Slaan oor na hoofinhoud

'n Kortverhaal



Die lig val sag en helder op die aarde soos die son sak oor die lande van die Swartland, en die koring gloei goud in die strale. Doelgerig stap die lang gestalte van Joshua Johannes Bekker oor sy werf en gaan sit swaar op sy leunstoel, die een wat altyd op die stoep bly omdat hy van daar die beste uitsig het oor sy plaas. En watter plaas is dit nie! Ruig amber-kleurige koringlande ver oor die aarde uitgestrek, alles deur sy hande staangemaak. Joshua het arm grootgeword, maar met die sweet van sy aangesig is hy vandag een van die rykste boere in die kontrei. Hy het een seun uit sy enigste huwelik toe hy nog maar jonk was, maar dié was nie veel geinteresseerd in boerdery nie. Joshua het sy jong vroutjie, Marina, verloor in ʼn ongeluk, kort na Jannes se geboorte. Joshua kon homself nooit so ver kry om weer te trou nie, dus was hy meeste van sy volwasse lewe alleen, en hy het Jannes ook alleen grootgemaak. Sy seun is vir hom egter ʼn oorsaak van groot hoofbrekens. In plaas daarvan om die edel beroep te volg waar jy met jou eie twee hande die aarde bewerk en daaruit jou bestaan maak, jaag hy sy lewe verby op die renbaan in die renwêreld van Formule 1 en kom maar selde na Suid-Afrika. Joshua wens so sy kind kan besef watter vreugde dit is om die vrugte van jou aarbeid te kan vashou aan die einde van oestyd, om te voel hoe die koring deur jou vingers gly. 

Dit was egter nie op goeie terme wat Jannes weg is nie, want Joshua het nie die besluit goedgekeur nie. Maar dieselfde wilskrag en determinasie wat Joshua van die armsalige onderdorp na die sakewêreld en ʼn suksesvolle boerdery bevorder het, bruis ook in sy seun se are, en Jannes is vort sonder sy pa se goedkeuring. Daarna het hy so twee of drie maal weer huistoe gekom voor hy deur McClaren opgeraap is, en toe het kuiers skaars geword. Joshua het darem van tyd tot tyd briewe gekry, sommige van hulle met fotos van sy seun en ʼn glimlaggende rooikop meisiekind langs hom. Eendag het hy summier die tyding gekry dat Jannes met haar getrou het. 

Natuurlik was hy hewig geskok en woedend, maar niks van sy dreigemente het enige verskil aan die saak gemaak nie. Dit was so frustrerend dat hý, wie sy hele lewe self opgebou het en alles op sy plaas met ʼn ystervuis beheer, niks kon doen omtrent sy eie seun se lewenskeuses nie.

Jannes het volgehou dat hy Mairi liefhet en dat dit te veel geld en moeite sou kos om ʼn tradisionele verlowingstyd en troue te hê, wat nog te sê al die pad huistoe te kom net vir ʼn bruilof, dus het hulle eenvoudig ʼn predikant nader gesleep en woerts-warts getrou. “Buitendien,” was sy argument, “baie jongmense trou deesdae so, Pa.” Naderhand het Joshua maar die kinders laat staan, al was sy familie-trots erg gekrenk. 

Soos die jare aangegaan het, het die briewe minder geword en kuiers op die plaas het opgedroog. Joshua verlang kwaai na sy enigste kind, maar die plaas het hom besig gehou en later het hy besef dat Jannes nie gaan terugkom en die boerdery oorneem, soos hy altyd gehoop het, nie. Dus het hy maar die televisie en koerante noukeurig dopgehou vir enige nuus. 

Priscilla, doenig in die eetkamer, onderbreek sy gedagtegang. Hy besef dis etenstyd en staan op vir die eensame middagete wat sy vir hom voorberei het. 

Voordat hy die deur egter kon bereik, hoor hy die geluid van ʼn motorenjin. Fronsend kyk hy op. Daar kom maar min besoekers vir hom kuier, en niemand kom ooit sonder om vooraf ʼn afspraak te maak nie. Die mense weet hy is ʼn besige man, met min tyd vir oorbodige geklets. 

Middagete sal egter moet wag. Hy draai om en staan, hande in die sye, die vreemdeling en inwag. 

ʼn Paar dinge neem hy onmiddelik waar. Dis ʼn huurmotor. Daarom die vreemde nommerplaat. Die person kom van ver, daarvan kan die dik laag stof duidelik getuig. Die persoon was nog nie vantevore op sy plaas nie, anders sou hy geweet het van die kortpad wat mens toelaat om die modderplasse te mis.

Maar ten spyte van sy vinnige waarneming kry hy tog ʼn redelike skok. Vanuit die motor kom daar ʼn gloeiende bos rooi hare. Sy seun se vrou klim versigtig uit die kar, haar fyn skoentjies toets die grond voor sy die agterdeur oopmaak. Sy vat die hand van ʼn klein mensie op die agterste sitplek en help haar uit. Die dogtertjie het dieselfde rooi hare, en soos die paartjie nader stap voel dit vir Joshua asof die yster wat hy nog altyd geglo het deur sy are vloei, in babapoeier omskep. Want voor sy siel, die kleintjie het dan sý mond en oë! Mairi en die dogtertjie staan nou huiwerig maar dapper voor hom. ʼn Mooi meisiekind is sy, moet hy teesinnig erken, mooier as die fotos wat hy destyds gekry het. Haar melkwit gelaat, liggroen oë en fyn gelaatstrekke word alles omraam deur daardie massa blinkrooi hare. Sy is ook skraal gebou en kleinerig, in ʼn sagte blou somerrokkie wat haar jonger laat lyk as wat sy is. Meer kwesbaar. Maar Joshua maak sy hart kwaai vir haar, want dis hierdie einste porseleinpop wat Jannes in die vreemde hou. Hy kyk liewer nie na die kind nie, en maak sy frons dieper, sy mond word ʼn dun lyn. 

Mairi toets ʼn huiwerige glimlag, duidelik op haar senuwees. “Goeiemiddag Oom. Ek is-” 
“Ek weet wie jy is. Wat maak jy in Suid-Afrika, waar is my seun dan?” vra hy bars.
“Oom, Jannes werk baie hard, hy kon nie-” sy hak ʼn oomblik vas, soekend na woorde, “-hier wees, maar ek het gekom met Marina.”

Sy praat met ʼn swaar Skotse aksent, en hy onthou dat Jannes gesê het sy is van Skotse afkoms. Sy is ook duidelik ongemaklik met Afrikaans, maar hy is aangeraak deur die feit dat sy die moeite gedoen het om dit te probeer aanleer. Toe hy sy blik na die kleintjie skuif, word hy weer getref deur die sterk familietrek. Dieselfde hemelblou oë en vol lippe, die neus is ook dieselfde as syne. Marina, gaan die naam deur sy bewussyn. Sy is na haar ouma vernoem, besef hy skielik, en sy hart wil-wil vermurwe. “Wil jy vir my sê ek het ʼn kleindogter, en niemand het eers daaraan gedink om my laat weet nie?” 
Hy praat kwaai, sodat hy die weekheid in hom kan vermom. Mairi verbleek en sy trek haar kind nader. Haar stem pleit toe sy sê: “Oom, toe Marina gebore was ons nog baie jonk. Ons was bang u wil niks met haar te doen hê”
“En nou? Wat soek jy nou hier met haar?” 
Sy skoondogter trek haarself tot haar volle lengte en kyk hom reguit in die oë. In haar pragtige groen oë sien hy dit wat hy weet sy graag sou wou wegsteek: vrees en onsekerheid. Tog sien hy ook ʼn onderliggende krag en vasberandenheid wat hom verras. 
Dalk is sy toe nie ʼn breekbare porseleinpop nie. Hy hoop net sy eie oë gee niks van sy ware gevoelens weg nie: die seer van Jannes se minag van sy autoriteit, die gekweste trots met sy weghol-troue, en nou dié. ʼn Kleinkind waarvan hulle hom niks gesê het nie. 
“Oom, gee my asseblief kans om te praat. Dit was verkeerd om u niks te sê, ek weet. Aan die begin, daar was baie onsekerheid, ons het nie geweet wat om te doen, ons was alleen met ʼn klein baba. Na ʼn tyd het ons besluit om liewer niks te sê. Later het ek en Jannes besef dis tyd...vir dat sy” hakkelend stop sy, tas soekend, hulpeloos rond vir die regte woorde. 
Sy skep asem en Joshua probeer homself in sy seun se skoene sit. Ja, dit kon seker nie maklik gewees het nie, maar hy is tog Jannes se pa! Het hy geen reg gehad om te weet nie? Mairi praat weer. “Ek besef dis baie sleg maniere, maar ek het werk nou hier en Marina het ʼn plek nodig om te bly-”
“Volstrek nie!” adem Joshua, skielik benoud. “Wat gaan ek met so ʼn klein dogtertjie aanvang op ʼn enorme plaas? Daar’s werk wat-”

“Jy gaan haar in die koue los?” onderbreek sy hóm die keer en speel op sy familietrots. Eers wil hy vir haar kwaad word, maar hy sien deur haar fasade. Intuitief weet hy dis haar enigste opsie, sy sal niemand anders met haar kind vertrou nie. Stadig voel hy hoe hy teen sy wil begin ingee. “Maar Jannes? Hoe dan-” skop hy nogmaals tee.
“Hy het sy kontrak met McClaren hernu en kan min wegkom. Dis noodsaak wat my gestuur het.”Joshua kyk weer na Marina. Dié loer na hom van onder haar ligte wimpers, haar handjie in Mairi sʼn genestel. Sy lyk nie bang nie, net nuuskierig. Toe sy sien hy kyk vir haar, glimlag sy skamerig vir hom. ʼn Fyn skewe glimlaggie wat sy hart opslag sag maak. Hy kyk liewer weg voor sy dit kan sien. 

Mairi wag op ʼn antwoord. Joshua frons hewig vir haar, maar haar determinasie bly staan. Hy kyk soekend rond, asof die antwoord op sy penarie skielik uit die lug sou neerdaal. Niks kom op nie. Hy staan sonder ander opsie. 
“Ja, goed dan, as dit nou nie anders kan nie,” sug hy en verwens sy onnosele voorsaad, Adam, dat hy die Liewe Heer moes loop vra vir ʼn vroumens. Die lewe was eenvoudig en ordelik voor hulle ingewals en alles eensklaps omgekeer het. 
Die verligting skyn duidelik op Mairi se gesig, maar hy skool sy voorkoms om streng te bly. 
“Hoe oud is sy nou?” vra hy. 
“Sy word einde van die maand sewe.” Sy kyk af na haar kind en skakel oor na haar gebruiklike Engels, liggies gekleur met die fraai Skotseaksent. “Marina, come lass, say hello to your grandpa nicely.”
Marina los haar ma se hand, tree nader en kyk vriendelik op na hom met haar enorme blou oë. Sy steek haar handjie na hom toe uit en trek hom saggies tot hy op sy hurke sit. Dan steek sy haar armpies om sy nek en sê langs sy oor: “Hallo Oupa!” 
Joshua skrik vir die teerheid wat onverwags in hom opwel. In ʼn oomblik het hierdie klein mensie, skynbaar sonder enige inspanning, sy skanse afgebreek en hom oorrompel. Binne sy breë borskas voel sy hart soos botter. Hy vrees vir die behoud van sy streng beeld en gee haar veiligheidshalwe ʼn vinnige drukkie, dan staan hy weer op sonder om haar weer in die oë te kyk. Mairi staan hulle en dophou, ʼn heimlike glimlag speel om haar lippe. 

Joshua maak keelskoon en sê saaklik: “Nou ja toe dan, waar is Sussie se tasse? Jy sal seker ʼn bietjie koffie wil hê na die lang pad, of hoe?” Hy kyk betekenisvol na die stowwerige kar. “En moet sy nie skool toe gaan deur die dag nie? Ek kan reelings maak vir-”
“Nee, nee dis nie nou nodig, Oom,” skud Mairi haar kop. “Hulle het nou vakansie, en dis nie- hoe sê mens? -permanent. Marina is ʼn soet kind, sy sal nie moeite wees as u haar saamvat op die plaas.” “Saam my werk toe? Nee, dit sal nie deug nie, sy sal moet-”
“Asseblief Oom.” Iets in haar stemtoon, haar smekende kyk vang hom onkant. “Vat haar saam lande toe, dit sal soveel beteken.”
Joshua sug swaar. Vandag is nou eenmaal nie sy dag vir sterk staan nie, iets omtrent die vroumense het dit in vir hom en hy word keer op keer sag vir hulle. Hy probeer die prentjie indink van hom en hierdie klein dingetjie skommelend op ʼn trekker. Dis verbasend ʼn aangename gedagte. “Goed. Sy kan saamkom as sy haarself sal gedra.” Hy doen sy bes om nog streng te lyk, alhoewel hy kan voel dit sukkel op sy gesig. Op aanhoor hiervan gee Marina ʼn opgewonde gilletjie en spring rond in klein sirkeltjies. Sy lyk kompleet soos ʼn rietrot op ʼn warm plaat. Nou moet Oupa hard werk om ʼn glimlag te onderdruk, en hy rig solank sy aandag op sy skoondogter. 

“Hoe lank gaan jy hier werk, Mairi?”
“Ek is net hier vir ʼn proeftydperk, en ek is nog nie seker vir hoe lank nie, maar dit sal seker so ʼn maand wees, Oom.” Sy probeer glimlag. 
Joshua frons egter. Daar is êrens iets nie lekker nie, sy steek iets weg. 
“Doen Jannes nou skielik so sleg agter die wiel dat sy jong vrou in ʼn wildvreemde land moet gaan werk soek?” Mairi verbleek effens en kyk ongemaklik rond. Joshua hou haar fyn dop, daar is verseker ʼn slang in die gras. 

Op hierdie oomblik kom Frans om die hoek van die stalle af met Prins, die teuels lossies in sy hand. Elke middag na ete gaan ry Joshua ʼn ent op die pragtige hings en geniet sy plaas vanaf die hoogte op sy rug.Onmiddelik lyk Marina se gesig soos Kersoggend. Haar oopmond glimlag strek van oor tot oor. Sonder om te huiwer hop sy soos ʼn paddatjie van die stoep af en storm op die swartman en die majestueuse dier af. Frans se gesig registreer verbasing, Prins trippel verbouereerd agteruit ten aanskoue van die piepklein rooikop-mensie wat so haastig in sy rigting gehol kom. 

Joshua skrik en tree haastig van die stoep af om haar te keer, maar sy het klaar tot stilstand gekom en die verbaasde man langs haar ʼn selfversekerde glimlag gegee. Toe steek sy haar hande uit na Prins en wikkel haar vingertjies in die lug voor sy neus. 
Aanvanklik lyk die perd onseker, maar na ʼn rukkie kry nuuskierigheid die oorhand en hy snuffel haar wit handjie versigtig. Marina begin saggies met hom praat met klein fluister-woordjies. Voor Joshua se ongelowige oë neem sy doodrustig die teuels by die stomme Frans en hou dit in haar een handjie vas terwyl sy hom paai met die ander hand. Prins sak sy groot swart kop stadig, gehoorsaam. Die dogtertjie vryf sy fluweelsagte neus en wange terwyl sy steeds vir hom fluister. Dan soen sy hom liggies op sy neus, gee hom een laaste vryf en handig die teuels terug vir Frans. Sy draai om en blaas vir Prins ʼn prettige soentjie voor sy terughardloop na haar ma. 

Joshua glimlag, sy agterdog vir eers vergete. Dit wil voorkom asof sy kleindogter goed op die plaas sal aanpas. Hy kyk goedkeurend af op haar rooi koppie en steek sy hand na haar toe uit. “Goed, jou klein rabbedoe, kom bring jou tasse dat ons jou kan intrek.”

Die voorlopige maand het ses maande geword en Marina word vir haar oupa ʼn bron van groot vreugde. Sy is gaande oor die plaaslewe en kan nooit uitgekuier raak met die werkers nie. Hulle is natuurlik weer mal oor haar met haar borrelende persoonlikheid, aansteeklike laggie en vlammende haredos, wat nes ʼn vlag wapper in die wind wanneer sy oor die werf hardloop. En as die kind beweeg, dan hardloop sy. Dikwels moet hy aanhoor hoe sy vir Priscilla se seun gewen het toe hy teen haar resies gehardloop het. Sy kan ook mooi vlot Afrikaans praat, aangesien Jannes net sy moederstaal gebruik het om met sy dogter te kommunikeer. Almal en alles is haar maats, van die bruin werkers se kinders tot die voëltjies in die vrugtebome.

Sy wil elke liewe dag perdry, en die arme Frans het al sy dae om haar uiteindelik van Prins se hoë rug af te kry na die rysessie. Joshua is beindruk met haar fyn aanvoeling op die tenger ouderdom, want die eiewillige dier vertrou haar volkome. Die dogtertjie het ʼn totale tekort aan vrees, iets wat haar oupa beide bekommerd en trots maak. Hy is klaar te lief vir haar en vrees behoorlik die dag wat Mairi haar gaan kom haal en terugvat oor die wye oseaan. Dan sal hy weer alleen op die trekker na die koringlande moet ry, sonder die fraai kleintjie wat gewoonlik langs hom sit en haar handjies in die lug gooi terwyl sy uitgelate lag. Daar sal nie meer ʼn rooi koppie wees om op sy bors te rus as sy op sy skoot aan die slaap raak terwyl hulle saam nuus kyk nie. En hy weet eerlikwaar nie wie sal dan vir hom ʼn dierbare skelm glimlaggie gooi wanneer sy stout was en hy met haar probeer raas nie.

Dis dan wanneer hy nie meer soos die koue, sterk sake-boer Joshua Johannes Bekker voel nie, maar eerder ʼn liefdevolle oupa wat vir sy kleindogter alles wil gee wat haar ou hartjie mag begeer. Natuurlik moes hy al aansit vir ʼn baie formele teepartytjie in sy netjiesste kerkdrag en nadat sy die foto’s gesien het, het Marina daarop aangedring dat hy sy here-hoed en strikdas van sy troue dra. Die werkers was almal dik van die lag om die hardgebakte baas van die plaas, opgetof, met ʼn piepklein koppie en piering in die hand, te sien. Hy sit effens ongemaklik in die stywe klere, oorkant die deftige dametjie wat hom streng bevel om “tog darem jou pinkie te lig as jy tee drink, Oupa!” 

Die middag toe hy lande toe is kon hy duidelik sien die storie het al ver getrek, selfs hier giggel almal agter hulle hande. Een kyk bly darem genoeg om hulle te herinner hy is nog steeds die uwe Joshua Bekker, al draai sy ondeunde kleindogter hom met die grootste gemak om haar pinkie. Een môre toe hy die kombuisdeur oopmaak loop hy hom omtrent vas in die verleidelike aroma van varsgebakte gemmerkoekies. Daardie dag kry hy saam met sy gewone beker boeretroos ʼn ordentlike stapel heerlike koekies wat Marina met behulp van Priscilla douvoordag aanmekaar geslaan het. Kokkedoor was van kop tot tone bedek met koekmeel, en ʼn trotse glimlag het gestrek van oor tot oor. 

Sy is natuurlik ook mal oor die ou plaashuis, en elke dag word die hele pop-weermag geskuif van een kamer tot ʼn ander kamer. As sy in die sitkamer speel word die enorme opgestopte koedoe teen die muur telkens deel van die speletjie, en sy het dit aan hom baie duidelik gemaak dat hy homself beter gedra, anders sal hy in baie groot moeilikheid wees. Toe sy eindelik tevrede is dat hy nie die poppe kwaad sal aandoen met die verskriklike horings nie, kon hy die eerbare posisie van voorsitter van die popkomittee inneem.

Die massiewe magnolia boom in die agterplaas is nog ʼn gunsteling speelplek van haar, en toe die lente aanbreek is al wat kamer is vol magnolia bloeisels in potjies wat die hele huis soos lente laat ruik. Joshua het vir Frans die ou swaai waarop haar pa grootgeword het, laat regmaak, en as hy weer sien dan word hy uit sy werk uit geroep vir dié pret. “Ag Oupa, kom swaai my, toe?” Om nee te sê is buite die kwessie, as daardie blou oë eers vol trane raak voel dit kompleet asof sy hart uitmekaar sal skeur van verdriet. Sy werk raak gedurig agter, maar die breë glimlag en dankbare drukkies is uit en uit die moeite werd. 
Op ʼn Sondag middag kan sy nie wag dat Frans moet aankom met Prins, netjies opgesaal, sodat Joshua sy hoed kan aansit en hulle eers ʼn lekker draai op die plaas kan gaan ry nie. Hy het een middag van die dorp af terug gekom waar hy vir haar ook ʼn klein ruitershoedjie aangeskaf het. Nog nooit tevore het haar gesiggie so gelukkig gelyk soos daardie dag nie. 
Maar hy weet dis nie vir altyd nie. Soos die maande verby gaan weet hy: een dag gaan hierdie kuier eindig. Een middag in September word Joshua en Marina se ontbyt onderbreek deur die geluid van ʼn motor enjin. Marina se gesiggie helder op soos dit altyd doen wanneer haar ma kom kuier. Mairi het getrou eenmaal ʼn week deurgery om te kyk hoe dit gaan, en was telkens verheug om te sien hoe gelukkig haar kind is. 

Joshua het keer op keer, soos op die eerste dag, die aanvoeling gekry dat iets nie heeltemal pluis is nie, maar het homself gekeer om te vra. Dalk was hy bang om uit te vind, hy weet nie, maar oor sy aanvoeling het hy eerder stilgebly. Toe die motor stilhou staan hy saam Marina op en gooi vir die getroue Priscilla ʼn wenk om solank die koffie reg te kry. 
Buite gekom, dring ʼn skok tot sy onderbewussyn deur toe hy sy kleindogter se uitgelate uitroep van: “Pappa!” hoor. 

Jannes kniel buite die kar met Marina styf in sy arms en streel teer oor haar rooi haredos. “My poppie, dit was te lank. Pappa het so na jou verlang, my Marina-kind.” Marina doen weer haar rietrot-dans soos sy op en af spring van opgewondenheid. Sy probeer ʼn onsamehangende verhaal van die laaste ses maande vertel, maar dit kom in ʼn skaars-verstaanbare babbel uit. Haar pa probeer weer op sy beurt luister en instemmend knik al kan hy kwalik verstaan wat gesê word, maar op sy gesig staan die effek van die laaste half-jaar se verlange duidelik geskryf. Joshua staan nog stokstil op die stoep. Sy seun is terug vir die eerste keer in agt jaar. Wat dit mag beteken weet nugter alleen. 
Jannes sien hom en kom orent, stof sy hande selfbewus af aan sy broek en steek sy regterhand uit. “Hallo Pa.” Joshua neem sy seun se hand en voel manlike krag in sy greep. In sy oë sien hy dis nie meer die rebelse tiener wat destyds weg is nie; die jare het van hom ʼn man gemaak. Mairi kom staan langs Jannes en gee haar skoonpa soos gewoonlik ʼn drukkie. Om die ongemak van die oomblik te ontduik sê Joshua hoflik: “Kom ons gaan binne. Jannes kom van vêr, jy sal seker koffie wil hê.” Sy stemtoon is beleefd maar ferm. 

In die sitkamer het Priscilla klaar drie koffie bekers op die tafel neergesit: twee grotes vir Joshua en Mairi en ʼn kleintjie vir Marina, asook ʼn blik met die koekies wat sy en die kleintjie gebak het. Toe sy Jannes sien inkom word die donker oë groot en haar glimlag verbreed. 
“Ey, kyk hom die seuntjie, hy is nou die man,” lag sy. “Hy is nie meer klein Jannes nie, hy is nou groot Jannes, kyk hoe mooi het hy grootgeword!”Jannes gee die ou bediende ʼn drukkie en sê: “Dag Priscilla. Ja dis lekker om tuis te wees, ek het die son lank terug so mooi sien skyn.” Hy kyk liefdevol na sy dogtertjie.

Priscilla skink vir hulle koffie en Marina beduie trots dat dit haar handewerk is waaraan hulle smul. Jannes glimlag effens en let op dat dit lyk asof sy haar werk goed doen, aangesien sy so mooi na Oupa kyk. Marina knik instemmend, en met ʼn halwe koekie in haar mond begin sy met nog ʼn verhaal van alles wat sy geleer doen het in haar kuiertyd op die plaas. 
Jannes hou haar heeltyd dop met ʼn mengsel van trots, liefde en weemoed. Joshua probeer hard om sy seun se gedagtes te peil maar kry dit nie reg nie, die jare tussen destyds se gister en vandag is te veel. Na ʼn rukkie verdun die gesprek. Jannes beduie vir Marina om op sy skoot te kom sit en vat Mairi se hand. Met sy gesinnetjie styf teen hom sluit hy sy oë vir ʼn oomblik. Toe hy hulle weer oopmaak, blink hulle van die trane. 

“Pa, ek speel hierdie gesprek in my kop af vir die laaste sewe maande en tog kon ek nog nooit die regte woorde kry nie. Maar in ʼn situasie soos dié maak mooi woorde in elk geval geen verskil nie.” Vir ʼn oomblik lyk hy weer soos die klein seuntjie wat nie mooi weet hoe nou gemaak nie, en Joshua se hart krimp binne-in hom. 

“Pappa, sewe maande gelede het ons die nuus gekry dat Marina siek is. Baie siek. Die dokters het gesê dis ʼn onbekende kwaal, so daars bitter min wat hulle kan doen omdat hulle so min daarvan af weet. Een ding wat hulle wel aanbeveel het was dat sy sterker word in beter lug as wat Europa kan bied. Ons het besef ons beste opsie was Suid-Afrika, aangesien die klimaat reg is en ek hier gebore is. Ek was vas in my skedule by McClaren, dus het ons besluit om haar saam met Mairi te stuur en te hoop vir die beste. Ons was bang Pa wil niks met haar te doen hê nie omdat ons Pa niks van haar vertel het nie, dus het ons maar liewer stilgebly oor die siekte. Maar-” 
Joshua verbleek van die woede en skok. “Wil jy vir my sê dis die enigste rede dat ek my kleindogter kon ontmoet? Omdat sy siek is stuur julle haar hierheen, nou kort julle ewe skielik my hulp?” “Pa, asseblief, ek besef dis onvergeeflik. Maar ek het nie geweet waarheen anders om te draai nie, dit het na die rasioneelste opsie gelyk op daardie stadium.”

Joshua staan op. Binne hom sied die woede en skok.

“Mannetjie, jy moet mooi na my luister vandag. As jy dink jy kan my hiet en gebied en manipuleer soos jy lus het, maak jy ʼn baie groot fout. Jy dink mos jy kan maak nes jy wil, sonder om enigiemand in ag te neem. Wel, kom ek sê sommer nou vir jou, ek het nie ʼn skorriemorrie grootgemaak nie, en hierdie nonsense eindig vandag.” Sy stem begin breek, en hy het nodig om weg te kom voordat hulle sy wilde emosies kan sien. “Ek is nou klaar hiermee.” Met hierdie woorde los hy hulle agter in die sitkamer en klap die agterdeur toe hy uitgaan. Buite gekom begin die trane loop. Hy loop tot by die koringlande en dis daar waar die dam breek. ʼn Dam van trane wat hy jare lank ingehou het, trane oor sy liewe vrou se dood in die fleur van haar lewe, trane oor sy seun se rebellie, trane oor sy kleindogter se geboorte en grootword wat hy gemis het. Trane oor sy eie hulpeloosheid. Hy sak op sy knieë neer en huil; rou snikke ruk deur sy lyf. Na ʼn rukkie voel hy ʼn handjie op sy skouer. Hy kyk op en probeer deur sy betraande oë sien. Marina bekyk hom asof sy nou nie mooi verstaan wat fout is nie, sy streel saggies sy skouer asof sy hóm wil troos. 

“Dis okay, Oupa, asseblief moenie huil nie.”

Hy glimlag deur sy trane, antwoord skor: “Oupa voel net nie nou baie lekker nie my kind.”

“Maar hoekom nie? Pappa is dan hier, Oupa moet mos bly wees?” sê-vra sy. 

Joshua bly stil en dink oor haar eenvoudige woorde. 

Sy is reg. Sy seun is terug, sy kleindogter is nog hier en hulle kan saam uitwerk hoe hulle met die krag van Bo die dae wat kom gaan aanpak. Vir nou is dit al wat hy nodig het. 
ʼn Rukkie lank bly hulle net so, sy wat sy skouer rustig vryf nes sy maak wanneer Prins kalmeer moet word, en hy wat op sy knieë bly in die stof. 
Naderhand weet hy wat om te doen. 

Joshua staan op, stof sy broek saaklik af en hou sy hand na haar toe uit. Sy glimlag haar dierbare skewe glimlaggie, vat sy hand en saam stap hulle terug huistoe. 


Slot

ʼn Paar maande later kom Joshua terug van die stad waar hy met verskeie dokters gepraat het. Ondersoeke moet gedoen word, toetse moet gedoen word en en finansies word benodig. Eers dan kan daar meer geleer word van Marina se siekte. 
Maar daar is hoop, sê die dokters. Marina het sterker geword in die tyd wat sy by Joshua gebly het. Die daaglikse oefening, gesonde kos, vars lug en warm klimaat het ʼn positiewe uitwerking op haar gestel gehad. Sy is nog lank nie buite gevaar nie, waarsku sommiges, maar met haar vegtersgees het sy ʼn kans. By die huis gekom wag daar vir hom ʼn beker koffie met ʼn groot stapel vlakoekies, vars gebak. Terwyl hy smul voel hy skielik die bekende klein armpies hom van agter omvou. 
“Is hulle lekker, Oupa?”
“Heerlik my kind, jy sal ʼn bobaas bakker maak! Kom sit hier by my, ek het verlang na jou.”
Sy klim op sy skoot, versigtig tel hy haar op sodat sy gemaklik sit. Party dae is daar ʼn bleekheid in haar wange wat hom bang maak, maar vandag het sy bietjie kleur. Haar gelaat lyk tans soos ryp appelkose en room. Hy trek haar nader aan hom en sluit sy oë. Die reuk van die magnolia blom in haar handjie styg op totdat dit sy sinne volmaak. Haar kop rus sag op sy bors, en hy voel hoe ʼn rustigheid hom oorvat. Hier op Weesgerus, op sy plaas, met sy mense, is waar hy eindelik vrede gevind het. Hy het besef dat niks op die ou einde regtig in sy beheer is nie, en daarmee kan hy vandag saamleef. 

Hy mag nie weet wat more inhou nie, maar een ding weet hy verseker: solank die Liewe Heer hom dit toestaan sal hy vashou aan sy klein sonstraaltjie vir die tyd wat sy hier is, en sal hy bid dat daardie tyd nooit ophou nie. 


Johané van den Berg


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Wie is Wenda Nel?

Dit was om die kampvuur wat ek Wenda Nel die eerste keer ontmoet het. ‘n Blonde kop wat so lekker gelag het dat die trane gerol het. Wat my egter die meeste opgeval het is hoe gemaklik sy in haar vel is. Hoe sy vir enige iemand ‘n glimlag het en hoe die warmte van haar hart deur haar oë en hele wese straal.


Kort daarna gewaar ek haar by die kerk waar sy die mense ewe gemaklik met koffie bedien. En ek kan nie help om te wonder of die mense ooit wéét wie sy is nie? Wat in daardie gespierde bene sit? Hoeveel wilskrag en ure se werk daarin gegaan het om die medaljes te verwerf wat sy so beskeie oor is.

In kort, Wenda het die 400m hekkies al in 54.37s afgelê. Wat haar nie net tans die beste in haar item maak in Suid-Afrika nie, maar al talle medaljes op die wêreld arena verwerf het. Ek het my kans geneem om by haar te gaan aanklop en so bietjie in die hitte van haar hart te gaan kuier.

1. Vertel ons lesers asseblief meer van jouself. Wie is Wenda wanneer sy nie op die atletiek baan…

Joshua Na Die Reën & Liani Reynolds

    Liani Reynolds en Jacques van Joshua na die Reën

Joshua Na Die Reën het al ‘n huishoudelike naam geword in Suid Afrika en almal wat sy musiek hoor is gaande daaroor. Vir die rede was Affies Seunsskool, in Pretoria, se saal vol gepak met afwagting op sy nuutste album. Almal het uitgesien na sy gevoelvolle stem wat gemaklik hoog en dan weer laag deur jou hart sny met sy sielvolle lirieke. Jy kan sy musiek voel en jou hart kan dit verstaan. Ek dink dis hoekom so baie mense sy musiek geniet. Ons, ek en Lenetjie, was ook baie opgewonde om Liani Reynolds se album te beleef, veral vir dié wat haar unieke diep stem gehoor het op die Lugballon enkelsnit van Musiek soos Grond. Laat ek vir jou ‘n prentjie skets van die heerlike aand sodat jy kan voel asof jy ook daar was. Ek deel graag met julle my belewenis.


Voor die konsert het ons vinnig ‘n paar fotos geneem en geselsies aangeknoop met sangers, radio omroepers en Jacques se ma wat op kort kennis kaartjies verkoop het.


Melissa (NasieInspira…

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is!

So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen.
(Talk about rubbing me up the wrong way!)

Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap...

Ons veiligheid.
Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal?
Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek?

Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met 'n ander o…