Slaan oor na hoofinhoud

Joshua Na Die Reën & Liani Reynolds

    Liani Reynolds en Jacques van Joshua na die Reën

Joshua Na Die Reën het al ‘n huishoudelike naam geword in Suid Afrika en almal wat sy musiek hoor is gaande daaroor. Vir die rede was Affies Seunsskool, in Pretoria, se saal vol gepak met afwagting op sy nuutste album. Almal het uitgesien na sy gevoelvolle stem wat gemaklik hoog en dan weer laag deur jou hart sny met sy sielvolle lirieke. Jy kan sy musiek voel en jou hart kan dit verstaan. Ek dink dis hoekom so baie mense sy musiek geniet. Ons, ek en Lenetjie, was ook baie opgewonde om Liani Reynolds se album te beleef, veral vir dié wat haar unieke diep stem gehoor het op die Lugballon enkelsnit van Musiek soos Grond. Laat ek vir jou ‘n prentjie skets van die heerlike aand sodat jy kan voel asof jy ook daar was. Ek deel graag met julle my belewenis.


Voor die konsert het ons vinnig ‘n paar fotos geneem en geselsies aangeknoop met sangers, radio omroepers en Jacques se ma wat op kort kennis kaartjies verkoop het.


Melissa (NasieInspirasie), Lizandra Winter, Annique en Jouba Jordaan van Kaleidoskoop


Ons het ook gehoor hoe die talentvolle sangers sommer gou-gou ontmoet vir hulle eerste oefening saam...sou dit nooit raai as jy hulle professionele optrede later beleef nie. Die sangers van Musiek soos Grond was daar vir ondersteuning, hulle het Lugballon vir die eerste keer saam op verhoog gesing en toe sommer ook vir mekaar "backing" gesing.



    Die 7 kunstenaars wat by Musiek soos Grond te sien is.




Met die geselsies wou ek weet hoe ken almal mekaar van Musiek Soos Grond mekaar? Drie van die groep, Lizandra, Jaqcues en Liani het mekaar leer ken by die Stilfees, 'n musiekfees wat eenmaal 'n jaar op Murraysburg gehou word. 







 Rupert, Melissa, Sam Martins, Jouba Jordaan


Ek ontmoet toe vir Rupert, die galante heer wat my baadjie aan my terug besorg wat ek laat val het, op pad na die saal, deur ‘n gemeenskaplike vriend Sam.  Rupert is die Musiek Koördineerder/Vervaardiger van die Musiek Soos Grond geleentheid wat 4 Mei by die Big Red Barn plaasvind. Met die geleentheid gaan 7 formidabele musikante saamspan vir ‘n onvergeetlike aand van musiek.

Die verhoog voel of dit in die buitelug is. Die openings agtergrond wat die hele agterste muur vol geprojekteer word, is 'n foto van 'n aand vol sterre en die verhoog is vol bome en plante. Daar is 9 musikante op die verhoog wat die aand open met 'Soos in Nou'.  Daarna vertel Jacques van sy ouer boetie, Piërre, wat 'Someraarde' geinspireer het. Hy vertel ook hoe hy mense om hom uitgedaag het om anders te dink oor die lewe en dat hy baie filosofies is.




Jacques stel Liani voor as iemand wie se musiek jou wegblaas die eerste keer wat jy haar ontmoet. Toe hy haar ontmoet het, het hy dadelik geweet 'hier kom ‘n album'!.

Nou is daar 11 mense wat saam musiek maak op die verhoog. Elkeen 'n formidabele kunstenaar in eie reg!

Liani het ‘n helder glimlag en haar oë blink van opgewondenheid en dan hoor jy verbasend haar strelende diep stem. Sy vertel hoe daar ‘n kans is dat sy baie gaan huil vanaand en dat sy nie hier sou wees as dit nie vir Jacques was nie. Ek word herinner aan Lizandra Winter se album vrystelling wat sy ook dieselfde mooi karakter van Jacques besing het, hy wat ander om hom oplig en geleenthede skep.

Liani vertel hoe swaeltjies haar gunsteling voëltjies is en hoe die dinge in die lewe nie altyd goed of sleg hoef te wees nie, maar meer soos ritmes en seisoene gesien kan word. Ons kan leer by die swaeltjies wat altyd weer terugkeer. Daar is ‘n tasbare ernstige diepte in haar diep en dan weer hoog stem. Sy daal met haar stem sorgeloos neer en styg dan weer op soos ‘n swaeltjie.

Jacques se volgende storie vertel van hoe verhoudings soos ‘n seilbootjie in die middel van ‘n meer is. Hy vertel skertsend: ”Eerste ruk is jy okay tot iemand moet piepie”. Verhoudings verander en groei namate ons mekaar leer ken. Hy skuif oor om die lied met kitaar te begelei en terwyl hy sy kitaar stem, vertel hy hoe die mooi agtergrond fotos deur sy boetie, Jean De Villiers, geneem is. Hy vertel, tong in die kies, hoe hy tot onlangs sy drommer was en hoe hy hom gelos het vir fotografie.



Ons luister na ‘n 'nie-organiese liedjie' wat anders is as wat ons gewoond is van Joshua Na Die Reën. 'n Liedjie wat sy oorsprong kry van sterrekyk saam Jacques se dogtertjie. As jy op die gras lê en jou hande soos verkykers voor jou oë hou lyk dit soos ‘n sterre-net. Hy lag daarna en vertel hoe hy soms filosofies raak en is dankbaar vir sy vrou wat hom weer aarde toe bring. Hy kry ‘n knop in sy keel as hy oor haar praat en begin eerder sing.

'Vlieërs' is geskryf deur Liani en Jacques, 11 uur in die aand. Ons voel soms of ons “disconnected” is van almal. Dis genoeg om net te wees by mense. Vlieërs voel of hulle rondsweef maar eintlik is hulle nog "connected."

Soos kindertjies by die kleuterskool met storietyd hang ons aan Liani se lippe soos sy ons vertel van die liedjie, 'Mossie', se agtergrond. Sy kleur elke detail so mooi in dat mens amper vir Ouma Botha (Liani se ouma) voor jou kan sien. Sy vertel van hoe Ouma Botha se 4de kind gestremd was a.g.v probleme met geboorte. Sy was self amper dood en die baba was agtergelaat terwyl hulle vir haar lewe geveg het. Hulle het egter ‘n hartklop gekry en die babatjie het oorleef. Sy het downs sindroom gehad.... en was spasties. Hulle het in 'n klein dorpie in die Noordwes gebly genaamd Piet Plessis en sy sou na ‘n inrigting moes gaan. Haar ma het gekies om haar self te versorg. Sy vertel van die waslappie wat sy altyd byderhand gehad het om haar mond skoon te hou. Elke middag het Mossie poeding gekry en haar ma het so geniet om met ander te deel hoe sy haar tong klap soos sy haar Malva Poeding geniet. Sy het 50 jaar oud geword. Hulle is saam ouetehuis toe. Haar ma het nooit gekla nie en was altyd op die agtergrond besig om vir haar te sorg. Liani het die liedjie oor haar legende Ouma geskryf en kon dit eers op haar begrafnis sing. “Mossies is nie "glamorous" voeltjies nie", sê sy.

Die ''front-runner" van Bittereinder, Jaco van der Merwe, kom bietjie benoud saam op die verhoog, want vir die eerste keer gaan hy op ‘n verhoog sing en nie net Rymklets nie, wat eintlik mos sy ding is. Liani vertel hoe sy gedink het Jaco is baie "cool" toe sy hom ontmoet het. Toe sy hom leer ken het, besef sy, hy is net soos ons. Jaco het 'Gewoond' spesiaal vir die album geskryf. Al is Rymklets sy ding, kan hy ook baie mooi sing!



Ek sien die vrou wat langs my sit neem baie fotos van Liani en lag saam met haar grappies. Ek vra haar of sy familie is. Sy sê Liani voel vir haar soos haar sussie, hulle het saam arbeidsterapie studeer en is goeie vriendinne. Haar naam is Corinne.

'Herontmoeting', net soos meeste van Liani se liedjies, vertel ‘n storie wat jou hart aanraak. Sy vertel hoe hierdie die moeilikste/emosioneelste een is om te sing. Die lied is geskryf vir Tom Gouws. “As iemand naby jou oorlede is, voel jy of jy in ‘n vreemde land bly.  Jy ry in ‘n bootjie en hulle gedagtes is soos lampies vir jou pad". Liani het by hom geleer om haar liedjieskryf gawe aan te vul, het ek by Corinne wysgeraak. Liani het my later self vertel dat Tom se uitsonderlike digterlike vernuf haar geleer het om meer simbolies te skryf. Soos hy altyd gesê het “to show, not tell”.

Corinne vertel my hoe mens dalk versoek kan wees om te dink Liani se mooi van haar storie begin nou eers maar dat die storie tot dusver vir haar juis soveel mooier is. Sy het altyd gesing waarookal sy geleentheid kry, by kerk-kampe, troues, funksies en verjaarsdae, maar net as 'n stokperdjie. Sy wou eers fokus om haar 5 mossietjies groot te maak. Haar 5 seuns...




By een kamp 3 jaar terug, het ‘n vrou haar genader en aangemoedig om musiek na te jaag. Sing was nog altyd haar passie. Terwyl sy haar kinders grootmaak en arbeidsterapeut is, het sy tussendeur gesing en liedjies geskryf. “Haar stories sover is reeds so mooi om op te noem”, nie net vorentoe nie, maar ook wat gelei het tot haar eerste album vrystelling. Dit herinner my dat jou pad jou bring waar jy nou is, dis alles deel van jou storie, ons moet ons pad, ons proses, respekteer.

'Charmonix' gaan oor ‘n baie hartseer gebeurtenis, Jacques en sy vrou se miskraam en die dogtertjie wat vernoem sou word na die pieke van die berge.

Die laaste liedjie van Liani word weer in reënboog-kleur geverf. Dis ‘n storie van ‘n groen plaas Ford wat soos ‘n boot lyk, hy "start" met ‘n lepel wat eenkeer ‘n jaar Hartenbos toe ry. In die Ford met sy groen gordyne, blou seil en bagasie vasgemaak met rooi toue, eet hulle heeltyd tuisgemaakte padkos oppad see toe. Maar eintlik gaan die liedjie oor haar pa. Haar pa wat nie gesê het met woorde hy is trots op haar nie. Haar pa wat ook nie, met woorde, gesê het hy is lief vir haar nie, maar sy weet hy is. Ek dink baie van ons kan assosieer met haar pa wat op ander maniere as woorde sy liefde wys. Hy is haar skuilplek. Sy dring in sy tent in om hulle verhouding te versterk. Dis haar lied vir haar pa. Hy is altyd dieselfde en speel 'n onwankelbare rol in haar lewe as 'n skuilplek en tent.

Hulle bedank ‘n string mense wat elkeen ‘n deel was van ‘n suksesvolle aand, van klerekas tot verhoog, klank en meer. Jacques bedank vir Alishia van Starburst Promotions wat “agter ons loopbane staan" en besluit wat die publiek van hulle sien, of nie sien nie. Liani bedank haar man Kalla wat “in my geglo het vandat ek hom ken” en bedank haar gesin dat hulle haar die weke ruimte gegee het wat die album opneem geverg het. Jacques bedank sy vrou en sien uit na "roadtrips" saam met haar noudat die album klaar is.

Jacques bedank die motiveerders wat “ons kans gee om te droom”. Danksy hulle “kan ons die pad loop wat julle vir ons gehoop het”. Ons onderskat soms ons deel in 'n ander se pad en die positiewe effek wat ons motivering kan hê...

'Sweef' en dan 'Branders', sluit die aand op ‘n hoë noot af, "pun intended." Jacques sê die inpsirasie vir die liedjie was toe hy op ‘n strand sit en besef ons almal leef eintlik net vir Desembers. Hy het oorweeg om ‘n komiese liedjie te skryf oor die tema, maar hy sê hy is nie goed daarmee nie, so toe skryf hy maar ‘n diep een.

Tevrede en met harte vol musiek gaan ons huistoe met een moeilike keuse, watter een van die CD's speel ek eerste oppad huistoe???


Geskryf deur Melissa Viljoen

Fotografie deur Lenetjie Von Wielligh
       

Liani, Jacques en Alishia van Starburst Promotions










'n klein vonk kan 'n groot woud laat brand #nasieinspirasie






Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die klippie in my skoen - geskryf deur iskra

Wat 'n knaende verraad! Daardie klippie in die skoen. Daardie ding wat krap en pla en mens soms verleë laat. Dis 'n pes as jy dalk jaag van hier na daar, soveel dinge wat aan jou trek; jou aandag vat; daar is nie tyd nie! Vir jou om net te kan sit, skoen uittrek en die verdomde ding uitgooi! Pfffeeeu...! Wat 'n verligting as hy eers weg is! So klein dingetjie met soveel praat in sy kneuse...daardie klippie in die skoen. (Talk about rubbing me up the wrong way!) Ons het almal maar ons klippies. Klein goedjies wat haak en pla. Daagliks knaag dit aan ons..maal dit rond in ons koppe, laatnag, wannneer ons eintlik moet slaap... Ons veiligheid. Ons kinders se toekoms, gesondheid. Hoe gaan jy hierdie maand daardie rekening betaal? Jou huwelik of 'n vriendskap is dalk op 'n snaakse plek of selfs naby skipbreek? Dalk ons eie gesondheid wat 'n lelike rapport gekry het... 'n finale een...wat jou asem weggeruk het...wat jou, die mense om jou, dae en minute met '

Vir Die Voëls - Premiere & Resensie

#NasieInspirasie was genooi deur Starburst Promotions na die Premiere van "Vir Die Voëls" - 'n Film wat gebasseer is op die ware verhaal van Irma Humpel en Sampie De Klerk  (Vertolk deur  Simoné Nortmann  en Francois Jacobs - Foto) Sou mens kyk na die diereryk en die natuur in geheel is daar beslis baie lewenswaarhede wat daaruit gering kan word. So word dit ook vertel in die nuwe film en impakvolle storie van Irma Humpel en Sampie De Klerk, se "Vir die Voëls . Huisgenoot het hulle 100ste bestaansjaar gevier, 'n kompetisie geloods en lesers genooi om hulle liefdesverhaal te deel. Huisgenoot vertel die wenner se storie op die silwerdoek met behulp van Kyknet en Factory Films. "Vir die Voëls" vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van

#Bakgat Gesondheidsbeskuit

My ouma het altyd gesê: “As jy kan lees, kan jy bak”. Ek het dit altyd geglo en wyd en syd verkondig, maar vandat ek self begin bak het vir ‘n lewe, het ek agtergekom dat jy meer leer met ondervinding as wat enige resep jou kan vertel. Soos ek dan nou hierdie resep met julle deel, deel ek dan ook my ondervinding, wat ‘n paar vrae dalk vir julle sal opklaar en natuurlik die mite dat beskuit moeilik is om te bak van die tafel afhaal. Bestandele: 1kg Bran Rich Self Raising Flour  (of gewone self raising flour as jy nie so baie van semels hou nie) 10ml Bakpoeier 10ml Sout 125ml Klapper 250ml Sonneblom sade 100ml Rosyne 50ml fyn gekapte neute van jou keuse 500ml All Bran Flakes  (goedkoper bran flakes ook goed, maar proe nie so lekker nie) 250ml Suiker (wit of bruin, maak nie saak nie) 500ml Oats (maak nie saak watter ‘brand’ nie) 500g Botter (gesmelt) 500ml Karringmelk Hierdie is die basis waarvan af ek werk. As ek nie bv. Oats of rosyne het nie, sal ek dit vervang met dieselfde