Slaan oor na hoofinhoud

Christiaan - "Thats my Jam"



Ontmoet vir Christiaan Lombard.

‘n Bevonkte musikant met baie vlam, ryk in ervaring, en, in my opinie, ’n uiters talentvolle
Kitaarspeler/Sanger - iemand om dop te hou. Voormalige kitaarspeler vir Albert De Wet en ‘n laaaang lys ander bands!

Christiaan is ook ‘n klank ingenieur en het voorheen Onbeskaamd, Albert de Wet, Glaskas, Radio Kalahari Orkes, Die Heuwels Fantasties en Watershed se klank gedoen. Na al sy jare van harde werk en belaaide ervarings, werk hy vandag, net so hard en duidelik aan sy eie solo loopbaan. As jy jouself in die Witbank of Middelburg omgewing bevind, doen gerus jouself die guns om in sy klankbaan te gaan staan.


1.Hey Christiaan, vertel ons asb ‘n bietjie meer van jouself.


Ek is in Witbank gebôre en bly ook tans daar saam met my vrou en kind. Ek is een van vyf kinders. My Pa is ’n boer en my Ma die direkteur van Witbank Arts Campus, ’n uitvoerende kunste skool. Ek is ’n musikant, sanger en klank ingenieur. My besigheid, “Thats My Jam Entertainment”, het in April 2016 tot stand gekom.


2. Hoe het jou passie vir musiek vlam gevat?

Ek was nog altyd mal daaroor om musiek te luister en te sing, maar toe ek my eerste elektriese kitaar gekry het, op 15 of 16, kon ek nie genoeg kry nie! Dis waar dit vir my ernstig geraak het. Ek wou net in ’n ‘band’ wees!


3. Vertel so bietjie van jou musikale agtergrond, opleiding en ervarings met ander musikante.

In 2002 het ek oorgegaan Engeland toe om ’n jaar te gaan werk daar. Ek het sopas my diploma in klank klaargemaak en ek wou bitter graag êrens in ’n ateljee gewerk het. Ek het gesukkel om dit reg te kry, en toe die geld begin skaars raak, het ek gegryp na ’n posisie as kelner op die Suid-Westelike kus in ’n dorpie genaamd Hope Cove. Die hotel “Lantern Lodge” was baie klein en dit was ewe veel ’n verligting om werk te hê as vervelig daar in die middel van nêrens. Ek wou baie graag bietjie lewendige musiek hoor en kort voor lank het ek te hore gekom van ’n jong kitaarspeler Neil Burns. Hy was blykbaar ’n baie goeie jazz speler en ek het hom toe een aand in Dartington Hall gaan luister. Uitmuntend! Vinnig, kreatief, uniek - ek het dadelik myself vir so paar lesse geboek. Elke week Dinsdag, op my af dag, het ek 4ure altesaam bus gery tot in Totnes om my les te kon vat. Hy was nie ’n baie goeie onderwyser nie, maar ek het maar my notas gemaak en later probeer verstaan wat op dees aarde hy van gepraat het! Ongeag daarvan, was dit ’n hele nuwe wêreld wat vir my oopgegaan het en ek het dol geraak oor jazz kitaar. Wes Montgomery, Kenny Burrell, Joe Pass… Ai dit was vir my mooi! Toe ek vroeg in Januarie 2003 terug in SA was, het ek dadelik aansoek gedoen om musiek te studeer. My Pa het ingestem om te betaal daarvoor, alhoewel dit nie aanvanklik na ’n goeie rigting geklink het nie. Dit is ’n moeilike een om te verstaan as ouer en te motiveer as kind, maar ek dink my ouers kon sien ek was ernstig daaroor. Net ingekom en begin studeer, toe gesels ek en my vorige band, Senile, se kitaarspeler. Hy wil net sing so hulle kort ’n ekstra kitaarspeler…

Daar is ek die nuutste lid van “Underbelly” en dit was lekker harde rock! Ons het baie opgetree en hard geoefen aan die liedjies, maar ek was eintlik nog so verlief op Jazz en moes paaie skei na ’n ruk. Ek wou musiek maak met meer ryk akkoorde en bietjie meer spasie. Ek was op daardie selfde tyd ook in ’n groep “Quiet” saam met my neef en sy meisie. Baie onskuldige liedjieskryfproses en presies wat ek nodig gehad het daardie tyd. Die musiek was innig en mooi. Ek was nie ’n ‘model student’ by TUT nie, maar ek het my praktiese vakke baie geniet en my aandag daartoe gespits. Johnny (Jannie) Fourie was ’n groot invloed! Ek het baie geleer oor jazz, hoe om te luister, op te tree en hoe om doelwitte te bereik. Ons het gereeld gesels oor alledaagse dinge wat betrekking het tot die lewe oor die algemeen. Hy het baie keer gesê; ”Jy kry EEN kans, net EEN!” om vir my die erns te leer van die standaard daar buite - as jy ’n groot geleentheid kry, pak dit met erns aan en moenie net aanneem dit gaan maklik weer verby kom nie! Rondom 2007 was ek kitaarspeler vir “Quiet”, “Mood Swing” en “eMalahleni Jazz Band”. Elk van hulle was baie uniek. Die ervaring wat ek daar opgedoen het sal ek vir niks verruil nie! In 2010 het ek my eie kitaarskool bedryf 6 dae ’n week vanaf ’n musiekwinkel in Witbank en by Ogies skool op Donderdae. Dit het my baie besig gehou en ek het min tyd gekry vir my eie musiek. Mens kan dalk sê ek het bietjie van my geesdrif verloor en met groot frustrasie gesit. In my hart wou ek net ‘jam’ en in die ‘scene’ werk, maar my vaardigheid was bietjie min en ek was baie gereeld uitgeput. Dis belangrik om jou visie met jou mede musikante te deel!

Elkeen het ander doelwitte, ander aanleg, ander sterkpunte. Vra jouself eerlikwaar wat jy wil bereik. Soek jy net bietjie ervaring? Wil jy toer en ’n voltydse beroep daarvan maak? Wil jy jou eie musiek maak of ander mense se musiek speel?

Rondom 2011 het ek die kitaarskool gestop. Ek het werk gekry as klankingenieur by ’n maatskappy in Pretoria. Swaar dra al aan die een kant. Laat aande. Min geld. Min kos. Min kitaar. Baie ondervinding! Ek het klank gedoen vir, o.a
Onbeskaamd, Albert De Wet, Glaskas, Radio Kalahari Orkes, Die Heuwels Fantasties en Watershed. Albert het my aangestel as permanente klankman en ek het 9 maande klank gedoen voordat ek my eerste geleentheid gekry het as kitaarspeler vir hom.
Dit was fantasties! Ek het weer bietjie ‘vonk’ gekry en alhoewel my toerusting baie na wense oorgelaat het, het ek weer opgewonde oor musiek geraak! Ek het die geleentheid met albei hande aangegryp.

Rondom 2013 het ’n groep waarin ek was “I Am The Army” borg gekry om ons eerste kortspeler (EP) op te neem. Denholm Harding van “Just Jinjer” was die vervaardiger en JP De Stefani van “Be Sharp Studios” die ingenieur. Daar is vyf liedjies op en die EP se titel is “young.wild.free”. Denholm het ’n ongelooflike skerp oor! Hy het dit reg gekry om die beste uit ons liedjies te kry en boonop is hy ’n fantastiese musikant met meesterlike vaardigheid! Daardie kort tydjie in die ateljee saam met hierdie groot name in die bedryf het werklik ’n diep indruk gelaat!

Ek het myself begin sien as ‘session’ musikant en wou soveel optredes doen saam met soveel kunstenaars as moontlik. Ek het nog gereeld kitaar gespeel vir Albert De Wet, asook Etienne Steyn en Coenie Bernhardt.

Dinge het in 2014 begin draai en vir die eerste keer het ek meer kitaar optredes gehad as wat ek klank moes doen vir ander kunstenaars! My doelwit het ongeveer 2 jaar gevat om te bereik, maar met harde werk was ek uiteindelik daar!
Alhoewel dinge mooi glad verloop het, was ek altyd afhanklik van sangers. Ek was in 4 oorspronklike groepe en 1 ‘cover band’, almal met ander sangers!
As die sanger nie kon sing nie, was ek ook sonder werk! Dit het my begin pla dat ek nie op my eie voete staan nie.

In 2016 het ’n ander projek waarvan ek deel was “The Vacancy” ook ’n EP opgeneem by Be Sharp Studios. Ek het dié keer self vervaardig en die titel is “Lion EP”. Dis 7 liedjies wat baie eerlik en rou is, maar waarop ek baie trots is!

Dit is hartseer dat al die projekte oor die jare tot ’n einde moes kom. Dinge gebeur. Die lewe gebeur! Maar glo net vas dat alles wat gebeur, moet gebeur! Ons lewens is eintlik maar van korte duur, en daar is nie tyd om terug te kyk met verwyt of berou nie! Gryp elke geleentheid aan! Vernuwe. Verbeter.

Onthou jy daai eerste keer toe jy ’n liedjie gehoor het en jou hart uit jou borskas wou bars van vreugde? Daardie onskuldige, groot-oog deel van jou is nogsteeds daar binne! Selfde soos die Gees! Hy is daar binne, al het jy vergeet. Al het jy alleen gevoel. En as mens mooi stil word en daaroor dink, begin die waarheid te voorskyn kom - Jy is presies waar jy moet wees, jy word onvoorwaardelik liefgehê en jy is nie alleen nie!

4. Waar is jy vandag en waar kan mense na dit wat jy het kom luister? 

Ek is tans nog lekker bedrywig in Witbank en Middelburg. Sodra die "repertoire" lekker gegroei het en die masjien lekker ge-olie is, gaan ek wyer begin kyk vir geleenthede. My besigheid adverteer alles wat ek aanvang op facebook onder “Thats 
My Jam Entertainment”

5. Wat is jou Visie vir die toekoms m.b.t jou musiek loopbaan?

Ek het in Julie hierdie jaar vir die eerste keer weer begin sing sedert my eerste groep as sanger in Senile rondom 2000. Tans is al die aandag gerig op my besigheid en optredes onder my eie naam “Christiaan”. Ek doen solo, duo en trio shows en my stem kry nou lekker baie werk! Die volgende doelwit is om my eie musiek te skryf en as kunstenaar op my eie te kan staan. Daar is nog geen naam nie. Ek voel net ek het ewe veel te sê in Afrikaans en Engels. Wat-ookal uitkom en hoe-ookal dit uitkom is reg. Dit moet onskuldig bly. Eerlik. Dit moet dekades, selfs eeue lank kan hou, nie net “bubblegum pop” wees wat so gou vergeet word as wat dit gevat het om by die twee ore in te gaan nie. Ek glo die mens se gees voel dadelik aan of iets uit die hart uit is of nie. En ek wil uit die hart uit musiek maak tot my oudag toe!

6. Watter SUID AFRIKAANSE musiek het jy waardering voor? 

Afrikaans is so mooi! Ek het groot waardering vir skrywers wat die taal beskrywend en kleurvol gebruik. So ek is uiter aard van die saak ’n groot aanhanger van Hunter Kennedy! Verder hou ek van Joshua Na Die Reën, Karen Zoid, Francois van Coke, Heuwels, Lukas Maree, Onbeskaamd, Prime Circle, Just Jinjer, Gangs Of Ballet, aKing en almal in daardie "genre"! Mense wat goeie skrywers se werke mooi kan toonset soos Chris Chameleon en Laurika Rauch maak my ook kinderlik gelukkig!

7.Watter nuwe vibe sou jy graag tot SUID AFRIKAANSE musiek wou bydrae?

Ek glo dat my musiek anders gaan klink en gaan uitstaan. As dit nie soos dit klink nie, doen ek iets verkeerd.

8. Noem 3 ander dinge, buiten musiek, waaroor jy baie passievol is.

Ek hang aan mense se lippe wat mooi suiwer Afrikaans praat en ek probeer hard om van al my anglisismes en taalmengery ontslae te raak.
Ek is baie lief vir tennis! Speel en kyk, ewe veel!
Ek hou ook baie daarvan om te gesels oor die Woord. Ek hou daarvan om vrae te vra.
Ek probeer om die Gees toe te laat om die waarheid by my uit te kry en nie net vas te klou aan doktrine of tradisie nie.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde