en waste droë takke en goed daar ookal in my ma se tuin was van snoeiwerk en skoonmaak, op ‘n groot hoop op die leë erf gegooi en aan die brand gesteek. Soms was daai hoop manhoogte. En dis waar die horror begin:  Uit daai brandende hoop het ek dan verkleurmannetjies sien hardloop. Trapsuutjies? Nee, hulle lig hulself op sodat hulle langer bene het en dan hardloop daai groot groen verkleurmannemet sulke reguit groen sterte relatief vinnig weg van die vuur. Dis ‘n aaklige ding om aan te dink noudat ek ‘n grootmens is, want dit moes pure vrees gewees het wat hulle so vinnig laat hardloop het. Obviously het my ma-hulle dié wat hulle voor die tyd gesien het, afgehaal en in die tuin gelos, maar verkleurmannetjies is mos goeie wegkruipers.


‘n Ander herinnering gekoppel aan die leë erf is dat ons soms vir ons huise gegrawe het waarin ons kon speel. Klink gevaarliker as wat dit was. Ons het sulke vlak slote gegrawe waarin ons kon rondkruip en dan het ons ‘dakke’ opgesit van die takke wat my ma uit die tuin gegooi het. Natuurlik met die odd verkleurmannetjie nog op die tak. Ek onthou iemand het my eenkeer gejaag met een wat ons daar op ‘n tak gekry het – dis my eerste herinnering van die feit dat ek weghardloop het, so ek was dan toe al grillerig vir hulle.
Op die park oorkant ons huis het ‘n paar van ons eenkeer onder die populierboom by die swaaie gestaan. Ek het gevoel iets knobbelrig word saggies agter teen my kaal bo-arm gevryf. Toe ek omkyk om te sien wat dit is, was dit die gekromde ruggraat van ‘n verkleurmannetjie wat ek gevoel het, wat ‘n maat op sy gekromde vinger gehad het wat hy toe so teen my arm gevryf het. Ek is seker dit sou enige mens laat ril het, maar vir my was dit vreesaanjaend. Ek kan nie eers onthou wat my reaksie was nie, ek ken net die gevoel wat dit nou nog in my ontlok. Daai maat moes toe ook al geweet het hoe ek voel oor verkleurmannetjies om dit aan my te doen en nie aan iemand anders in die groep nie. Natuurlik verbeel ek my nou hy het my huis toe gejaag met die verkleurmannetjie, maar dalk het ek net huis toe gehardloop om veiligheid te gaan soek.


Ag en my ma en die tuin. My ma was gedurig in die tuin.Soggens dou voor dag is sy uit buitentoe met haar lang blou kamerjas en pantoffels. Meestal net om bietjie rond te kyk of gou te gaan kyk of haar nuwe saadjies al opkom of om ‘n paar slakke te gaan vang en dan raak sy carried away en voor sy haar kom kry, is sy punt in die wind aan die onkruid uittrek en doenig. Dan kom sy binnetoe – los die nat pantoffels by die agterdeur – en hoéveel keer met ‘n verkleurmannetjie wat êrens aan die opklim is op die blou kamerjas. GRIL! Net om myself in die rede te val: Noudat ek dink aan daai pantoffels van my ma, sy’t ook menige van haar goeie skoene so opgemors in die tuin. Ek onthou byvoorbeeld sy’t so ‘n paar mooi rooi suede ooptoon kerkskoene gehad met ‘n goue randjie op die hakkie. Kom van die kerk af en wil net gou bietjie rondkyk in die tuin – ‘n uur later is die skoene nat en vol nat sand saamgekoek om die hakke. Soos ek sê, sy’t net altyd carried away geraak in die tuin.(Nog steeds…)


Of sy kom ontsteld in om te sê sy’t nou die heining gesnoei en per ongeluk ‘n verkleurmannetjie in die middeldeur geknip of ‘n stert afgeknip of so iets. Kyk, as sy so aan die werk gegaan het, het min goed haar gestuit. As die heining moes af, moes hy AF. Voor etenstyd, of voor sy die wasgoed afhaal, of voor sy wat ookal moes doen, want my ma weet van hoe om soos ‘n slaaf te werk.


Later van tyd het ‘n nuwe boyfriend gedink dis snaaks om hand te skud met my met ‘n jong verkleurmannetjie in sy hand… (daai size wat ek ‘teenagers’ noem.) Dit was voor hy my regtig geken het en daarna het hy my altyd beskerm teen situasies waar iemand anders my moontlik kon skrikmaak met ‘n verkleurmannetjie. ‘n Ander vriend het een in sy mond op sy tong gesit…Ander het my vertel dat dieselfde ou ‘n verleurmannetjie aan sy oor laat vasbyt het sodat dié daar bly hang het soos ‘n oorbel. Alles goed wat prentjies in my kop gebly het.
Goed wat mense my vertel het, het ook nie gehelp nie. Soos my een vriendin wie se ma die kombuis uitgevee het en die deur weggestoot het en so ‘n hyg gehoor het, sy’t weer probeer en weer die gehyg gehoor en toe sy kyk wat aangaan, was dit ‘n verkleurmannetjie wat sy so teen die deurdrumpel vasgedruk het. En die feit dat my liefste broer op ‘n keer vyf van hulle op sy gordyn gelos het en toe gaan slaap het. Die volgende oggend was almal skoonveld. Hulle moes hulle pad buitentoe gevind het, want hulle lyke is nooit gevind nie, maar net die gedagte dat daar vyf van hulle êrens binne was waar dit veilig behoort te wees… Hierdie laaste brokkie is later jare deur my ma aan my oorgedra – ek dink nie ek het destyds daarvan geweet nie anders sou ek seker ‘n verdere knou gehad het! Die blote gedagte daaraan gee my nog steeds koue rillings.


In 1982 het ek vir 7 maande by ‘n seunskool in Athlone onderwys gegee. Natuurlik sou ek nooit daar ‘n woord gerep het oor my fobia nie, want in ‘n seunskool (of enige skool) sou my lewe hel gewees het as die kinders moes uitvind daarvan. Soos die duiwel dit wil hê, was daar wel twee insidente.


Eendag het een van die fyneriger seuns in die standard 7 klas ‘n bohaai opgeskop daar agter in die klas en ‘n sesde sintuig het net vir my gewaarsku dat ek moet oppas. Toe ek vra waaroor die lawaai gaan, sê die outjie iemand het gedurende pouse ‘n verkleurmannetjie in sy potloodblik gesit en dit toe in sy koffer gesit. In absolute paniek en met groot inspanning het ek net kalm opgemerk dat dit regtig nasty is dat iemand so iets aan so ‘n prehistoriese diertjie kan doen en toe vir een van die ander seuns gevra om die verkleurmannetjie asseblief buite in ‘n boom te gaan sit. Ek het die periode deurgesien – hoe weet ek nie – en daarna personeelkamer toe gevlug waar ek ‘n meltdown gehad het. Papnat gesweet, in trane. Dit het groot wilskrag gevat om beheer te kry oor myself en genoegsaam te compose om weer terug te gaan klas toe.


Op ‘n ander keer het ‘n seun voor my by die klas ingestap met ‘n grasgroen verkleurmannetjie op sy afro. Ek het net daar omgedraai en in die personeelkamer gaan vra dat iemand die klas vir my waarneem – gelukkig het een van die onderwysers my uit die situasie gered.


En dan natuurlik het ek self twee seuns gehad. Ek het vir altwee van hulle eers van my fobievertel toe hulle onderskeidelik op 19 uit die huis is.
Joshua was nie juis lus om hulle op te tel nie, maar Sebastian het van hulle gehou. Ek het altyd net kalmpies gesê mens bring nooit ‘n verkleurmannetjie binnetoe nie, want hulle hou glad nie daarvan om binne te wees nie. Wanneer hy buite was met hulle, het ek seker gemaak ek is binne. So oor die algemeen was daar nie vreeslike angstige tye met my eie seuns wat verkleurmannetjies betref nie.


Maar die katte was ‘n ander saak. Sutika, ons eerste kat,was ‘n bietjie kwaai. Sy’t verkleurmannetjies (en ander prooi) gevang en binnetoe gebring om te kom wys – lewendig of meestal half geëet. Toe die kinders klein was en dit was my taak om ‘n verkleurmanntjie uit die huis te kry, het ek myself gestaal, ‘n lang lang stok gaan haal en die verkleurmannetjie eenkant laat opklim. Voordat hy dan tot by my (of halfpad na my) kon kom, het ek hom buite gehad en op ‘n boom losgelaat. Alles baie kalmpies sodat my seuns nie snuf in die neus kon kry dat hulle ma ‘n Achille’s heel het nie.


Twinkels was ‘n softie en het nooit maar nooit iets moedswillig doodgemaak nie. Sy’t een hele dag en toe weer die volgende dag met ‘n klaasneusmuis om die huis en om die garage gespeel. Die arme ding was natuurlik vreesbevange, maar sy’t net lekker gespeel en hy’t op die ou end ontsnap. So ook met ‘n fisantkuiken wat in die tuin beland het. Sy’t net met hom gespeel en nie seergemaak nie. Verkleurmannetjies was vir haar ‘n eindelose plesier. Sy’t hulle ‘skrikgemaak’ deur ‘n bossie te stamp en wanneer hulle hulle dan woeps agter ‘n takkie inswaai, het sy hulle raakgesien. Dan het sy hulle soms met een poot, soms met beide voorpote terwyl sy op haar agtervoete staan, hulle van die takkie afgeskep en dan dra sy hulle versigtig in haar bek binnetoe. Dan lê sy trots en kyk hoe die arme ding oor haar een poot probeer wegloop. Nee, dan help sy hom weer terug met die ander poot. Saggies. Alles mooi saggies. Totdat ek vir Sebastian kan vra om hom te red en buite te gaan sit. Sien, teen daai tyd het Sebastian geweet hulle hoort buite en hy wou ook nie hê hulle moet iets oorkom nie. Sonder dat hy dit ooit geweet het, was Sebastian sulke tye altyd my held, want hy was altyd gewillig om ‘n verkleurmannetjie te kom red.


Twinkels het eenkeer agter ‘n verkleurmannetjie aan in ‘n roosmarynbos ingeklim – totdat sy in die fyn takkies was en toe val sy uit die bos (sonder haar prooi) – dit het ons lekker laat lag. Ek sal eintlik nog eendag ‘n stuk moet skrywe oor haar – sy’t ons baie keer so laat lag. Ons spot altyd en sê sy was ‘n blonde…


Toe ek 40 word, het ek besluit dis tyd om te probeer om van my fobie ontslae te raak, toe gaan sien ek ‘n sielkundige. Hy’t my laat lees en skryf oor hulle en my ook gevra om hulle teken. Ek het met die lesery baie goed uitgevind wat ek voorheen nie geweet het nie. Ek het altyd geweet ‘n verkleurmannetjie lê byvoorbeeld nie eiers soos ‘n akkedis maar, maar gee lewend geboorte aan die kleintjies wat binne-in haar uitbroei (viviparous);  hulle voorpote en agterpote se ‘tone’ is verskillend gekoppel – die voorpote is twee buite, drie binne, die agterpote is drie buite en twee binne;  ‘n pikdonker, amper swart verkleurmannetjie is nie noodwendig net kwaad nie – dit kan ook ‘n swanger ene wees. Die sielkundige  het baie gehelp in die sin dat ek besef het daar is baie mense wat nie sal hou daarvan as ‘n verkleurmannetjie op hulle loop nie, of wat sal skrik as hulle amper aan een raak of op een trap – hulle slaan net nie in sweet uit en kry hartkloppings daarvan nie.  En na die behandeling kon ek hom eenkeer bel en sê ek het aan een se stert geraak. En met die skrywery het hy my ook laat sien dat ek my pa en verkleurmannetjies verbind op ‘n baie nice manier. Ek en my pa het soms Sondagoggende na kerk bietjie verkleurmannetjies in die tuin geloop en soek. Ek kon hulle nog altyd voor enigiemand anders ‘spot’. So het ons een oggend 109 getel. Verstommend as mens dink daar was so baie van hulle.


Maar nie meer nie. Ek is pas terug van Suid-Afrika af. Ek gaan jaarliks huis toe – so dikwels as wat moontlik is aangesien my wortels baie diep lê daar in die Kaap. Die afgelope 3 keer wat ek daar was, was dit vir my baie duidelik dat daar baie baie minder verkleurmannetjies in die Kaap is as voorheen. Eers het ek gedink dis omdat ek so kort daar is dat ek hulle nie sien nie, maar dit is nie die geval nie. Hierdie keer het ek ‘n punt gemaak daarvan om hulle te soek. In Kuilsrivier, in Somerset-Wes en in Worcester – in en om al die tuine en plase waar ek by my pelle en familie gaan kuier het. En ek het nie een enkele ene gesien nie. Ek was eintlik ontsteld, want hulle is deel van my geskiedenis en skielik is hulle weg. Ek weet dit klink vreemd dat dit my ontstig dat die bron van my fobie verdwyn het, maar ek was nog altyd heel trots daarop dat ons hulle daar om ons het. Dis iets wat nie orals gekry word nie – dit was ons s’n. Ek wou hulle nog nooit seermaak of wegmaak nie. Solank ek geweet het waar hulle is, was dit ok. Ek sal seker vir altyd so na bossies en bome kyk, altyd met die hoop om een van hulle daar te sien.

(Anet is 'n Suid-Afrikaner en woon in Darlington, Engeland.
Dankie dat jy hierdie met ons gedeel het Anet, jou briewe is altyd welkom!)



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde