Slaan oor na hoofinhoud

Woman on FIRE


NasieInspirasie het bietjie gaan kers opsteek by Marthie Nel of eerder WOMAN ON FIRE. 

Van voetsorg tot vroedvrou, musiek albums en produksies, Marthie pak dit alles aan, gefokus, vuur en vlam!

1. Vertel ons lesers asb meer van jouself?


My naam is Marthie Nel Hauptfleisch en baie mense ken my as die “Woman on Fire”. Ek is ‘n liedjieskrywer en ‘n mezzo-sopraan wat verpleging gaan swot het (algemeen, psigiatrie, gemeenskap en ek is ook ‘n vroedvrou) Al wat dit beteken is ek het nou baie materiaal om mee liedjies te skryf en kennis om beter te verstaan wat mense in die nag wakker hou. My gunsteling tydverdryf is om die goed wat jou wakker hou in die nag te weef in oplossings op die maat van musiek met ‘n lekker wysie. My pa het altyd gesê musiek moet acapella gesing kan word of saam met ‘n vol orkes. Deesdae keer ek terug na stem en klavier omdat mense my musiek so die meeste geniet. Ek fokus op voetsorg veral vir seniors: dis my brood-en-botter werk en dan leer ek sommer al die woorde vir my opkomende vertonings: dit werk baie goed saam.

2. Wat is een van jou roerendste liedjies wat jy onlangs bekend gestel het en waaroor gaan dit?


Ek het op my Somer Kersfees album ‘n hele paar liedjies geskryf en opgeneem. 'Ek het net een wens' gaan oor ‘n koerantberig wat ek ontdek het...dis ‘n man wat sy ma bedank dat sy soveel jare terug vir hom die kans gegee het om nuwe ouers as ‘n Kersgeskenk te ontvang, en om vir sy aanneem-ouers die kersgeskenk te wees. Die klem van Kersfees moet oor die ware boodskap gaan:  om vir mekaar iets te beteken en ‘n geskenk te wees en nie net die blink opgemaakte winkels en duur geskenke nie. Ander liedjies wat op hierdie Kersfees somermusiek album vermaak is 'Hans Krismis Koekie' wat die koekroller tannie se pêrels vir Pollie gaan steel. En dan ook die 'Krismis Blues Song' wat gaan oor skuld maak en skuld afbetaal en dis eintlik histeries as mens van ‘n afstand kyk waardeur mens jou finansieël sit vir Kersfees, wat eintlik onnodig is. Die GROOT persent is klaar uitgedeel en dit is Christus self!

3. Wie/Wat inspireer jou?

Mense inspireer my, veral seniors. Ek het die laaste tyd by soveel mense bo negentig se voete gesit en mens se perspektief oor wat belangrik en stresvol is, verander heeltemal. Mens kom agter dat liefde en lekker kuier hoog op jou lys moet wees. Die lewe is daar om te geniet. Ten volle. Om positief te wees en positief te bly is baie belangrik vir ‘n lekker lang betekenisvolle lewe!

Ek het onlangs vir 150 jeug, van wie meeste haweloos is of in tydelike behuising bly, vermaak met my 'My Sukses het ‘n Adres'/(Pilot Your Success) produksie en dit is vir my fantasties inspirerend om te sien hoe jeug se oë blink omdat hulle uitsien na hulle toekoms en energie het om dit te gaan haal te midde van hulle uitdagings.

3. Hoe belangrik is dit vir jou om te geniet wat jy doen?

As jy wil hê ander mense moet geniet en aanhaak by wat jy doen moet jy dit definitief eerste die meeste geniet. Ek doen wat ek doen omdat dit my roeping is.  Ek doen dit nie vir mense nie - hoewel mense daarby baat vind. Maar mense sal jou op die hande dra en dan weer kruisig. Mens moet mooi gefokus bly oor wat vir jou gegee is om te doen hier op aarde en as jy dit nie doen nie trek die res van jou gemeenskap swaar omdat jy lyf wegsteek waar jy die meeste talente gekry het.

4. Ons tema vir die volgende twee maande is MET DIE LIEFDE. Ons kan baie wonderlike dinge doen, maar sonder liefde beteken dit niks. Stem jy saam hiermee en hoe belangrik is dit vir jou om Liefde in jou lewe en deur wat jy doen, toe te laat?

Liefde is soos die gom wat ‘n gemeenskap bymekaar hou, die mooi en die lelik, die normaal en die abnormaal. Sonder liefde kom al die probleme en kompetisie om die slimste, sterkste, eerste, belangrikste te wees in plaas van net jouself te wees en lief te wees vir wat elkeen bring. Die moeilikste ding is partykeer om self raak te sien wanneer jy sonder liefde optree en dan om jou gedrag en perspektief te verander, veral as jy voel jy is self te na gekom. Mens moet die siklus van liefdeloosheid en emosionele bankrotskap breek. My fokus hierdie jaar is om ‘lig’ te reis. En vir my beteken dit ook om sonder ‘n swart boekie, waarmee ek boekhou van die kwaad, met my saam te dra. Vergewe en stap aan is beter. Daar is Iemand wat met ‘n groot boek daarbo sit en dit wel sal uitsorteer.

Ek het ‘n song daaroor geskryf: 'Who killed love?' En dit kan opgesom word in die sewe sondes en sewe ‘virtues’. Mens betaal vir alles ‘n prys. ‘n Dik lip en onmin het ‘n prys wat net stres by jouself veroorsaak terwyl ander mense aangaan met hulle lewens en nie eers partykeer weet of agterkom dat jy ongelukkig is nie. Buitendien, ‘n glimlag en ‘n druk kom altyd terug, en sommer in meervoud!

5. Watter Suid Afrikaanse musiek luister jy graag? 


a. Ek is mal oor Danie Niehaus: hy het net ‘n manier om met woorde te skilder (Simone).

b. Jannie du Toit (Liedjie vir jou) hy staan sommer net so op en begin sing (dis ongewoon vir my wat as klassieke sangeres altyd lank eers moes opwarm voor ek mag optree!)

c. Christa Steyn: sy het my geleer hoe belangrik inleidings is.(Ek wil vir jou)

d. Amanda Strydom (Ek loop die pad) Sy kan dit so vertel-sing, dit klink elke keer anders.

e. Lukas Maree (Ek sou kon doen met ‘n miljoen) Ek dink die belangrikste was om te beleef hoe hy liedjies skryf...sommer so as hy ritmies loop.

f. En dan natuurlik Koos du Plessis (Die Gebed) hy het baie diamante in sy skryfwerk was jy dieper voor kan gaan soek bv.: as jy aanhou stap tienduisend ure sal jy dalk daar kom (Sprokie van ‘n stadskind).

6. Wat sou jy sê vir ‘n sleepvoet-dromer wat hopeloos is oor sy toekoms en sy drome?


Jy kan maar jou voete sleep, wegkruip, op die bed bly lê en weghardloop...as God jou op aarde vir ‘n doel gesit het, wag daardie droom vir jou soos ‘n lojale hond voor jou lewensdeur. Jona het lekker gehardloop in die teenoorgestelde rigting en toe sluk die vis hom in en spoeg hom op die regte plek uit. Hoe gouer jy jou samewerking gee, hoe beter vir almal! Daardie droom gaan nie weg nie. En al lyk dit hoe ontmoontlik vat dit tyd en deursettingsvermoë, maar daardie droom is klaar joune - jy moet net jou tienduisend ure insit soos Koos Doep gesê het! Dis die goed wat mense gelukkig maak en waarvoor hulle baie geld sal betaal as hulle net sal stil raak en luister na die fluisterstem in jou hart.

7. Enige nuwe projekte/opnames/optredes waarmee jy besig is?


Ek is altyd besig met iets! Ek is besig met 'Pilot Your Success': ‘n besigheidsplan vir tieners wat ek in boekvorm wil uitgee, ‘n musiekproduksie/show, album en toespraak/werkswinkels aanbied. Dis ‘n baie goeie produk en ek het al gesien hoe dit mense se lewens verander: ek noem dit “hulle is pad af”, menend dat hulle hardloop met die plan vir hulle lewe, volspoed. Ek fasiliteer dit net, ek is ‘n brandstigter (goeie brande darem!)

Verder werk ek aan 'After Dinner Mint', 'Jazz en After Dinner Mint' Broadway, ek’s besig om Verweerskrif op te neem (dis klassieke verwerkings en toonsettings deur Ruan Strauss Kalis van Antjie Krog se poësie). Ek is besig om al die Voortrekker liedjies in hulle boekie op te neem as deel van my musiek-erfenis projekte en so gaan die lys aan.  'I was born to do this!'

Ek wil ook my Woman On Fire gospel produksie verder bemark wat ek sopas vrygestel het. En 'Ek is Spesiaal', ‘n produksie vir laerskool kinders, wat ek volgende jaar wil bemark.  Dit gaan oor boelie, padveiligheid, middelafhanklikheid/leierskap, omgewingsveiligheid en seks ed. gaan.

Ek doen ook shows vir seniors. 'Blessed Assurance' is al die liedjies wat my seniors op die versoek lys gesit het. Ek het gesorg dat ek vir almal iets het.


8. Hoe kan mense jou ‘book’ vir optredes of jou doen en late volg?


Kontak my op 083 767 2701 


http://www.marthienel.com of marthie@marthienel.com
Instagram: womanonfire_1 

Facebook: Klik hier

Jy kan my ook elke Maandag volg op #MondaysWithMarthie en #StoriesOfHope waar ek raad uitdeel en met mense, wat my inspireer, gesels.


9. ‘n Quote, woord of gesegde wat jou tans inspireer??

“I love you because you were created by the same God that created me.” - St Francis




'n klein vonk kan 'n groot woud laat brand
#nasieinspirasie

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde